Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Sentrum vir Studentelewe en Leer rus studente toe met vaardighede vir 'n inklusiewe verwelkoming
Outeur: Tendani Tshauambea
Gepubliseer: 21/08/2024

Die Sentrum vir Studentelewe en Leer (SSLL) het sy jaarlikse opleidingsessies vir nuutverkose leiers afgeskop deur te fokus op die skep van 'n Grondwetlike Verwelkoming, en om studente toe te rus met die kennis en vaardighede om 'n inklusiewe verwelkoming vir alle nuwelinge in 2025 voor te berei. Dié opleiding is beïnvloed deur sleuteloomblikke in die instelling se geskiedenis, insluitend die Verslag oor Onwelkome Praktyke van 2014 en die #FeesMustFall-beweging in 2016.

“Die Verwelkomingsprogram beïnvloed die standaard van die kampus se verwelkomingskultuur, nie net vir die nuwelinge wat by die ruimte geïntegreer moet word nie, maar ook vir al die ander leiers wat tot die verwelkomende omgewing sal bydra," verduidelik Benita van Zyl, Bestuurder: Eenheid vir Koshuisstudentegemeenskappe by die SSLL.

“Daarom is die doel van die opleiding om leiers wat 'n deurslaggewende rol sal speel in die beplanning van die verwelkoming van nuwelinge, toe te rus met 'n deeglike begrip van die etos wat die Universiteit Stellenbosch (US) gedurende die verwelkomingstydperk wil vergestalt.

"Dit is noodsaaklik om te erken dat studenteleiers studente namens die Universiteit verwelkom, nie net hul individuele gemeenskappe nie."

Vanjaar se opleiding, wat op 17 Augustus by die Academia-saal gehou is, het 'n diverse groep leiers uit koshuis- en pendelstudentegemeenskappe bymekaargebring. Die studente het gesels oor hul rol om nuwelinge te help om by beide die akademiese en sosiale dimensies van die universiteitslewe te integreer.

Die program het verskeie sessies ingesluit, insluitend 'n uiteensetting en bespreking van die resultate van die Nuwelinge se Terugvoer-opname en die Klusterverwelkomingsbeplanning. 'n Voormalige studenteleier het ook 'n sessie aangebied oor hoe om 'n waardegebaseerde benadering vir verwelkoming te gebruik. Laasgenoemde sessie het gesentreer rondom die US-waardes, as 'n riglyn in die bevordering van 'n gemeenskapstruktuur sonder hiërargieë tussen nuwelinge en hul leiers.

Deur die loop van die dag het klustersameroepers, senior studente en studente-assistente van die SSLL interaktiewe aktiwiteite by elke tafel gefasiliteer, wat leiers aangemoedig het om saam te werk en idees te deel. Ishmael Mabena, saam met sy Mede-uitvoerende Klustersameroeper, Shannon Goodchild, het as MC's vir die dag gedien, en het 'n prettige kinkel ingegooi met 'n TikTok-dansuitdaging wat die gees hoog gehou het.

Tydens besinning oor die dag se sukses het Mabena opgemerk: "Hul passie, motivering en hoë belangstelling was duidelik. As dit nie 'n aanduiding van hul toewyding is nie, weet ek nie wát is nie."

Hy het die leiers se positiewe gesindhede en hul gewilligheid om by die programinhoud betrokke te raak, geprys en opgemerk dat "die dansroetine-aanbieding beslis 'n hoogtepunt was".

“Ek is vol vertroue dat ons wonderlike mense het wat ons studentegemeenskappe lei."

Die opleiding verseker dat leiers goed voorbereid is vir die eise van Verwelkoming, en 'n netwerk en ondersteuningstruktuur van eweknieë kan bou waarop hulle kan staatmaak wanneer hulle hul rolle betree.

Mabena het die belangrikheid van vroeë opleiding beklemtoon om leiers te help om gevoelens van isolasie te vermy en om verbindings tussen hulle te kweek voordat Verwelkoming begin.

“Wanneer ons nuwe rolle as leiers betree, is die laaste ding wat ons hoop om te voel, alleen- en geïsoleerdheid," het hy gesê.

"Hierdie opleiding verseker dat leiers mekaar leer ken, wat noodsaaklik is vir netwerk, die vorming van nuwe verhoudings en om ondersteuningstelsels te vind."

Volgens Van Zyl was vanjaar se Grondwetlike Verwelkoming 'n sukses danksy die toewyding van die span wat vooraf, en op die dag van die opleiding saam met haar gewerk het.

"Die positiewe gesindhede van ons studenteleiers, die logistieke organisasie agter die skerms, en die wonderlike fasiliteerders - groepsameroepers, studente-assistente en senior studenteleiers - het hierdie opleiding 'n sukses gemaak."