Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Hanteer ander met integriteit, en dis wat jy sal terugontvang: Zimbili Sibiya
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 12/08/2024

​Vir Zimbili Sibiya moet leiers hulleself kan bestuur voordat hulle ander kan lei. Danksy hierdie ingesteldheid floreer sy as navorsingskoördineerder van ACEWATER-III, 'n inisiatief wat bestuur word deur Universiteit Stellenbosch (US) Internasionaal se Sentrum vir Samewerking in Afrika (SSA). 

ACEWATER-III is in April 2024 in Nairobi, Kenia, van stapel gestuur. Die inisiatief beoog om oorgrenswaterhulpbronbestuur in Afrika te versterk deur samewerking tussen die SSA en 20 vennootinstellings in die AUDA-NEPAD Netwerk van Watersentrums van Uitnemendheid.* Aktiwiteite behels navorsing, vermoëbou, korttermynmobiliteitsgeleenthede, kennisuitruiling, en skakeling met beleidvormers. Vennote onderneem elk hulle eie projekte in hulle onderskeie streke se rivierkombestuursorganisasies.

Hou projekte relevant en responsief

As navorsingskoördineerder, sorg Sibiya dat alle vennote se projekte met die doelwitte en prioriteite van ACEWATER-III strook. “Elke vennoot is daarvoor verantwoordelik om navorsing te onderneem wat geïntegreerde oorgrenswaterhulpbronbestuur bevorder," verduidelik sy. “Die navorsing moet ook 'n opleidingselement behels en tot beleid probeer bydra deur beleidvormers en kernbesluitnemers in die betrokke streek of land te betrek. 

“Tot dusver moes elke vennoot 'n navorsingsvoorstel indien, en dit was my werk om die voorstelle na te gaan vir relevansie en om duplisering uit te skakel omdat van die vennote in dieselfde rivierkom sal werk." 

Dr Nico Elema, direkteur van die SSA en die leier van ACEWATER-III, het Sibiya genooi om haar by die projek aan te sluit. Sy het hom al voorheen as navorsingsassistent met twee waterverwante projekte bygestaan. “Ek het ja gesê, want navorsing tot diens van die samelewing maak my opgewonde," sê sy. “Die watersektor doen baie belangrike werk in dié verband. Die hoogtepunt vir my was dat die projek op die Afrikavasteland sou plaasvind." 

Op soek na maksimum impak, konkrete verandering

Met 'n BSc in Boskunde en Natuurlikehulpbronbestuur en 'n MSc in Bos- en Houtkunde, albei van die US, was die ooreenkomste tussen die water- en bosbousektore 'n verdere trekpleister vir Sibiya. “Die sektore het met soortgelyke klimaatsverandering- en bestuurskwessies te doen, en ons het woude nodig vir die watersektor om te floreer. Ek was nuuskierig om te sien hoe ons die twee sektore kan kombineer en ons aktiwiteite kan integreer om te sorg dat die werk van dié projek die grootste moontlike impak het," sê sy. 
 “Deur my betrokkenheid wil ek graag die impak van die projek in die samelewing uitbrei, nie net deur publikasies nie, maar ook op sosiale media en deur stories te vertel," voeg Sibiya by. “Ek wil seker maak dat die wetenskap uiteindelik op werklike verandering uitloop." 

Sy werk tans aan haar PhD terwyl sy ook op deeltydse grondslag as assistent- inwonende hoof van die koshuis Academia dien. Boonop bied sy opleiding in openbare redevoering en moedig sy ander aan om met integriteit te lei en eerlik en verantwoordbaar te wees in alles wat hulle doen, selfs wanneer niemand kyk nie. “Wanneer jy, as 'n leier, ander met integriteit behandel, sal jy nie veel hoef te doen om dit terug te ontvang nie," sê sy. 

* Die AUDA-NEPAD Netwerk van Watersentrums van Uitnemendheid is 'n netwerk van hoëronderwys- en navorsingsinstellings wat gevorderde wetenskaplike navorsing en vermoëbou in die water- en verwante sektore van Afrika onderneem. Lidinstellings is oor Suid-Afrika, Mosambiek, Zimbabwe, Botswana, Namibië, Zambië, Malawi, Mauritius, Kenia, Uganda, Soedan, Ethiopië, Nigerië, Benin, Burkina Faso en Senegal versprei. Die liggaam het in 2005 sy mandaat van die Afrika-unie ontvang via die Afrika-ministersrade vir onderskeidelik water (AMCOW) en wetenskap en tegnologie (AMCOST).