Ter viering van Vrouemaand laat die Universiteit Stellenbosch (US) die kollig val op buitengewone studente en personeel op ons kampus wat hulle vir vroueregte en geslagsgelykheid beywer. Deur hulle toewyding en leierskap inspireer en bevorder hulle positiewe verandering. Prof Soraya Seedat is ʼn uitgelese professor, hoof van die Universiteit Stellenbosch se Departement Psigiatrie en ʼn toonaangewende kenner in posttraumatiese stresversteuring (PTSV) en angsversteurings, met ʼn netwerk van navorsingsmedewerkers regoor die wêreld.
Wat het jou geïnspireer om ʼn loopbaan in psigiatrie te volg, en spesifiek PTSV en angsversteurings?
Ek was as mediese student tot psigiatrie én pediatrie aangetrokke. Ná my internskap het ek gekies om gedurende my gemeenskapsdiens ʼn jaar lank in psigiatrie te werk. Daardie jaar by die Lentegeur- Psigiatriese Hospitaal in Kaapstad het my oortuig om in psigiatrie te spesialiseer.
In 2001 het ek die geleentheid gehad om ʼn navorsingskliniek te begin wat op geweld en trauma by adolessente fokus. Ek was gefassineer en geskok deur die blywende impak van voortdurende, erge geweld op die jongmense uit sosio-ekonomies behoeftige woonbuurte met wie ek gewerk het. Dit het tot ʼn lewenslange toewyding tot die bestudering van traumatiese stres en angsversteurings gelei wat nie net in Suid-Afrika nie, maar wêreldwyd voorkom.
Ek is sedert 1993 by die US en reken ek is een van die langsdienende personeellede by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe. Ons verstaan baie meer as 20 jaar gelede oor wat veroorsaak dat sommige individue blywende psigiatriese probleme weens traumas soos verkragting ontwikkel.
Om te verstaan hoekom sommige individue langdurige psigiatriese probleme ontwikkel en ander veerkragtig bly, interesseer my nog steeds. Hierdie navorsing is van kardinale belang in ʼn samelewing waar geweld, hetsy in sosio-ekonomies behoeftige gebiede of middelklashuise, oor alle grense heen strek.
Watter uitdagings het jy in jou loopbaan ervaar?
Ten spyte van my lang loopbaan en senior posisie ervaar ek steeds uitdagings. Ek moet myself soms meer as my manlike kollegas laat geld om net so ernstig soos hulle opgeneem te word. Soortgelyke erkenning vir vroue in vergelyking met dié vir mans ontbreek steeds.
Ofskoon ek bemoedigende vordering in transformasie in hoër onderwys gesien het, is vroue steeds nie so goed verteenwoordig in senior professionele, akademiese en ondersteunende rolle as wat hulle behoort te wees nie. Selfs sonder om vroue se bykomende huishoudelike verantwoordelikhede in ag te neem, is dit moeiliker vir ons om vordering te maak.
ʼn Spesifieke struikelblok vir vroue in die akademie is dat daar geen voorsiening in PhD-regulasies is vir vroulike akademici wat swanger raak nie. Die verwagting bestaan dat vroue hulle studies moet onderbreek en later weer registreer as hulle swanger raak terwyl hulle met hulle PhD besig is. Ek dink ons het ʼn veelvlakkige benadering nodig om gelykheid vir vroue op alle vlakke te verseker – nie net insluiting nie, maar ware gelykheid.
Jy bepleit die ontmoediging van ʼn silo-benadering tot geestesgesondheidsorg. Kan jy verduidelik hoe hierdie benadering uitkomste vir vroue kan verbeter?
Die integrasie van geestelike en fisiese gesondheid is van kardinale belang, ongeag geslagsidentiteit. Ons sien dikwels die verband tussen die gees en liggaam oor, veral in die openbare gesondheidsektor, waar geestesgesondheidsdienste apart van algemene mediese sorg is. Professionele mediese werkers in die verskillende strome van die gesondheidsdienste versuim soms om met mekaar te kommunikeer.
Hierdie skeiding kan stigmatisering en onvoldoende sorg meebring, veral vir vroue wie se gesondheidsbehoeftes deur hulle biologiese en hormonale samestelling, unieke lewensomstandighede en sosio-omgewingsinvloede beïnvloed word.
Swangerskap en kindersorgverantwoordelikhede verhinder vroue dikwels om so vinnig soos mans in hulle navorsingsloopbaan te vorder. Hierdie kwessies vereis ʼn meer buigsame benadering in navorsing en kliniese werk en bykomende ondersteuning vir vroue om te verseker dat hulle nie uitgesluit of agtergelaat word nie.
Wat is die dinge wat jy geniet om weg van die werk af te doen?
Ek lees graag fiksie, gaan stap, reis na nuwe bestemmings en eet uit.
Wat beskou jy as die belangrikste prestasie in jou loopbaan tot dusver?
Om die vaardighede van groepe navorsers in die land, ons vasteland en verder te verbeter en hulle te ondersteun, veral vroue in psigiatrie en neurowetenskap.
Watter raad het jy vir jong vroue wat daarna streef om die veld van psigiatrie en geestesgesondheidsnavorsing te betree?
Dis ʼn gevarieerde en opwindende dissipline wat vinnig ontwikkel en innovasiegedrewe is (byvoorbeeld met vinnige vooruitgang in digitale instrumente vir geestesgesondheid, voorspellingsontledings en doelgemaakte behandelings). As jy hierdie loopbaan kies moet volharding en geduld jou goeie vriende word, want dit sal jou dwarsdeur jou loopbaan goed te staan kom en help om uit te styg. As vroue in die veld moet ons nie net die wetenskap en praktyk van psigiatrie vernuwe en bevorder nie, maar ook ons stemme gebruik om gelykheid en toegang te bevorder en ander vroue te help om sukses te behaal.
Wat is jou toekomstige navorsingsplanne of projekte waaroor jy opgewonde is?
Ek beplan verdere intervensie- of behandelingstudies. Ek is opgewonde daaroor om aan te hou om die globale netwerke waaraan ek behoort uit te brei om die kollig te laat val op die omvang van die uitstekende psigiatrie- en neurowetenskapnavorsing wat wetenskaplikes en klinici in Suid-Afrika tot die wêreldverhoog bydra.
Hoe vier jy Vrouedag en Vrouemaand? Watter boodskap wil jy graag aan die personeel, studente en breër gemeenskap by die US oordra terwyl ons Vrouemaand vier?
Ek bring Vrouedag gewoonlik in stille nadenke deur en in dankbaarheid vir wat vroue as ʼn kollektief veral oor die afgelope eeu bereik het. My boodskap aan vroue by die US is: Elke vrou kan in die regte beligting skitter. Streef die regte beligting na deur sonder skroom te vra vir die geleenthede wat jy verdien.
FOTO: Stefan Els