Ter viering van Vrouemaand laat die Universiteit Stellenbosch (US) die kollig val op buitengewone studente en personeel op ons kampus wat hulle vir vroueregte en geslagsgelykheid beywer. Deur hulle toewyding en leierskap inspireer en bevorder hulle positiewe verandering. Dr Anell Stacey Daries van die Sentrum vir die Studie van die Gevolge van Geweld en die Soeke na Herstel (AVReQ) is ʼn passievolle stem in die transformasiediskoers aan die US. As ʼn historikus met kundigheid in die sosiale implikasies van liggaamswetenskappe ondersoek sy hoe die verlede steeds die hede beïnvloed.
Beskryf jou rol by die US en vertel ons meer van jou akademiese reis.
Ek is die Nagraadse Programsameroeper en ʼn postdoktorale navorsingsgenoot by AVReQ. My kernrol is om navorsing met impak te doen, maar ek is ook verantwoordelik vir die ontwikkeling van ondersteuningsprogramme vir AVReQ se nagraadse studente.
Wat my akademiese reis betref, het ek my BA, honneurs en MA aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) behaal. Daarna het ek US toe gekom om my PhD te doen. Ek het sedert die begin van my nagraadse studies in dissiplinêre en institusionele geskiedenisse belang gestel. Vir my honneurs- en meestersgrade het ek die geskiedenis van volkekunde, fotografie en die UWK ondersoek. Nadat ek my MA voltooi het, was ek opgewonde om saam met prof Sandra Swart te werk, wat my studieleier in die Departement Geskiedenis was. Ek het my PhD ʼn maand voor die aankondiging van die Covid-19-inperking begin. Ek het dwarsdeur die inperkingstydperk ongelooflike ondersteuning ontvang van my departement, asook van die US se argief- en biblioteekpersoneellede.
Was daar ʼn bepalende oomblik in jou lewe wat jou verbintenis tot geslagskwessies versterk het?
Die omstrede navorsingstudie oor bruin vroue se kognitiewe funksionering wat in 2019 gepubliseer is, was ʼn deurslaggewende keerpunt in my akademiese loopbaan. Dit was die begin van my PhD-reis. Toe ek besef hierdie artikel kom uit sportwetenskap, het ek begin kyk na die geskiedenis van sportwetenskap, voorheen bekend as liggaamsopvoeding. In my tesis het ek ondersoek hoe strata soos ras, klas en geslag die trajek van liggaamsopvoeding fundamenteel gevorm het, beide binne die konteks van die Universiteit en op ʼn nasionale skaal. My tesis belig die mate waarin die Universiteit se etos van konserwatisme en tradisionalistiese waardes departementele verskuiwings oor die loop van agt dekades beïnvloed het. In die ondersoek na die totstandkoming van ʼn nasionalistiese wetenskap het my tesis ten doel gehad om die Universiteit se deurslaggewende rol in die politiek van nasiebou in die 20ste en vroeë 21ste eeu te belig.
Hoe hoop jy sal jou navorsing die akademiese gemeenskap raak?
My werk het te make met institusionele en intellektuele geskiedenisse, wat dan van my vereis om kwessies te oorweeg wat met institusionele kultuur en die strewe na institusionele hervorming en transformasie verband hou. Deur uit my eie empiriese en ander verbandhoudende navorsing te put, kan my werk aangewend word as ʼn manier om die oorsprong van institusionele ongeregtighede wat gemarginaliseerde gemeenskappe aansienlik geraak het, na te spoor.
Benewens my individuele bydraes, wil ek graag saam met ander in die gemeenskap werk, want die hoop op transformasie lê in die gemeenskap. ʼn Voorbeeld hiervan is die kampus-staptoere wat ek saam met Rabia Abba Omar van die Frederik Van Zyl Slabbert-instituut doen. Ons kombineer empiriese navorsing en teorie oor ons begrip van ruimte en stap na spesifieke terreine regoor Stellenbosch om met die geskiedenis van die Universiteit en die dorp om te gaan om te demonstreer hoe Suid-Afrika se verlede in die Universiteit se argitektuur ingegraveer is.
Het jy ʼn spesifieke standpunt oor geslagskwessies?
My navorsing word deur interseksionaliteit gerig. Ek ondersoek hoe ras op die liggaam ingegraveer word. Sodoende voer ek aan dat ʼn mens nie na die geskiedenis van rassifisering kan kyk sonder om strata soos geslag te ondersoek nie.
Hoe sien jy die rol van universiteite in die aanpak en regstelling van historiese ongeregtighede wat met geslag en ras verband hou?
Universiteite het die potensiaal om as ruimtes van radikale samelewingsverandering te dien. Deur gestrenge intellektuele verkenning en maatskaplik impakvolle navorsing kan hoëronderwysinstellings aktief werk om stelsels van onderdrukking af te breek en billikheid in hulle beleide en praktyke meer regstreeks te bevorder. Deur historiese ongeregtighede te erken en aan te pak kan universiteite die weg vir ʼn regverdiger samelewing baan.
As jy ʼn enkele prestasie, akademies of andersins, in jou lewe moet uitsonder, wat sal dit wees?
My PhD is my grootste prestasie. Dit verteenwoordig jare se toewyding en groei. Dit het soveel geleenthede vir my gebied om tot my vakgebied by te dra en ʼn impak op die samelewing te maak. Dit beteken ook so baie vir my familie en my gemeenskap. My PhD-reis was ongelooflik moeilik, maar my ondersteuningstrukture het my gehelp om te volhard en dit binne die toegelate tydsraamwerk te voltooi.
Wat is jou raad vir jong vroue wat daarna streef om die veld van historiese navorsing en aktivisme te betree?
Omring jouself met goeie mense wat wil sien dat jy sukses behaal. Tydens my PhD-reis is ek ondersteun deur ʼn ongelooflike groep navorsers wat die moeilikheidsgraad van die proses verstaan het. Sedert ek by AVReQ begin werk het, was ek gelukkig genoeg om deur vrygewige mense omring te wees. Mense soos prof Pumla Gobodo-Madikizela, bekleër van die SARChI-leerstoel in gewelddadige geskiedenisse en historiese trauma en die stigtersdirekteur van AVReQ, was ʼn ongelooflike mentor. My raad aan aspirant-navorsers is om mentors te soek wat leiding en ondersteuning kan bied. Moet nooit bang wees om hulp te vra wanneer jy dit nodig het nie.
Onthou ook om getrou te bly aan die doelwitte wat jy vir jouself stel. Herinner jouself voortdurend aan die belangrikheid van jou werk en die moontlikhede van die omvang en impak daarvan.
FOTO: Stefan Els