Ter viering van Vrouemaand laat die Universiteit Stellenbosch (US) die kollig val op buitengewone studente en personeel op ons kampus wat hulle vir vroueregte en geslagsgelykheid beywer. Deur hulle toewyding en leierskap inspireer en bevorder hulle positiewe verandering. Prof Lynn Hendricks van die Afdeling Gesondheidstelsels en Openbare Gesondheid is ʼn bekroonde akademikus wat vir haar transdissiplinêre benadering bekend is. Dit behels die vermenging van kreatiewe metodologieë, multidissiplinêre teorieë en gemeenskapsbetrokkenheid om betekenisvolle impak te bevorder.
Jy verwys na jouself as “ʼn dogter van die Kaapse Vlakte". Kan jy meer oor jou reis in die akademie vertel, asook oor wat jou geïnspireer het?
Ek het in verskeie areas op die Kaapse Vlakte gewoon, insluitend Athlone, Mitchells Plain, Bridgetown en Silvertown. My ouers is albei van die Kaapse Vlakte en die kerk van ons kinderjare was sentraal in ons lewe. Ek noem myself ʼn dogter van die Kaapse Vlakte omdat dit ʼn gemeenskap is waar almal, nie net jou ouers nie, help om jou groot te maak.
My akademiese reis het met ʼn passie vir diere en dierkunde aan die Freed-Hardeman-universiteit in Tennessee, Amerika begin. In my derde jaar het ek egter besef ek gaan nie my vrees vir rotte te bowe kom nie, wat ʼn vereiste vir dierkunde was. Boonop het ek statistiek en eksperimentele sielkunde meer geniet. Ek het oorgeskakel na sielkunde en het met ʼn BSc in sielkunde gegradueer. Ek het ʼn meestersgraad in navorsingsielkunde aan die Universiteit van Wes-Kaapland gedoen, met die fokus op eksperimentontwerp en data-ontleding. Nadat ek in regerings- en akademiese instellings gewerk het, het ek in 2015 by die US aangesluit, waar ek ʼn MSc in kliniese epidemiologie behaal het. Daarna het ek gelyktydig ʼn PhD in sosiale wetenskap (by KU Leuven, ʼn navorsingsuniversiteit in België) en in openbare gesondheid (by die US) voltooi. My akademiese reis is transdissiplinêr, met ʼn sterk fokus op innovasie vir inklusiewe navorsingsmetodes en analise.
Kan jy ons vertel van die bekroonde dokumentêre rolprent en kunsuitstalling wat deel van jou PhD-projek was?
Ek was ʼn genoot van die VLIRUOS Global Minds-studiebeurs by KU Leuven. Die beurs word só opgestel dat jy jou PhD by beide instellings (die US en KU Leuven) doen. By KU Leuven was ek vir ʼn PhD in sosiale wetenskap geregistreer en hier by die US vir ʼn PhD in openbare gesondheid.
Ek het hier saam met prof Taryn Young van die Departement Globale Gesondheid gewerk en saam met prof Karin Hannes by KU Leuven. My droom vir my PhD was om ʼn dokumentêr te maak. Nie dat ek ʼn filmmaker is nie, ek het niks daarvan geweet nie! Maar in my hart wou ek kuns gebruik – dans, poësie, fotografie en video's. Ek wou met jong vroue op ʼn manier werk wat vir hulle inklusief en relevant was.
Die dokumentêr, More than a pill, fokus op jong vroue met perinatale infeksies. Hulle ma's het MIV aan hulle oorgedra en hulle was tussen 16 en 21 jaar oud.
Baie van hulle is wees gelaat en hulle deel hulle vreugdes, hulle trane, hulle uitdagings en hulle drome in hierdie dokumentêr van 40 minute. Hulle vertel hoe hulle ekonomiese uitdagings, geweld in die gemeenskap en die stigma wat met MIV geassosieer word, aanpak.
Ek was gelukkig dat ek finansiering vir my PhD gehad het, wat ruimte vir skeppende vryheid en buigsaamheid gelaat het.
Ek wou die grense van gesondheidsnavorsing verskuif op ʼn manier wat aanvullend tot bewysgebaseerde navorsing soos sistematiese oorsigwerk was. Ek het die oorsig gebruik om die bewysgapings en die teikengroep op te spoor en dan deelnemende benaderings gebruik om die navorsingsdoelwitte te prioritiseer.
Hoe dra die snypunt tussen kuns en wetenskap tot openbare gesondheid en gemeenskapswelstand by?
Ek meen in ʼn wêreld waar ongelykhede voortduur en die gaping tussen bevoorregtes en gemarginaliseerdes groter word, is dit ons kollektiewe verantwoordelikheid om innoverende oplossings te soek wat inklusiwiteit en positiewe verandering bevorder.
Ons kan kuns en kreatiwiteit gebruik om emosies, ervarings en uitdagings te bespreek, soos ons dit in ons Openbare Pleine vir Sosiale en Omgewingsbepalers van Gesondheid doen. Dit stel mense in staat om op ʼn gemaklike, nadenkende en prettige manier met hulle gevoelens in aanraking te kom en oor kwessies te praat. Kreatiewe oplossings maak navorsingsekostelsels toeganklik en inklusief.
Op my LinkedIn-profiel beskryf ek myself as ʼn transdissiplinêre 'prakademikus', omdat ek daarvan hou om ʼn akademikus te wees wat by gemeenskapswerk en voorspraak betrokke is. My werk stel my in staat om voorspraak vir geslags- en rassegelykheid te maak en voortdurend toegangspunte na ruimtes vir besluitneming en die ontwikkeling van kennis vir gemeenskappe te skep. Ek inkorporeer kreatiwiteit en kuns in my klaskamer en navorsing en gebruik tekeninge en collage vir onderrig en openbare betrokkenheid-werksessies.
Ons is tans besig met ʼn projek saam met Gilead Sciences, ʼn biofarmaseutiese maatskappy wat kuns as ʼn digitale intervensie vir geestesgesondheid gebruik. Dit is ʼn nuwe, ewekansig beheerde proefneming en ons hoop dit sal iets wees wat ons op groter skaal sal kan doen.
Ons het danksy fondse van ons Springer Nature Inclusive Health-toekenning ʼn nuwe navorsingsgroep begin, bekend as die INSPIRE Collab (Inklusiewe strategieë om innovasie, navorsing en billikheid in gesondheid te bevorder). Ons doelwit is om met die publiek en ander belanghebbendes saam te werk om navorsing so te beplan, te implementeer en daaroor verslag te doen dat mense aansluiting daarby vind en te verseker dat dit relevant en konteksspesifiek is en insette van die gemeenskap bevat. Een van ons maatskaplike impak-inisiatiewe is die ontwerp en bekendstelling van ʼn adolessent-vriendelike wagkamer by die Bishop Lavis-kliniek. Dit is die nadraai van die bevindings van die dokumentêr wat gedeeltelik daar verfilm is.
Wat is jou strategie om jou veelvuldige rolle as dosent, navorser, gemeenskapsaktivis en ma te balanseer?
My strategie is om die onvervangbare te prioritiseer. Dit was nou veral in hierdie tydperk vir my moeilik, want buiten my twee seuns het ek ʼn laatlammetjie, ʼn drie-jarige dogtertjie. My werk behels baie reis en op hierdie ouderdom weet sy wanneer ek weg is, so ʼn ma se skuldgevoel is iets waarmee ek nou regtig sukkel. Dit is moeilik wanneer jy moet kies tussen ʼn teenwoordige ma by die huis saam met jou gesin te wees of om internasionale geleenthede vir loopbaanbevordering aan te gryp, wat beteken om weg van die huis af te wees.
Dit is veral moeilik vir vroue in die akademie om daardie balans te vind. Nie dat dit maklik vir mans is nie, maar ek dink dis veral moeilik vir ma's in wie se lewe so baie aangaan. Natuurlik kom die gesin altyd eerste, maar vroue in die akademie betaal ʼn prys daarvoor. Ons het meer ondersteunende strukture nodig, soos betaalde kindersorg wanneer ons na konferensies reis, of voldoende befondsingsmeganismes om meer hibriede geleenthede te ondersteun en die besoek van medewerkers aan ons tuisinstellings moontlik te maak.
FOTO: Stefan Els