Ter viering van Vrouemaand laat die Universiteit Stellenbosch (US) die kollig val op buitengewone studente en personeel op ons kampus wat hulle vir vroueregte en geslagsgelykheid beywer. Deur hulle toewyding en leierskap inspireer en bevorder hulle positiewe verandering. As Hoofdirekteur: Fasiliteitsbestuur by die US het Nicolette van den Eijkel vanjaar 'n instrumentele rol in die totstandkoming van die Thuthuzela-sorgsentrum vir slagoffers van geslagsgebaseerde geweld in Idasvallei gespeel. Van toesig oor nuwe bouprojekte tot die versekering dat studente toegang het tot die fasiliteite wat hulle nodig het om sukses te behaal, speel Van den Eijkel 'n sleutelrol in die daaglikse bestuur van die US.
Wat laat jou hart klop?
Die wete dat deur ons werk by Fasiliteitsbestuur behoorlik te doen, dit nie net sin en 'n doel aan ons daaglikse bestaan gee nie, maar dit verseker ook dat meer as 40 000 mense op ons kampusse 'n beter dag het. Die lonendste aspek van my werk is om oplossings te vind en die kolletjies te verbind. Ek hou daarvan om verbintenisse te bou en oor silo's heen te werk om te verseker dat die Universiteit werk.
Kan jy 'n paar insigte deel oor die uitdagings en oorwinnings wat jy beleef het met die vestiging van die Thuthuzela-sorgsentrum?
Ek is altyd bewus van my omgewing. Ek is geen ingenieur nie, maar ek luister en probeer oplossings vind. Ek het geweet die gebou in Bothmashoogte is leeg, en toe ek met Jaco Greeff Brink, hoof van die Eenheid vir Gelykwaardigheid, vergader het, het my brein die kolletjies begin verbind en goed het begin gebeur. Die Thuthuzela-sorgsentrum, waar slagoffers van geslagsgebaseerde geweld emosionele, sielkundige en regsondersteuning ontvang, is nie net my oorwinning nie. Ek het dinge en mense in staat gestel tot op 'n punt waarna prof Stan du Plessis, Bedryfshoof van die US, dit uiteindelik laat gebeur het. As jy jouself behoorlik op iets toespits, sal dit 'n positiewe uitkoms hê. Een voorbeeld is hoe ons ons Mandela-dae doen. Ons kon dieselfde as baie ander gedoen het deur net toebroodjies aan kinders te verskaf, maar ons het besluit om meer as die grondboontjiebotter en konfyt te doen: Ons het ons verskaffers en vennote aan boord gekry, oorskietverf ingesamel en 'n skool, 'n polisiestasie en 'n crèche aangepak, wat dit soveel beter gemaak het. Ek moedig my personeel aan om te besin oor wat hulle doen en dit altyd beter te probeer doen – en ek is baie goed daarmee om mense bymekaar te kry om goed gedoen te kry.
Wat beskou jy as die belangrikste prestasie in jou loopbaan tot dusver?
Daar is baie, maar ek moet sê die Biomediese Navorsingsinstituut (BMNI) op die US se Tygerberg-kampus is die belangrikste belegging in infrastruktuur wat enige Suid-Afrikaanse universiteit tot dusver gemaak het. Ons het uit hierdie projek geleer dat ons ongelooflike suksesse kan behaal, soos die vestiging van die BMNI – 'n gebou wat 'n geweldige positiewe impak op die wêreld sal hê. Verle jaar (2023) het ons ook geleer dat ons 'n wonderlike span by Fasiliteitsbestuur het wat ongeag storms, oormatige hitte, misdaad, beurtkrag of enige ander kwessies wat ons raak, ons kampusse gladweg laat funksioneer, sodat ons studente en personeel kan leer en onderrig.
Ek wil ook byvoeg dat een van my grootste vreugdes is om te sien hoe mense wat gedink het hulle nooit iets sal bereik nie, uitblink in dít wat hulle doen. Ek motiveer my personeel deur hulle te inspireer om hulleself as sleutelpersone in die instelling uit te daag. Elke keer as iemand wat gedink het dit is nie moontlik om as elektrisiën of 'n loodgieter te kwalifiseer nie, dit regkry nie, is daardie dag net soveel beter vir my.
Hoe sien jy dat jou werk die Universiteitsgemeenskap beïnvloed?
Vir my is leierskap ons waardes: uitnemendheid, deernis, gelykheid, verantwoordbaarheid, respek en gelykheid. Soos ek, glo my personeel nie daarin om net te doen wat van hulle verwag word nie. Jy sal nooit hoor: "Dit is nie my werk nie, nie my verantwoordelikheid nie." Ons glo om verantwoordbaar te wees en uitnemendheid te lewer. Ek dink my agtergrond in die mynbedryf het iets te doen gehad met my manier van lei: ek is gewoond daaraan om dinge self te doen om die werk gedoen te kry. Ek probeer daardie etiek by my personeel vestig en hoop dit spoel na meer kollegas in die Universiteit oor, want dinge soos waterbesparing, elektrisiteit en ons planeet is ons almal se werk.
Hoe handhaaf jy 'n balans tussen werk en jou private lewe, veral met jou veeleisende rol?
Ek glo nie daar is iets soos balans tussen jou werk en jou private lewe nie. Miskien is daar iets soos 'n werk-private lewe harmonie. Ons is nie almal dieselfde nie. Ek is nie 'n oggend-mens nie. So, ek is in die gelukkige posisie om minder in die oggend en meer in die aand te doen. As werkgewer moet ons mense se lewens probeer akkommodeer – gaan na jou seun se eerste hokkiewedstryd gedurende werksure en maak die werk op 'n ander tyd klaar, maar maak dit net klaar. By die US se Fasiliteitsbestuur het ons personeel wat op Kersdag werk. Ja, pype bars gedurende die vakansie en die kampus moet steeds beveilig word! Dit moet dus ook in ag geneem word wanneer ons na werknemers se tyd kyk. Dit verg baie volwassenheid van die bestuurs- en werknemerskant. Dit is nie altyd moontlik met almal nie, maar ek dink dit is iets waarna ons moet streef, soos om buigsaam te wees wanneer die situasie dit vereis.
Wat is die beste raad wat jy al ooit ontvang het?
Toe ek baie dekades gelede vir groep-ouditdienste by Anglo American gewerk het, het die bestuurder daar vir my gesê: "Moet nooit iets doen sonder om te verstaan hoekom jy dit doen nie." Dit bly my nog steeds by: Waarom doen ek dit, en hoe kan ek dit beter doen?
Hoe het jy Vrouedag gevier?
Ons het Vrouedag gevier met 'n Verantwoordelikheidsentrum-geleentheid wat deur een van die afdelings by die US aangebied is. Vanjaar was dit ons beurt, en ons het 'n heerlike geleentheid geskep met die tema: "Back to basics".
FOTO: Stefan Els