In 'n kragtige vertoon van akademiese samewerking het die Universiteit Stellenbosch (US) vandeesweek sy jaarlikse Visekanselierslesing aangebied en prof Mosa Moshabela, die nuutaangestelde Visekanselier van die Universiteit van Kaapstad (UK) en voorsitter van die Beheerraad van die Nasionale Navorsingstigting, as geleentheidspreker verwelkom.
Die lesing, getiteld "Samewerking is die nuwe mededinging: die toekoms van volhoubare hoër onderwys in Suid-Afrika", het 'n diepsinnige visie vir die toekoms van die sektor gebied en geleenthede vir groter samewerking tussen die buuruniversiteite uiteengesit.
Prof Pumla Gobodo-Madikizela, bekleër van die SARChI-leerstoel vir Gewelddadige Geskiedenis en Historiese Trauma en die stigtersdirekteur van die Sentrum vir die Studie van die Nadraai van Geweld en die Strewe na Herstel (AVReQ), het die geleentheid, wat by die US Museum gehou is, geopen. Sy het die toon aangegee met 'n warm en feestelike inleiding en het dit "'n geskiedkundige gebeurtenis" genoem.
Gobodo-Madikizela, die onlangse ontvanger van die gesogte Templeton-prys, het haar diepe bewondering vir Moshabela uitgespreek en hom as 'n leier beskryf wat deurgaans 'n verbintenis toon om mense bymekaar te bring. Sy het die US se Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, en sy vrou, Catherine, bedank vir die aanbieding van die lesingreeks.
Die geleentheid, wat gesamentlik deur AVReQ en die US Sentrum vir Samewerking in Afrika gekoördineer is, het top-US-akademici, lede van die Rektoraat en studente, asook uitgelese gaste soos die voormalige visekanseliers van die UK, proff Njabulo Ndebele en Mamphela Ramphele, byeengebring.
De Villiers het in sy verwelkomingstoespraak vertel hoe merkwaardig dit is om soveel visekanseliers en rektore saam in 'n vertrek te hê. Te midde van die vriendelike geskerts en verwysings na die historiese wedywering tussen twee van Suid-Afrika se topuniversiteite – die die US én die UK is formeel in 1918 gestig – het De Villiers die gehoor daaraan herinner dat universiteite inherent komplekse instellings is wat tot maatskaplike vooruitgang bydra, terwyl hulle ook komplekse globale uitdagings die hoof moet bied.
"'n Visie van samewerking oor mededinging spreek direk tot die toekoms van hoër onderwys in Suid-Afrika, 'n toekoms wat sal vereis dat ons moet herbesin oor die manier waarop ons funksioneer, kennis deel en vennootskappe tussen instellings bou. By die Universiteit Stellenbosch is doelgerigte vennootskappe en inklusiewe netwerke eintlik een van ons kern strategiese temas.
"Hierdie geleentheid stuur dus 'n baie kragtige boodskap uit dat daar, ondanks die uitdagings wat ons in die gesig staar, groot waarde daarin is om bymekaar te kom. Nie net om ons suksesse te deel nie, maar ook, baie belangrik, om ons probleme die hoof te bied en nuwe moontlikhede vir groei en ontwikkeling te bedink," het De Villiers gesê.
Voertuie vir verandering en impak
Moshabela het hierdie sentimente beaam toe hy 'n beroep op universiteite gedoen het om bo die tradisionele model van mededinging uit te styg en 'n meer samewerkende benadering te volg om gedeelde uitdagings die hoof te bied. Hy het aangevoer dat die toekoms van volhoubare hoër onderwys in Suid-Afrika van instellings afhang wat saamwerk, eerder as om teen mekaar mee te ding.
"Die goed wat ons saambind, is die verskil wat ons in die wêreld maak, die impak wat ons op die samelewing het," het Moshabela gesê. "Dit is belangrik om kennis te neem van die oomblik waarin ons is. Die hedendaagse uitdagings is so uniek en so anders, nie net in Suid-Afrika nie, maar regoor die wêreld, dat ons nie regtig net uit ons individuele krag kan put nie. Ons moet saamwerk en saamstaan, meer nog omdat daar nie meer net van universiteite verwag word om op hulle eie interne uitdagings te reageer nie, maar ons is onder groot druk om op eksterne druk te reageer."
Universiteite is simbole van hoop en word as die "breinvertroue van die nasie" gesien, het hy aangevoer. "As ons gaan baklei oor wie die beste in die land is, verloor ons uit die oog dít wat werklik saak maak." Ons instellings moet voertuie vir verandering en impak in die samelewing wees, nie net vir die lewering van gegradueerdes nie, maar om by te dra tot die algemene belang, het Moshabela aangevoer. Hy het wyle prof Bongani Mayosi aangehaal wat gesê het: "Wat is die punt daarvan om nommer een in 'n see van armoede en stryd te wees?"
"Dit raak moeilik om jou voorregte en jou sukses as instelling te geniet en te vier wanneer jy deur soveel ellende omring word. So, ons moet nadink oor hoe om die beste vir die land te wees, hoe om die beste vir die vasteland te wees en hoe om die beste vir die wêreld te wees," het hy gesê.
Moshabela se oproep tot samewerking strek verder as die grense van individuele universiteite en moedig leiers aan om na die verlede vir inspirasie en leiding te kyk. Hy het die werk van die Kaapse Hoëronderwyskonsortium, 'n inisiatief wat dekades gelede gevorm is, beklemtoon as 'n voorbeeld van die versiendheid en visie van vorige geslagte akademici. Moshabela het die belangrikheid van uitruiling tussen geslagte beklemtoon en gesê die ervaring en kennis van vorige leiers kan waardevolle insigte vir die huidige en toekomstige geslagte bied.
"Wanneer jy 'n visekanselier is, moet jy aan die toekoms dink. Baie van die dinge waaraan ons nou dink, sal 30, 40 jaar van nou af 'n impak hê. Volhoubaarheid beteken om seker te maak dat ons 'n instelling oorhandig wat in 'n uitstekende posisie vir toekomstige geslagte is."
Moshabela het dieper gedelf in die ingewikkelde uitdagings wat universiteite in die gesig staar, insluitende die invloed van maatskaplike kwessies soos armoede, misdaad en geslagsgebaseerde geweld op hulle bedrywighede en studentewelstand. Hy het beklemtoon dat universiteite verder moet gaan as hulle tradisionele akademiese rolle en aktief met die burgerlike samelewing in gesprek moet tree om hierdie dringende kwessies aan te spreek.
Terwyl vorige generasies politieke bevryding en onrus moes hanteer, word kampusse vandag hoofsaaklik aan die ekonomiese stryd van studente blootgestel. "Daar is soveel armoede wat van een geslag na die volgende oorgedra word. Wat deels van ons verwag word om te doen, is om daardie siklus te breek."
Uitdagings wat die beste saam aangespreek word
Moshabela het openhartig gepraat oor die finansiële beperkings waarmee baie hoëronderwysinstellings worstel, en daarop gewys dat die dalende beskikbaarheid van staatsfinansiering 'n kritieke kwessie is. Dit, tesame met die toenemende vraag na toegang tot onderwys en die sosio-ekonomiese druk op studente, skep 'n wisselvallige omgewing wat universiteite versigtig moet navigeer, het hy gesê.
Ter beklemtoning van die rol wat onderwysers speel selfs nadat leerders die skool verlaat en universiteit toe gaan, het Moshabela daarop gewys dat studente se sukses afhang van die ondersteuning af wat hulle kry. Die sukses van hoër onderwys berus op die sukses van basiese onderwys, het hy beklemtoon. "Die fragmentasie wat tans tussen hoërskole en universiteite bestaan, is 'n probleem. Die nuwe groep leiers wat inkom, sal hierdie siklus moet breek en modelle moet vind om dinge anders te doen."
Moshabela het ook opgemerk dat studente oor die afgelope twee dekades verander het en verskillende behoeftes het. "Die ding wat my die meeste tref, is dat studente vandag vir jou sal sê wanneer hulle ongemaklik is oor iets. Hulle sal jou vertel wanneer hulle gestres of depressief is of sukkel met geestesgesondheidsprobleme.
"Ons gebruik steeds dieselfde instrumente om hulle te onderrig en op te voed, maar hulle daag die diskoers uit. Hulle vra ons om dinge anders te doen. Mense wil meer persoonlike aandag hê, wat vir ons moeilik is omdat ons gestandaardiseerde benaderings gebruik. Studente is meer sosiaal bewus, en hulle wil hê ons moet omgee vir samelewingskwessies. Ons moet na hulle luister en probeer reageer, want ons stelsels is argaïes."
Met verwysing na die impak van vinnig veranderende tegnologie en kunsmatige intelligensie, het Moshabela gesê sulke uitdagings word die beste saam aangespreek, eerder as wanneer instellings op hulle eie aanpak. Hy het die potensiaal vir samewerking geïllustreer deur na 'n onlangse gesprek te verwys wat hy met 'n navorser gehad het wat die behoefte dat die UK het 'n kriogeniese elektronmikroskoop (cryo-Em) moet aankoop het, verduidelik het.
Die koste van nagenoeg R100 miljoen vir die hele ekostelsel is nogal skrikwekkend vir een instelling, het Moshabela laat deuskemer. Hy het na De Villiers gedraai en grappenderwys gesê: "Hoe kan ons nie die cryo-Em saam bekostig nie, Wim?" Die entoesiastiese applous het dit duidelik gemaak Moshabela se visie vir 'n meer samewerkende toekoms het by die gehoor aanklank gevind.
Die vraag-en-antwoord-sessie wat op die lesing gevolg het, het insig gegee in die kompleksiteite van die handhawing van 'n balans tussen akademiese vryheid en sosiale geregtigheid binne universiteitsomgewings. Moshabela het die uitdagings aangespreek wat instellings in die gesig staar om sensitiewe kwessies te navigeer, en het die behoefte aan deursigtige en konsensusgebaseerde besluitneming beklemtoon.
Die 2024 Visekanselier se jaarlikse lesing het as 'n tydige herinnering aan die krag van samewerking en die behoefte aan vooruitdenkende leierskap in die vorming van die toekoms van hoër onderwys gedien.