Lidia du Plessis glo elke individu se unieke potensiaal moet gevier en ontwikkel word. Dít is ook 'n grondbeginsel van haar werk as programbestuurder van personeelinternasionalisering in Universiteit Stellenbosch (US) Internasionaal se Eenheid vir Vennootskappe.
In dié hoedanigheid fasiliteer sy internasionaliseringsgeleenthede vir akademiese en professionele administratiewe steundienste- (PASD-)personeel sodat hulle met eweknieë wêreldwyd kan saamwerk, skakel en vergelykings tref. “Ek is passievol daaroor om personeel geleenthede te bied om met hulle eweknieë elders ter wêreld in aanraking te kom," sê sy. “Dit ontwikkel hulle nie net as internasionaliseringspraktisyns nie, maar laat hulle ook hulle eie grense verskuif en uit hulle gemaksones beweeg. Sodoende bou ons voort op die Universiteit se strewe om 'n voorkeurwerkgewer te wees, en bevorder ons terselfdertyd doelgerigte vennootskappe."
Internasionaliseringsgeleenthede sluit in die gemengde personeelontwikkelingsprogram tussen die US en die Universiteit van Lund, en die driesydige personeelontwikkelingsprogram van die US, die Universiteit van Hamburg (Duitsland) en Northwestern-universiteit (Verenigde State). Dan is daar ook virtuele programme, opleidingsweke en navorsingsgeleenthede soos die Erasmus+-programme vir personeelopleiding en -onderrig.
Kweek internasionaliseringspraktisyns
Du Plessis sê sy geniet dit om te sien hoe hierdie programme personeel 'n beter begrip bied van hulle rol as internasionaliseringspraktisyns. “Personeellede is baie meer doelgerig en intensioneel in hoe hulle met internasionale gaste omgaan. Ons vennote en personeel se terugvoer alleen spreek boekdele. Boonop identifiseer personeel hulle eie geleenthede om professioneel te groei en vir werk te reis."
Sy voeg by: “Dit is wonderlik om te sien hoe geesdriftig en opgewonde iemand van 'n oorsese geleentheid af terugkeer, veral diegene wat die eerste keer reis. Dit maak my hart bly om te sien hoe personeellede hulleself uitdaag om hulle veilige ruimte te verlaat, iets nuuts te probeer, en te groei."
Volgens Du Plessis het US-personeel se belangstelling in veral PASD-programme aansienlik toegeneem. “Ons het verlede jaar meer as 30 aansoeke vir die Lund-US-program ontvang, en meer as 25 mense het vanjaar vir die driesydige program aansoek gedoen. Vir die Erasmus+-programme ontvang ons gewoonlik agt tot tien aansoeke vir elke opleidings- en onderrigopsie," sê sy.
Sy is self 'n kranige reisiger en geniet dit om personeel op hulle mobiliteitsgeleenthede te vergesel. “Wanneer ek saam met hulle reis, leer ek nie net oor ons vennootinstellings nie, maar ook oor my kollegas," verduidelik sy. “Vir my gaan dit daaroor om professioneel te skakel én om as mense bande te bou – om pret te hê terwyl ons vir 'n trein wag, of om saam te probeer uitpluis hoe die kaartjiemasjien werk."
Vorige ervaring 'n goeie leermeester
Sy het Tale en Filosofie aan die US studeer en by die Stellenbosch Bestuurskool gewerk voordat sy haar in 2006 by US Internasionaal aangesluit het. Sonder dat sy dit besef het, het haar vorige ervarings haar vir die eise van haar huidige pos toegerus, sê sy. “Om by die US te studeer en 'n leiersamp in my koshuis te beklee het my vroeg reeds geleer om met verskillende mense met uiteenlopende sienings en uit verskillende omstandighede te werk. Filosofie het my geleer om nuut te dink en die wêreld uit 'n effens ander oogpunt te beskou, en dat alle oogpunte belangrik is. En die Bestuurskool het my professioneel gevorm: Ek het saam met uiters bekwame bestuurders en kollegas gewerk en baie by hulle geleer. Ek het geleer om verantwoordelikheid te aanvaar vir take en projekte wat aan my toevertrou word, en dat integriteit jou ver bring."
Du Plessis het die volgende raad vir vroue in leiersposte: “Vertrou jou instink en glo in jouself. Maak foute en leer daaruit, maar wees deel van die oplossing. 'n Goeie leier is nie altyd die gewildste persoon nie, en dis oukei. Aanvaar verantwoordelikheid, maar hou ook jou span verantwoordbaar."
As enkelma van 'n ampertiener, sê sy buigsaamheid is belangrik om 'n mens se werk en persoonlike lewe te probeer balanseer. “Omdat ek sommige dae van die huis af kan werk, kan ek hier en daar 'n netbalwedstryd gaan kyk of met huiswerk help. Ek probeer ook so ver as moontlik oor naweke afskakel." Sy sluit af op 'n filosofiese noot: “Die lewe het my geleer om elke dag voluit te leef. So, doen aansoek vir daardie pos. Sê gereeld 'Ek's jammer' en 'Ek's lief vir jou'. Glimlag. Wees gaaf. Doen ekstra moeite. Maak daardie geloofsprong."
Photo by: Stefan Els.