Die onlangse 12de jaarlikse Frederik Van Zyl-Slabbert-erelesing was 'n meesleurende ervaring vir die gehoor in die stampvol Endlersaal op die hoofkampus van die Universiteit Stellenbosch (US).
Vanjaar se lesing is deur die Jemense joernalis, menseregte-aktivis en 2011 Nobel-vredespryswenner Tawakkol Karman gelewer. Sy het 'n passievolle oproep aan Afrika-jeug gelewer het om demokrasie te verskans deur die handhawing van grondwetlike regte. Die tweede deel van die program het 'n uitmuntende optrede deur die US se wêreldbekende koor ingesluit wat die kosmopolitiese gehoor op hulle voete gehad het.
Die tema van vanjaar se lesing was 'n besinning oor 30 jaar van demokrasie in Suid-Afrika en hoe Afrika-jeug burgerleierskap deur konstitusionalisme kan demonstreer. Die geleentheid is deur die US se Frederik Van Zyl Slabbert Instituut vir Studenteleierskapsontwikkeling in vennootskap met die US se Japan-sentrum en die sesde Suid-Afrika-Japan Universiteite (SAJU) Forum aangebied.
Onder die eregaste was talle internasionale akademici wat die SAJU-forum bygewoon het, asook lede van die US se senior bestuur, insluitend die Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers en prof Deresh Ramjugernath (Viserektor: Leer en Onderrig).
Karman, die eerste Arabiese vrou wat die Nobelprys vir Vrede ontvang het, het haar reis as menseregte-aktivis en joernalis in Jemen gedeel.
Die afwesigheid van die tweede hoofspreker Namati Kwekweza, 'n Zimbabwiese menseregte-aktivis en wenner van die 2023 Kofi Annan NextGen Demokrasie-prys, is met 'n aangrypende gebaar erken – 'n leë sitplek op die verhoog. Dr Heidi October, hoof van die Frederik Van Zyl Slabbert Instituut vir Studenteleierskapsontwikkeling en Adjunkdirekteur van die Sentrum vir Studentelewe en Leer, het verduidelik sy word tans in Zimbabwe aangehou.
Kwekeza se inhegtenisname herinner veral jongmense daaraan dat demokrasie soms 'n duur gekoop is, het October opgemerk. “Ons dink aan haar en ons sal met haar organisasie, WELEAD Trust, in aanraking bly om ondersteuning te bied," het sy gesê.
Konstitusionalisme as instrument vir verandering
Karman het aan die begin van haar toespraak 'n toegeneentheid jeens en verbintenis tot Suid-Afrika uitgespreek, 'n land wat sy as haar eie beskou weens sy historiese stryd om geregtigheid en gelykheid.
“Nelson Mandela was nog altyd, en is steeds, my held. Ek onthou hoe ek, toe ek my vreedsame stryd begin het, sy foto in my kantoor gehang saam met dié van Mahatma Gandhi en Martin Luther King," het Karman gesê.
“Ek is ook trots daarop dat Suid-Afrika Desmond Tutu se land is. Hy is een van die belangrikste mense wat my geïnspireer het om my stem te laat opklink en vir vryheid te veg en my gewys het hoe om vreedsame protes te bewerkstellig. So, dankie Suid-Afrika dat jy hierdie groot geskenk aan die mensdom gegee het."
Karman het vertel hoe sy, ondanks vervolging, die Jemense Grondwet gebruik het om haar aktivisme te regverdig en só gedemonstreer het hoe mense in selfs die mees onderdrukte omgewings grondwetlike regte kan aanwend om outoritêre mag uit te daag.
“Die Jemense Grondwet, wat uit die historiese samesmelting van Noord- en Suid-Jemen ontstaan het, het ongeag verskeie tekortkominge sekere belangrike regte gewaarborg, insluitende die reg op vryheid van uitdrukking en die reg op byeenkomste.
“Ons het geen ander regte in my land gehad nie, maar met daardie twee deurslaggewende regte het ek vir myself gesê: 'Goed, ek het hierdie belangrike regte in die Grondwet, so ek kan dit uitoefen ongeag of die regering dit aanvaar of nie. Dis my grondwetlike reg.
“Dit is hoe ek my reis as joernalis begin het en het baie sterk-bewoorde artikels teen die diktator geskryf. Wanneer iemand my probeer muilband het, het ek geantwoord: 'Ek oefen my grondwetlike regte uit.' Dit het my in staat gestel om my organisasie, Vroue-joernaliste Sonder Grense te stig," het Karman verduidelik.
Karman het haar nie laat afskrik deur druk van die regering en veiligheidsmagte in Yemen om haar organisasie se naam en fokus te verander nie, selfs nadat sy in hegtenis geneem en aangehou is.
“Aan die begin was dit baie moeilik. Ek was letterlik die enigste betoger en is as die 'mal vrou' beskryf deur die diktator wat gesê het: 'Moenie na haar luister nie; sy is net 'n vrou. Die samelewing sal haar nie volg nie.' Hulle het nie die rol van vroue erken nie, wat nog te sê van 'n 'mal vrou' wat vra dat mense teen die diktator moet opstaan. Maar dit is presies wat ek gedoen het. Ek het die strate ingevaar en mense aangemoedig om saam met my hulle stemme te verhef om Jemen te red."
Sy het die Suid-Afrikaanse gehoor aangemoedig om dieselfde te doen: “Wanneer jy jou burgerlike leierskap deur die Grondwet uitoefen, vertoon jy die krag van demokrasie."
Karman se boodskap was duidelik: Ware verandering word nie deur geweld bewerkstellig nie, maar deur die volgehoue en vreedsame optrede van burgers wat hulle regte uitoefen. Sy het roerend vertel hoe miljoene Jemenitiese mans en vroue aan vreedsame optogte deelgeneem het wat uiteindelik tot die afsetting van Jemen se diktator in 2011 gelei het.
'Beste grondwet ter wêreld'
Karman het Suid-Afrika se viering van 30 jaar van demokrasie beklemtoon en jongmense aangemoedig om eienaarskap vir hulle rolle as beskermers en kampvegters van demokratiese beginsels te aanvaar.
Met 'n eksemplaar van Suid-Afrika se Grondwet in die hand, het Karman 'n passievolle beroep op die gehoor gedoen. “Dit is die beste grondwet ter wêreld. Julle het 'n merkwaardige grondwet wat deur die opofferings van julle vaders, moeders, oupas en oumas gesmee is. Hierdie Grondwet is iets wat julle moet beskerm en verdedig. Julle moet die hoop wat dit verteenwoordig, vertroetel en verseker dat dit elke dag, elke minuut, elke sekonde geïmplementeer word. Dít is julle stryd.
“Moenie vra 'Wat het hierdie Grondwet ons gegee?' of 'Wat het demokrasie ons gegee ?' nie. Nee, dit is nie die demokrasie of die Grondwet se skuld nie; die fout lê in hoe demokrasie uitgeoefen word en hoe julle wonderlike Grondwet geïmplementeer word.
“Wanneer ek hoor hoe sommige jongmense 'n gevoel van hopeloosheid uitspreek, voel ek baie bekommerd. Julle verraai die bloed van voorvaders en julle eie toekoms wanneer julle twyfel aan demokrasie of die Grondwet. Julle missie is duidelik: Beskerm Suid-Afrika se demokrasie, verdedig die Grondwet, en inspireer ander regoor die wêreld deur vreedsame aksies."
Sy het die gehoor daaraan herinner dat die uitdagings wat Suid-Afrika in die gesig staar – insluitend korrupsie en ongelykheid –deur aktiewe burgerskap aangespreek kan word en deur leiers aanspreeklik te hou. “Julle Grondwet gee julle die instrumente. Gebruik dit om korrupsie te beveg, om die gaping tussen ryk en arm te oorbrug en om sosiale geregtigheid te eis," het Karman benadruk.
Karman het ook verwys na die bedreigings vir demokrasie in Afrika en die Midde-Ooste en opgemerk hoe outoritêre regimes en eksterne magte, insluitend Westerse lande, dikwels demokratiese bewegings ondermyn. Sy het die jeug aangemoedig om teen sulke bedreigings te waak en het beklemtoon dat demokrasie nie onder militêre bestuur kan bestaan nie. In die lig van die huidige wêreldwye magstryd, het Karman Afrika-nasies aangemoedig om sterk vennootskappe te sluit wat hulle mense werklik bevoordeel en gewaarsku teen nuwe vorms van koloniale uitbuiting wat as hulp of ontwikkeling vermom word.
Wêreldwye geregtigheid en vryheid
In 'n breër kritiek van globale ongelykheid het Karman op die groeiende gaping tussen ryk en arm lande gewys – 'n kloof wat deur globalisering vererger word. Sy het vir bindende internasionale meganismes gepleit wat sal vereis dat ryk lande 'n gedeelte van hulle inkomste tot die ontwikkeling van armer lande, veral in Afrika, bydra. Sonder sulke ingryping, het sy aangevoer, sal armoede en onstabiliteit steeds die vasteland teister.
Karman het Suid-Afrika geprys vir sy dapper standpunt oor die Palestynse kwessie, en die regering geloof vir hoe hulle Israel aanspreeklik hou vir menseregtevergrype. Sy het afgesluit met 'n beroep op jong Suid-Afrikaners om trots te wees op die integriteit van sulke leierskap en om hulle te beywer vir wêreldwye geregtigheid en vryheid.
Prof Cheryl Hendricks, Uitvoerende Direkteur van die Instituut vir Geregtigheid en Versoening, het repliek gelewer op Karman se lesing deur by n gesprek betrokke te raak oor die huidige stand van demokrasie in Suid-Afrika en hoe Suid-Afrikaanse jongmense geïnspireer kan word om die mantel van demokratiese leierskap op te neem. Hendricks het Karman se oproep vir jong Afrikane herhaal om hulle rol as die beskemer van konstitusionalisme te omarm en hulle leiers aanspreeklik te hou.
Prof Scarlett Cornelissen, 'n dosent in Politieke Wetenskap en Direkteur van die US Japan-sentrum, het ter afsluiting Karman vir haar inspirerende boodskap van hoop en beywering vir 'n beter wêreld bedank. Cornelissen het die gehoor daaraan herinner dat demokrasie nie vanselfsprekend is nie; dit verg voortdurende inspanning oor generasies heen.
• Die jaarlikse Frederik van Zyl Slabbert-gedenklesing het ten doel om 'n platform vir studenteleiers, akademici, alumni en die breër internasionale gemeenskap te skep om krities by huidige demokratiese en regeringskwessies betrokke te raak.
FOTO: Stefan Els