Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Solomzi Mphambo is ‘n trotse voorstander van swart feminisme
Outeur: Corporate Communications and Marketing
Gepubliseer: 29/08/2024

Ter viering van Vrouemaand laat die Universiteit Stellenbosch (US) die kollig val op buitengewone studente en personeel op ons kampusse wat hulle vir vroueregte en geslagsgelykheid beywer. Hulle bevorder positiewe verandering in ons gemeenskap deur hulle toewyding en leierskap. Solomzi Mphambo is 'n trotse feminis en 'n passievolle stem op kampus as lid van die Studenteraad (SR) wat verantwoordelik is vir die portefeulje Womxn en Queer-bemagtiging (WAQE).

Was daar 'n bepalende oomblik in jou lewe toe jou toewyding tot geslagskwessies posgevat het?

Ek dink ek was nog altyd 'n feminis en om as kind my ma se stryd as enkelouer te aanskou, het my bewus gemaak van die ongeregtighede wat swart vroue in ons samelewing beleef. Wat my toegewydheid versterk het, was toe ek feministiese tekste begin lees het, veral die werk van swart feministe. Dit het my die krag gegee om vir swart vroue op te staan en deel te word van belangrike gesprekke oor probleme wat ons as 'n samelewing in die gesig staar. Ek probeer altyd swart feminisme beliggaam wanneer ek by ruimtes instap.

Wie is jou rolmodelle?

Akademies beslis bell hooks, omdat sy so duidelik toon dat klassifikasies soos ras, geslag, seksuele identiteit en klas met mekaar verbind is en deur daardie interseksie te ignoreer, word onderdrukking teenoor vroue geskep. Wat populêre kultuur betref, is Beyonce my held. Ek hou van hoe sy haar altyd vir vroueregte beywer en dat sy besit neem van ruimtes vir swart vroue.

Vertel ons van jou familie en hoe hulle jou ondersteun het?

My familie was nog altyd baie ondersteunend. My ma en tannies en my ouma het my nog altyd omarm, ek is so lief vir hulle. As 'n queer persoon het hulle my nooit soos 'n buitestander in die familie laat voel nie en hulle het my nooit probeer inperk nie. Hulle het my vrye teuels gegee en toegelaat om met my lewe te doen wat ek wil.

Wat studeer jy en hoe beïnvloed dit jou aktivisme?

Ek is 'n BA-student met filosofie en politieke wetenskap as hoofvakke. My akademiese werk sluit goed aan by my aktivisme omdat die Womxn- en Queer-bemagtigingsportefeulje ten doel het om institusionele patriargie aktief teen te werk en die verkragtingskultuur en geslagsgebaseerde geweld (GBG) te beëindig. Al hierdie kwessies is ingewortel in ons sosiale en politieke landskap, so my akademiese werk bied aan my 'n grondslag om krities te dink oor maniere om vroue en queer mense te bemagtig en te help.

Hoe ondersteun en bemagtig jy queer studente op kampus, en watter inisiatiewe het jy in werking gestel om 'n veilige en inklusiewe omgewing te skep?

Die afgelope jaar het ons baie gesprekke op kampus gehad oor geslagsgebaseerde geweld, queer identiteit en homofobie. Een van die uitdagings wat ons geïdentifiseer het, is om die stemme van mans by hierdie besprekings in te sluit, want dit is altyd meestal vroue wat deelneem.

Ons het gehoop om 'n konferensie vir mans te fasiliteer, maar die logistiek hiervan was te veel van 'n uitdaging. Ons het besluit om eerder 'n Gendergelykheidsweek op kampus aan te bied wat vandeesweek plaasvind om almal na die gesprek te nooi.

Ons belig geslagsgelykheid, bied betrokkenheid by geslagsdinamika en queer identiteit deur middel van literatuur en musiek, asook om ons veerkragtigheid in die stryd teen GBG te vier. Om die einde van Vrouemaand te vier, hoop WAQE om nie net bewustheid oor geslagsongelykheid en die voortslepende geweld teen vroue en queer individue te verhoog nie, maar ook om diskoers oor geslagsgelykheid aan te moedig.

Watter stokperdjies of aktiwiteite geniet jy?

Ek hou daarvan om gedigte te skryf en my werk voor te dra. Dit help my om hartseer te hanteer en sin te maak van die uitdagings van die lewe. Ek is 'n ywerige leser. Ek verkies boeke wat my begrip van feminisme verdiep, want dit is 'n baie breë ideologie. Ek geniet ook sosiale media. Die platform waaraan ek die meeste tyd spandeer, is X (voorheen Twitter), dit is die mees outentieke een. Dit is baie insiggewend en daar is altyd interessante diskoerse aan die gang.

Hoe sou jy jou ondervindings by die US beskryf?

Dit was sover 'n insiggewende en verrykende ervaring. Ek kom uit 'n agtergrond waar ek nie bewus was van die transformasie wat by die US plaasgevind het nie. Daar is nog 'n mate van afleer wat sommige mense moet doen, maar oor die algemeen voel ek gemaklik hier en geniet ek my ondervindings by die US. Ek het besluit om by studenteleierskap betrokke te raak omdat ek wou deel wees van die transformasieproses. Ek glo die universiteitslewe is 'n mikrokosmos van die samelewing en ons het almal 'n verantwoordelikheid om daartoe by te dra om ons wêreld ten goede te verander. Dit is die plek waar jy regtig jou vooroordele laat gaan om 'n beter en gawer mens te word.

Is jy hoopvol dat ons GBG in Suid-Afrika kan beëindig?

GBG is 'n ingewikkelde probleem wat diep in die weefsel van ons samelewing ingeweef is. Jy benodig eerstens 'n bereidwilligheid om die verskillende lae van die probleem te ontrafel sodat ons kan verstaan waarmee ons te doen het. Ons het 'n lang pad om te stap om dit reg te kry, maar ons moenie moed verloor nie. Die regering kan baie meer doen word om slagoffers van GBG te ondersteun om die aanmeldingsproses minder traumaties te maak en om te verseker dat slagoffers die nodige hulp kry om nie in stilte te ly nie. Die regering moet 'n beter wetlike raamwerk en hulpbronne verskaf om kwesbare groepe te beskerm, maar as 'n samelewing is ons verantwoordelikheid om onsself op te voed en ondersteuning te bied waar ons kan. Ons moet voortgaan om eerlike en inklusiewe gesprekke te voer.

Hoe vier jy Vrouemaand?

Vrouemaand is 'n baie spesiale tyd van die jaar. Op Vrouedag lees ek graag weer die boeke waarvan ek hou om myself in die wysheid van vroue te verdiep. As swart feminis is ek baie geïnspireer deur die historiese onderbou van Vrouedag en Vrouemaand in Suid-Afrika. Die vroue-optog na die Uniegebou in 1956 was 'n groot simboliese oomblik wat die krag getoon het van vroue van alle rasse wat saam opstaan vir geregtigheid. Hierdie vroue, uit alle vlakke van die samelewing, het die patriargale en rassistiese stelsel getrotseer wat probeer het om hulle stil te maak en te beheer, en getoon dat kollektiewe optrede selfs die mees verskanste ongeregtighede kan uitdaag. Dit was so 'n monumentale gebeurtenis.

Die optog het nie net die weg gebaan vir toekomstige geslagte Suid-Afrikaanse vroue nie, maar vuur ook my verbondenheid aan om die stryd vir gelykheid en geregtigheid in ons samelewing vandag voort te sit. Ons kan ondanks ons stryd en ons verskille verenig om die gemeenskaplike vyand –  patriargie – te beveg.

FOTO: Stefan Els