Wêreldnatuurbewaringsdag is op Sondag 28 Julie gevier. In ʼn meningsartikel vir die Mail & Guardian skryf prof Michael Samways van die Departement Bewaringsekologie en Entomologie dat ons insekte moet bewaar omdat sonder hulle grond agteruit sal gaan, talle plante sal sterf en ons kosvoorraad ernstig benadeel sal word.
- Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder of klik hier vir die stuk soos geplaas.
Michael Samways*
Wêreldnatuurbewaringsdag word jaarliks op 28 Julie gedenk om die belangrikheid van die bewaring en beskerming van ons biodiversiteit en natuurlike hulpbronne, insluitende bedreigde plante en diere, te benadruk. Wanneer ons hierdie dag vier, moet ons ook op die sleutelrol van insekte in ons lewe fokus.
Eenvoudig gestel hou die gekombineerde hordes insekte, triljoene en triljoene van hulle, die wêreld soos ons dit ken in stand. Sonder hulle sal grond agteruitgaan, sal talle plante sterf en sal ons kosvoorraad ernstig benadeel word.
Hulle kou alle soorte plantmateriaal en versnipper dit, sodat die klein stukkies wat oorbly vir swamme en bakterieë beskikbaar is om verder af te breek. Gekombineer met minerale, is dit hoe grond gemaak word. Aangesien daar so baie insekte is, is dit nie verbasend dat liggame met ʼn kort lewensduur gou die wêreld vol lê nie. Wanneer insekte vrek, is dit meestal miere wat die opruimwerk doen deur die karkasse weg te neem en op te eet. Op hul beurt bestuif baie ander soorte insekte die blomplante wat ons landskappe versier. Baie van dié blomplante is ons kos. Ons sou nie appels en pere gehad het as dit nie vir bestuiwing deur insekte was nie.
Maar insekbevolkings fluktueer baie en sou buite beheer geraak het as dit nie vir die wigte en teenwigte in die natuur was nie. Dit beteken dat voorkom moet word dat oormatige voeding lewende plante vernietig. In die natuur word dié taak meestal deur ander insekte verrig, soos klein parasitiese wespes en predatore soos liewenheersbesies. Hierdie parasitiese en roofinsekte leef meestal buite plante en beskik oor baie goeie vermoëns om hul prooi op te spoor. Hulle zoem in op plae wat op gewasse sit en verorber dit.
Hierdie is ʼn belangrike proses in die geval van oesplante. In landboustelsels word insekte as plae geklassifiseer wanneer hulle te volop is en die gehalte van die oes knou. Die parasitiese wespes en klein roofinsekte verhinder dat die oes verwoes word. Ons probeer hulle derhalwe soveel as moontlik aanmoedig. ʼn Manier om dit te bewerkstellig is om te verseker dat daar natuurlike plantegroei in die omgewing van die oes is, hetsy tussen die oesgewasse of rondom die lande. Die wespes en hul bondgenote beweeg dan van hierdie natuurlike reservoirs oor om die plaag te beheer. Hulle kan so effektief wees dat die gebruik van skadelike plaagdoders verminder word en in sommige gevalle heeltemal vermy word. Hierdie organiese benadering is beter vir die hele natuur en vir ons gesondheid.
Die Kaapse Blommestreek is selfs volgens wêreldstandaarde ʼn baie spesiale plek, aangesien daar soveel plantspesies is wat net hier en nêrens anders voorkom nie. Die meeste van hierdie plante het bestuiwers nodig en insekte doen die meeste van die harde werk. Interessant genoeg is dit nie net bye wat bestuif nie, maar ook sekere kewers en vlieë. Hierdie bestuiwers is dikwels aangepas om ʼn spesiale verwantskap met sekere plante te vorm.
Daar is ook ʼn mate van mededinging tussen sommige wydverspreide plante. Hierdie mededinging blyk dikwels uit die massa-blommeskouspele wat ons in die lente sien. Dié reuse skouspele het ʼn magnetiese effek, en ʼn hele klomp blomme van dieselfde spesie wat naby mekaar groei het ʼn groot aantrekkingskrag vir die bestuiwers, wat verseker dat ten minste sommige van die blomme bestuif word en sade produseer.
Die Kaapse Blommestreek het nog ʼn interessante eienskap. Talle plantspesies het sade met ʼn smaaklike happie aan die buitekant. Hierdie uitsteeksel is hoogs aantreklik vir sekere miere, wat die saad na hul nes terugdra en die happie eet, terwyl die sade onder die grond gelos word. Hierdie versteekte ruimte is ʼn veilige hawe waar hulle grootliks vry van saadrowers en brande kan ontkiem.
Die insekdiversiteit is werklik merkwaardig, met derduisende insekspesies in hierdie een gebied. Sommige is oeroud en ander het ʼn meer onlangse oorsprong. Dít teen ʼn agtergrond van oerou berge, waarvan die toppe tien keer ouer is as dié van die Alpe of die Andes-gebergtes. Boonop was daar vir langer as 200 miljoen jaar geen voorvalle van gletservorming in die Kaap nie. Gedurende daardie tyd was daar baie belangrike klimaatskommelings en seevlakwisselings, met die see wat op verskillende tye in die verlede 120 m laer en 10 m hoër was.
Al hierdie veranderinge oor ʼn lang tyd het insekpopulasies geïsoleer, wat tot baie diversifikasie in meer moderne tye gelei het. Dit het meegebring dat daar weens isolasie- en diversifikasiegebeure talle ou insekte én sommige baie moderne insekte is. Ons ontdek steeds baie nuwe insekspesies in die Kaapse Blommestreek, dikwels deur molekulêre studies. Wat as een spesie beskou is, blyk dikwels talle te wees.
Dit is dus nie verbasend dat insekbewaring ʼn groot prioriteit in die Kaap is nie, net soos in baie ander wêrelddele. Maar aangesien so baie van die Kaapse spesies net hier voorkom, is dit noodsaaklik en ʼn wedloop teen tyd om hulle almal te bewaar. Ons natuurreservate speel beslis ʼn enorme rol. Voorts bied die oorgang na ekovriendelike boerdery ook groot voordele. Die woorde “integriteit" en “volhoubaarheid" word dikwels vertoon op die nek van wynbottels van plase wat hierdie praktyk bevorder.
Kortom, insekte is nou deel van die geïntegreerde proses van biodiversiteitsbewaring. Dit is iets wat ons almal moet ondersteun om die toekoms van ons wêreld, met al sy komplekse skoonheid en wonder, te verseker. Boonop het ons hierdie klein wesens regtig nodig.
*Michael Samways is ʼn uitgelese emeritus-professor in die Departement Bewaringsekologie en Entomologie aan die Universiteit Stellenbosch. Hy was die skrywer van Conservation of Dragonflies: Sentinels for Freshwater Conservation (CABI/Royal Entomological Society, 2024) en mede-redigeerder van die Routledge Handbook of Insect Conservation (Routledge, 2024).