Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Studie toon werk-e-posse, -oproepe op gholfbaan beïnvloed prestasie nadelig
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 06/08/2024

​Deur jou werkverwante e-posse na te gaan of sake-oproepe te neem terwyl jy gholf speel, kan jy jouself moontlik van daardie ontwykende arend of voëltjie ontneem.

Só sê 'n groep navorsers van die Departement Inligtingwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch (US).

Hulle het by vyf verskillende klubs 186 spelers wat vir ontspanning gholf speel, oor hulle prestasie, genot van die rondte en slimfoongebruik tydens spel ondervra. Die data is direk nadat die gholfspelers in die middel van die week aan klubkompetisies deelgeneem het, ingesamel. Die deelnemers is gevra om aan te dui hoe gereeld hulle hul fone vir werkverwante oproepe, e-posse, WhatsApp-boodskappe, persoonlike oproepe en sosiale media tydens die rondte gebruik het.

Die bevindings van hulle navorsing het onlangs in die International Journal of Performance Analysis in Sport verskyn.

“Ons het bevind dat wanneer gholfspelers hulle fone om persoonlike redes gebruik het, soos om na plasings op sosiale media te kyk of om op persoonlike boodskappe te reageer, hulle prestasie nie daardeur geraak is nie. Wanneer hulle egter werkverwante e-posse gelees of sakeoproepe geneem het, het hulle prestasie afgeneem," sê hoofnavorser dr Daniël le Roux van die Kognisie- en Tegnologienavorsingsgroep in die Departement Inligtingwetenskap aan die US. Hy het die navorsing saam met drie nagraadse studente, Lise Carstens, Cole Walburgh en Christen Werth, gedoen.

“Interessant genoeg het ons data nie 'n direkte invloed van slimfoongebruik op gholfspelers se genot van die rondte getoon nie. Maar soos enige gholfspeler sou getuig, is prestasie egter die sleutel om die rondte te geniet.

“Ons studie beklemtoon die tweesnydende aard van slimfone op die gholfbaan. Hoewel dit gerieflik is om in verbinding te bly, kan 'n foon indring op die speler se fokus en prestasie benadeel, en uiteindelik die spel minder aangenaam maak," voeg Le Roux by.

“Ons moenie die krag van digitale afleiding onderskat nie. Dit verwys na gevalle waar individue hulle aandag van 'n deurlopende, primêre aktiwiteit (byvoorbeeld 'n gesprek, werk, bestuur of 'n rondte gholf) na 'n sekondêre aktiwiteit, byvoorbeeld die gebruik van 'n rekenaartoestel soos 'n slimfoon of 'n tablet verskuif," verduidelik hy.

“Die gebruik van 'n slimfoon vir byvoorbeeld afstandsmeting tydens 'n rondte gholf sal as 'n taakaktiwiteit beskou word en is, ter uitbreiding, nie 'n geval van digitale afleiding nie. Om 'n werkverwante e-pos te lees of 'n sakeoproep tussen houe te beantwoord, sal egter digitale afleiding wees, aangesien dit kwalitatief nie verband hou met die taak om gholf te speel nie."

Le Roux sê hoewel volgehoue aandag belangrik is vir gholfprestasie, is daar behalwe vir 'n paar studies oor elite-gholfspelers, baie min navorsingstudies oor hoe ontspanningsgholfspelers hulle aandag tussen houe bestuur.

Hy wys op 'n 2015-opname wat Golf Digest onder 233 000 gholfspelers gedoen het om hulle ingesteldheid teenoor slimfoongebruik op die baan te toets. Die meerderheid respondente (44%) het aangedui dat hulle hul slimfoon elke paar gate tydens 'n rondte nagaan of gebruik, met 21% wat aandui dat hulle “onlosmaaklik aan hulle foon gekoppel is" en nie 'n rondte sal kan speel sonder om daarna te kyk nie. Terwyl 19% van die respondente aangedui het dat hulle hul slimfone in hulle sakke dra, het 66% aangedui dat hulle tydens die spel daarvan probeer vergeet het.

“Dit is egter interessant dat niemand ondersoek ingestel het na hoe die gebruik van slimfone tydens spel gholfspelers se prestasie en genot van hulle rondtes beïnvloed nie," sê Le Roux.

“Die gebruik van 'n slimfoon tydens spel kan waarskynlik 'n speler se konsentrasie beïnvloed en gevolglik hulle prestasie benadeel. Dit kan weer hulle genot van die rondte verminder."

So, waarom is sommige vorms van slimfoongebruik skadeliker as ander?

Die antwoord kan volgens Le Roux in aandagsresidu lê. “Aandagsresidu beskryf hoe die inhoud van 'n e-pos of 'n gesprek in ons gedagtes bly nadat ons ons fone neergesit het. Hierdie voortslepende gedagtes maak dit waarskynlik vir gholfspelers moeilik om gedurende houroetines goed te fokus. Dit wil voorkom asof werkverwante kommunikasie meer aandagsresidu as ander vorms van slimfoongebruik veroorsaak."

Le Roux sê gholfspelers wat vir ontspanning speel en beter wil konsentreer, moet bewus wees daarvan dat die gebruik van hulle slimfone 'n negatiewe uitwerking op hulle werkverrigting gedurende spel kan hê.

“Hulle moet die slimfoonaktiwiteite identifiseer wat hulle fokus tydens spel ontwrig en hoë vlakke van aandagsresidu veroorsaak. As hulle dít weet, kan hulle strategieë ontwikkel wat hulle kan help om daardie afleidings te vermy deur sekere kennisgewings te blokkeer of hulle fone se klank af te skakel terwyl hulle speel."

Hy en sy medenavorsers is egter huiwerig om aan die hand te doen dat ontspanningsgholfspelers hulle prestasie kan verbeter deur hulleself van selfoongebruik te weerhou terwyl hulle speel.

  • Bron: DB le Roux, L Carstens, C Walburgh & C Werth (30 May 2024): The effects of smartphone use during play on performance and enjoyment among recreational golfers. International Journal of Performance Analysis in Sport, DOI: 10.1080/24748668.2024.2348285  ​