Om ʼn panoramiese uitsig oor die wêreld te hê en daardie perspektief te gebruik om talle wetenskaplike velde en kommersiële bedrywe te bevorder is die wese van Garth Stephenson se werk as Hoofbestuurder van die Sentrum vir Geografiese Analise (SGA) aan die Universiteit Stellenbosch (US).
Die SGA is in die Departement Geografie en Omgewingstudies gesetel en is ʼn baken van innovasie op die gebied van georuimtelike analise.
Die SGA spesialiseer in geografiese inligtingstelsels (GIS) en aardwaarneming (AW) en lewer dienste oor verskeie sektore heen. Van die innoverende projekte sluit landboumodellering, klimaatdata-analise en watergebruik-kwantifisering in.
Wanneer jy Stephenson vra wat presies die SGA doen, het hy ʼn baie eenvoudige antwoord. “As jy wil weet waar iets gebeur, doen ons navorsing om die antwoord te vind," verduidelik hy.
“Waar goed gebeur, fassineer my. Wanneer iemand vir my sê 'Ek was nou die dag hier en daar, en dit het gebeur,' wil ek dadelik op my foon kyk waar dit is. Ek is so gewoond daaraan om die wêreld van bo af te bekyk. Ek vind ruimtelike patrone fassinerend."
Fassinasie met kaarte
Onder Stephenson se leierskap het die SGA die grense verskuif van hoe geografiese data gebruik kan word om probleme aan te pak.
Sy reis na die wêreld van geografiese inligtingstelsels het begin met sy passie vir die omgewing. “Hoewel ek nog altyd daarvan gehou het om met kaarte te peuter, het ek nie aardrykskunde as hoërskoolvak gehad nie. Dis nogal ironies, want dit is nou so ʼn sentrale deel van my werk. Ek het destyds meer in rekenaarwetenskap belang gestel. Ek het ná skool ʼn BSc in geografiese wetenskap, ekologie en dierkunde aan die Universiteit van Kaapstad gaan doen."
Nadat Stephenson in 2003 gegradueer het, het hy ʼn kort rukkie as ʼn intern vir ʼn omgewingskonsultasiemaatskappy gewerk, waar hy geografiese inligtingstelsels as die interessantste deel van die werk beleef het. Hy het besef watter potensiaal hierdie tegnologie inhou en het besluit om vir ʼn BSc-honneursgraad in geografiese inligtingstelsels en omgewingsanalise aan die US in te skryf, wat hy in 2006 voltooi het. Dit is gevolg deur ʼn meestersgraad in omgewingsbestuur en geografiese inligtingstelsels in 2010.
Stephenson het by die SGA aangesluit net nadat hy sy MSc voltooi het en is danksy sy kundigheid en toewyding in 2014 tot Hoofbestuurder bevorder. Sy rol behels strategiese beplanning, projekbestuur en die ontwikkeling van nuwe GIS- en AW-produkte, met ʼn sterk klem op navorsing en opleiding.
Die SGA gebruik gesofistikeerde rekenaarmodellering om data noukeurig te ontleed, dikwels met behulp van masjienleer, om insigte van onskatbare waarde aan diverse kliënte te bied.
“Ons gebruik satellietbeelde, lugfotografie, hommeltuig-beeldmateriaal en soms veld-instrumente om die data op te neem," verduidelik Stephenson. “Ons werk met teragrepe data wat ons daagliks verwerk. Ons het nogal ʼn groot versameling hardeware wat ons vir verwerkingsdoeleindes gebruik en wat bykans heeltyd loop om hierdie groot ruimtelike datastelle te skep."
ʼn Brug tussen landbou en tegnologie
Benewens sy werk vir eksterne kliënte, het die SGA georuimtelike werk vir baie US-fakulteite en -departemente gedoen, wat wissel van Bos- en Houtwetenskap tot Agronomie, Tuinboukunde, Grondkunde, Plantpatologie, Wingerd- en Wynkunde, Bewaringsekologie en Entomologie, Plant- en Dierkunde, Sielkunde , Ekonomie en Logistiek. Die Sentrum het ook met verskeie navorsers by die Fakulteite Ingenieurswese en Geneeskunde saamgewerk.
Een van die SGA se uitstaande bydraes is op die gebied van landboumodellering. In noue samewerking met organisasies soos HortGro en SA Wine gebruik die Sentrum satellietbeelde en ander georuimtelike instrumente om die welstand van gewasse te monitor en opbrengste met merkwaardige akkuraatheid te voorspel. Hierdie samewerking het tot die ontwikkeling van instrumente gelei wat boere help om datagedrewe besluite te neem, wat produktiwiteit en volhoubaarheid verbeter.
In die lig van die deurslaggewende impak wat klimaatsverandering op landbou het, het die SGA ook ʼn baanbrekersrol in klimaatdata-analise gespeel. In samewerking met Innovus is TerraClim ontwikkel – ʼn afwentelmaatskappy onder leiding van dr Tara Southey wat die Sentrum se klimaatdata-ontledingsinstrumente kommersialiseer. Die totstandbrenging van TerraClim het behels dat weerstasiedata regoor die Wes-Kaap in ʼn gesentraliseerde, gestandaardiseerde databasis saamgevoeg is om omvattende klimaatanalise te fasiliteer.
“Deur TerraClim ontwikkel ons lae klimaatdata van ongeveer 600 weerstasies regoor Suid-Afrika, wat ons daagliks in ʼn sentrale databasis op ons bedieners intrek. Ons standaardiseer en suiwer hierdie weerdata en vul gapings in, en gebruik dit dan om volledige klimaatoppervlaktes te interpoleer. Die produkte wat hierdeur ontwikkel word, stel belanghebbendes in die landbou in staat om ingeligte besluite op grond van akkurate klimaatdata te neem," verduidelik Stephenson. Hierdie instrument is veral nuttig vir boere wat klimaattendense en die impak daarvan op gewasse moet verstaan en help hulle om die nadelige uitwerking van klimaat te temper.
Kwantifisering van watergebruik
Die kwantifisering van watergebruik is nog ʼn belangrike aspek van die SGA se kundigheid. Die Sentrum het besproeiingsgebiede in Suid-Afrika in samewerking met die Waternavorsingskommissie gekarteer. “Ons het satellietbeelde gebruik om besproeiingsgebiede regoor Suid-Afrika te karteer en het afstandswaarneming van evapotranspirasie-data gedoen om te kwantifiseer hoeveel water deur besproeiing in ʼn gebied gebruik word. Soortgelyke benaderings is gebruik om te bepaal hoeveel water in kommersiële en inheemse woude gebruik word." Hierdie inisiatiewe help om waterverbruik deur verskillende grondgebruike te verstaan en speel ʼn deurslaggewende rol in die optimalisering van watertoewysing – ʼn kwessie van deurslaggewende belang in ʼn waterskaars land soos Suid-Afrika.
Die omvang van die SGA se werk strek veel verder as landbou- en klimaatdata. Die Sentrum het die Raad vir Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsing byvoorbeeld met modellering van kuserosie en vloedrisiko's bygestaan en sy kundigheid is gesog in velde so uiteenlopend soos kommersiële bosbou, bewaringsekologie, stedelike beplanning en selfs misdaadkartering. ʼn Onlangse projek het behels om US-navorsers by te staan met die ontleding van besoedelingsblootstelling wat met swangerskap verband hou. Dit het die SGA se vermoë ten toon gestel om georuimtelike analise op gesondheidstudies toe te pas.
Nog ʼn diens wat deur die SGA aangebied word, behels die ontwikkeling van kaarte. Die Sentrum verskaf diverse kartografiese dienste vir akademiese en nie-akademiese publikasies deur kaarte te ontwikkel wat aan kliënte se behoeftes voldoen.
Die SGA is verbind tot die bevordering van georuimtelike opleiding en bied deeltydse aanlyn kursusse in geografiese inligtingstelsels en aardwaarneming aan wat deur die US geakkrediteer is. Hierdie kursusse is pasgemaak vir beroepslui en studente in die bedryf en rus hulle met die vaardighede toe wat nodig is om georuimtelike tegnologie in hul onderskeie velde te benut.
“Ons kortkursusse is ongelooflik gewild en deelnemers wissel van staatsamptenare tot nieregeringsorganisasies, private maatskappye, akademiese navorsers en selfs individue buite die georuimtelike veld wat bloot kaarte wil produseer," sê Stephenson. Die volgende kortkursus word van 29 Julie tot 23 Augustus aangebied.
FOTO: Stefan Els