Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Dr Jill Ryan bevorder bewustheid oor GBG en gelykheid
Outeur: Corporate Communications and Marketing
Gepubliseer: 28/08/2024

Ter viering van Vrouemaand laat die Universiteit Stellenbosch (US) die kollig val op buitengewone studente en personeel op ons kampus wat hulle vir vroueregte en geslagsgelykheid beywer. Deur hul toewyding en leierskap inspireer en bevorder hulle positiewe verandering. Dr Jill Ryan is die Koördineerder: Teengendergeweld by die US se Eenheid vir Gelykwaardigheid. Sy sê die stryd teen geslagsgebaseerde geweld (GBG) aan en werk sonder ophou om innoverende oplossings in hierdie veld te vind. Haar rol fokus op die kweek van ʼn veilige en inklusiewe omgewing binne die Universiteit deur onderrig- en ondersteuningsinisiatiewe.

Wat behels jou rol by die US? 

My hooffunksie behels die verskaffing van strategiese institusionele steun vir die US se reaksie op GBG. Dit beteken om bestuur met gedeelde verantwoordelikheid te skep, die instelling se anti-GBG-beleidsaktwiteite, -inisiatiewe en -aksieplanne deur ons Anti-GBG-moniteringskomitee te monitor, asook om opleiding en intervensies oor GBG-bewustheid te bied en sterker vennootskappe en samewerking te skep om op GBG te reageer. 

Wat is die mees bevredigende en uitdagende aspekte van jou werk?

Die grootste beloning is om positiewe uitkomste soos nuwe beleide en veldtogte te sien vlerke kry. Dit is ook inspirerend wanneer jy by projekte betrokke is en jy sien hoe bewustheid oor GBG en die verwante ondersteuningsdienste toeneem. In die Universiteitsomgewing is dit bemoedigend wanneer mense self die inisiatief met sulke projekte begin neem om nie net groter bewustheid te skep nie, maar ook die Eenheid vir Gelykwaardigheid nooi om deel daarvan te wees.

Die uitdaging is gedeelde verantwoordelikheid as teenvoeter vir stigmatisering en waninligting oor GGB en om veilige ruimtes te skep waar hierdie gesprekke gevoer kan word. Vir sommige personeellede en studente is dit nogal ʼn reis om te besef watter vorme GBG kan aanneem en om veilig genoeg te voel om hul gevoelens daaroor te verwoord.

Wat dink jy is die grootste hindernisse om GBG in Suid-Afrika op te los?

Daar is talle en sistemiese uitdagings. Vanjaar is een van die grootste uitdagings byvoorbeeld begrotingsbesnoeiings wat welsynsdienste raak, veral vir GBG- of geweldsvoorkoming. Ek is deel van ʼn geweldsvoorkomingsforum en verteenwoordig die hoëronderwyssektor saam met verskeie belanghebbers van nie-regeringsorganisasies (NRO's), die regering en die private sektor.  Begrotingsbesnoeiings raak die verskaffing van noodsaaklike dienste dermate dat sommige NRO's wat GBG-slagoffers ondersteun, moet sluit. Dis hoekom vennootskappe en samewerking so belangrik geraak het. Ons moet op mekaar steun vir hulpbronne en kundigheid en publiek/ private vennootskappe speel ʼn sleutelrol in hierdie verband.

Hoe werk jy saam met studenteleiers en ander belanghebbendes om GBG op die kampus te bestry?

Ek werk saam met alle strukture, verenigings en Studenteraad-portefeuljes op die kampus wat ʼn vorm van GBG-bewustheid of maatskaplike geregtigheidskwessies in hul werk insluit, hetsy dit personeel- of studente-inisiatiewe is. Dit gaan eintlik daaroor om sigbaarheid oor GBG te skep, maar ook oor tot wie ek my op kampus kan wend as jy, of iemand wat jy ken, deur GBV geraak word. Die Eenheid vir Gelykwaardigheid werk oor die algemeen nou saam met die SR se WAQE-portefeulje (Womxn- en Queer-bemagtiging) en ander SR-portefeuljes, asook verwante studenteverenigings soos QueerUS en SPECTRUM! vir ons genderinklusiwiteitsinisiatiewe. Ek het vanjaar saam met die US-tak van Studente vir Reg en Sosiale Geregtigheid aan 'n GBG-inligtingsboekie gewerk, asook die Vereniging van Katolieke Tersiêre Studente vir hulle “Victims Violence Rally" wat op Vryheidsdag by die US gehou is.

Ek werk ook met personeelstrukture soos die Afdeling Menslike Hulpbronne se Personeel-welwees – hetsy deur die Siyakhula-program of die Diensbillikheids-roadshows, waar ons onderwerpe soos gendersensitiwiteit en onbewustelike vooroordeel, strukturele gewels aanspreek. Wat veral ook belangrik is, is dat ons die beskikbare ondersteuningsdienste by die US bekendstel en beklemtoon. Van ons onlangse eksterne vennote is diegene wat by die Stellenbosse GBG-sentrum in Idasvallei gebaseer is en waar ons tans opleiding vir US-personeel en studenteleiers aanbied oor hoe om op seksuele aanranding te reageer, soos per die onlangse wetsaanpassing van mense se plig om gevalle aan te meld. Ons bied hierdie opleiding aan in samewerking met die Ring of Peace Cape Trust-GBG-hub, die Nasionale Vervolgingsgesag, die Stellenbosse Thuthuzela-sorgsentrum en ER24. Ons strewe daarna om 'n bondgenoot en hulpbron te wees vir enigeen wat kwessies oor gender en gelykheid aanpak. Ek ontvang ook gereeld uitnodigings om aan verskeie paneelbesprekings by die US en deur ander verwante netwerke deel te neem.

Watter projekte of inisiatiewe maak jou opgewonde?

Ek is opgewonde oor ons onlangse “Saam teen Geslagsgebaseerde Geweld-veldtog wat ons begin Augustus met ʼn toegewyde webblad oor GBG-kwssies en waar om toegang tot ondersteuningsdienste te kry, op etlike US-platforms van stapel gestuur het. Die webblad verskaf inligting oor hulpbronne waar mense antwoorde kan vind op vrae oor hoe om GBG te herken, hoe om ʼn GBG-voorval aan te meld en raad oor hoe vriende en familie GBG-oorlewendes kan ondersteun. Daar is ook ʼn skakel op die webwerf om GBG aan te meld.

Ons bevorder ook geleenthede op die kampus wat met anti-GBG-veldtogte verband hou, soos die Geslagsgelykheidweek van 26 tot 30 Augustus. Dit is deur WAQE georganiseer en Vrouemaand word daarmee volvoer met ʼn reeks geleenthede wat ten doel het om bewustheid oor genderongelykhede en die stryd teen GBG te skep. Hoogtepunte sluit die vertoning van ʼn dokumentêr in, asook die bekendstelling van ʼn gay boek en ʼn geleentheid om baniere te verf wat geweld op kampus die stryd aansê. Die week word afgesluit met ʼn jazz-aand by die Co-Create Hub.

Het jy ʼn spesiale Vrouemaand-boodskap vir US-studente en -personeellede?

So wonderlik soos wat dit is om te sien hoe vroue elke jaar in Augustus gevier word ter erkenning van hulle bydrae in elke sfeer van die samelewing, moet ons die viering nie tot 'n spesifieke dag of maand beperk nie. As vroue verdien ons elke dag erkenning en bevestiging, ongeag waar ons ons ook al bevind. Jy moet nooit uitgesluit voel as 'n vrou nie – elke ruimte waarin jy jouself bevind, moet bevestigend, uitnodigend en ondersteunend wees vir alles wat jy bring. Moenie aanvaar dat jy net geduld word nie, jy verdien dit om gevier te word. Kondig jou teenwoordigheid aan, laat dit onapologeties voel. Jy het jou plek verdien, of dit nou in 'n leierskapsposisie, verandering, innovasie of invloed is ... jy is nie per ongeluk of toevallig daar nie, maar het deur blote vasberadenheid en doelgerigtheid daar gekom.

​FOTO: Stefan Els