Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Spesiale uitreik om kindergesondheid te bevorder
Outeur: Western Cape Government Health and Wellbeing
Gepubliseer: 09/09/2024

​'n Plakker op jou eie voorkop, eenbeentjie spring of kans gee vir verwondering oor jou weggooibare handskoene – alles is ingespan om 'n unieke gesondheidsuitreik na kwesbare kinders vlot te laat verloop.

Die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid en Welstand sê dankie aan die studente van die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe wie hul praktiese ervaring in die Kaapse Wynland-omgewing doen, en ander vennote wie 12 Augustus besoek afgelê het aan Steinthal Kinder- en Jeugsorgsentrum naby Tulbagh. Met die hulp van mentors, baie 'high fives' en die uitdeel van mooi plakkers, is sowat 35 kinders se gesondheid geëvalueer. Die meerderheid van die kinders was in die ouderdomsgroep van twee tot ses jaar. Die doel van die uitreik was om te bepaal of daar kinders is wie verdere ondersteuning benodig as dit kom by motoriese ontwikkeling, voeding, gehoor, spraak, sig, en meer.

Finale-jaar mediese student Thembani Maswanganye was by die stasie waar kinders se welstand oor die algemeen nagegaan is, en toe hy kans kry, het hy ook uitgehelp by die stasie waar spraakevaluering gedoen is. Hy sê hoewel die besoek deel is van sy akademiese aktiwiteite, het hy dit baie geniet om iets te doen wat hy weet 'n verskil maak in 'n kwesbare gemeenskap.

“Om deel te wees van hierdie uitreik, het my diep geraak," sê Carla Scholtz, ʼn vierdejaar jaar Spraak-taal- en gehoorterapie student. “Vir my het dit die groot nood aan dienste in sekere gemeenskappe uitgelig. Deur die gehoorsifting en spraakevaluerings te kon doen het my die kans gegee om eerstehands te sien hoe belangrik vroeë identifisering is om die kind se kommunikasie-uitkomste te verbeter. Ek is meer as ooit vasbeslote om die gapings in sorg en dienste te oorbrug en om te veg vir mense wie andersins dalk nie gehoor sou word nie."

Steinthal Kinder- en Jeugsorgsentrum se bestuur het vroeër navraag oor gesondheidsdienste aan die universiteit se Afdeling Landelike Gesondheid (Ukwanda) gerig, aangesien hulle gesondheidwetenskappe studente het wat in Worcester en Ceres geplaas is. Rolspelers het ontmoet en reëlings getref vir 'n spesiale uitreik.

“Ons werk nou saam met personeel by Ukwanda om studente wie hul studies in gesondheidsorg en verwante velde voltooi, die geleentheid te gee om ervaring op te doen by klinieke, hospitale, en meer. Hoewel Steinthal se kinders net soos ander persone in die gemeenskap ondersteun word by Tulbagh Kliniek, het ons graag die kans aangegryp om te kyk hoe ons verdere steun kan gee," sê Madelein Bester wie deel is van die departementspan wat die uitreik ondersteun het. “Baie dankie aan die studente van Ukwanda, wat studente ingesluit het van die mediese-, arbeidsterapie-, spraak-taal- en gehoor terapie, en dieetkunde programme," sê Bester.

Die uitreik was 'n unieke geleentheid om te kon saamwerk met kollegas van die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid en Welstand en ander gemeenskapsvennote met wie ons jarelange verhoudings het," het Elria Joubert van Ukwanda gesê. “Ons was oorweldig deur hul welwillendheid om op kort kennisgewing hul tyd en hulpbronne beskikbaar te maak en op 'n langer termyn betrokke te bly by Steinthal Kinder- en Jeugsorgsentrum. Verder het dit nie net 'n geleentheid geskep om studente se leeruitkomste op 'n praktiese manier te bereik nie, maar ook hul harte te raak. Dit was 'n ervaring wat ons en ons studente altyd sal bybly."

Die plaaslike gesondheidspan, insluitend die span wat dienste in die gemeenskap lewer, sal opvolg met die kinders soos geïdentifiseer deur die uitreikspan. In sommige gevalle het die kinders tandheelkundige dienste nodig, en ander gevalle spraak- en oudiologie dienste. Die verpleegkundige wie omsien na skolegesondheid, sal steeds elke kwartaal uitreik na Steinthal, met ʼn fokus op die uitdagings wat na vore gekom het, en skakeling met ander kenners soos nodig. Waar moontlik sal Steinthal se personeel ook bemagtig word om uitbrake van siektes te voorkom.

"Ons innige waardering aan mnr Geweldt, Elria Joubert, Jana Müller, dr Titus en personeel dat julle die dag moontlik gemaak het," het me Charmaine Prince, die bestuurder van Steinthal, gesê namens die organisasie. “Dit is net deur jul vriendelikheid en toewyding dat die 35 kinders hierdie sorg en aandag gekry het."

 

Foto-onderskrifte:

Carla Scholtz by die stasie waar gehoorevaluering gedoen is by die uitreik aan Steinthal Kinder- en Jeugsorgsentrum.

Finale-jaar mediese student mnr. Thembani Maswanganye tydens 'n uitreik aan Steinthal Kinder- en Jeugsorgsentrum.