In die lig van die Universiteit Stellenbosch (US) se fokus op sosiale impakbewustheid in Julie, vier hierdie reeks profiele merkwaardige individue en spanne wat ʼn betekenisvolle bydrae buite die Universiteit se mure lewer. Die onlangse eerste Sosiale Impak-toekennings het erkenning verleen aan akademiese en professionele administratiewe ondersteuningsdienstepersoneel (PASS) van die US wat positiewe verandering in diverse lewensfere bevorder. Merin Raju Jacob, ʼn junior navorser by die Sentrum vir Volhoubaarheidsoorgange (SVO), was een van die wenners in die individuele kategorie van die Sosiale Impak-toekennings vir haar betrokkenheid by die voorspraakgroep, die Stellenbosch-haweloosheidsforum (SHF).
Die stortreën en stormwinde wat Stellenbosch vandeesweek getref het, het baie mense se lewe ontwrig. Die lot van die mees kwesbare individue in die dorp het skerp in die kollig gekom toe hawelose mense desperaat beskerming teen die elemente gesoek het. As iemand met ʼn persoonlike en akademiese belangstelling in die aanpak van dié kwessie, verstaan Merin Jacob die gemengde emosies wat haweloosheid ontlok.
Haar reis met die SVO het verlede jaar begin toe die munisipaliteit vrywilligers gesoek het wat ʼn verskil aan haweloses se lewe wou maak. Jacob het geesdriftig gereageer. Haar passie vir die saak, asook ʼn agtergrond in ingenieurswese en volhoubaarheidstudies, het haar genoop om na deernisvolle én praktiese oplossings te help soek.
Die SVO is ʼn gesamentlike onderneming wat deur organisasies en individue gestig is en ten doel het om saam ʼn uitweg vir die hawelose of onbeskutte mense in Stellenbosch te vind, verduidelik Jacob. As sameroeper van die uitvoerende komitee bring sy uiteenlopende belanghebbendes byeen, soos die plaaslike munisipaliteit, die Stellenbosch-nagskuiling, die US, die Wynlandveiligheidsinisiatief, die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling en verskeie kerke en nieregeringsorganisasies, byeen te bring.
“Die afgelope jaar was ʼn steil leerkurwe om te probeer verstaan wat haweloosheid in Stellenbosch behels en hoe ons kan saamwerk," vertel Jacob. “Ons het probeer om ʼn gedeelde begrip te skep van wat die probleme is en wat ons fokus moet wees. Ons het ʼn bestekopname gedoen van al die instellings wat met haweloosheid te doen het om verwysings te vereenvoudig.
“Ons het verlede jaar ʼn peiling onder 67 mense binne die hawelose gemeenskap gedoen om die situasie spesifiek hier in Stellenbosch te verstaan. Ons het ook ʼn peiling van die openbare persepsie gedoen om te bepaal hoe die algemene publiek met haweloses omgaan en waar hulle voel die verantwoordelikheid lê. Ons glo nie die oplossings berus net by die munisipaliteit of plaaslike owerhede nie. Ons verstaan die plaaslike regering se uitdagings. Haweloosheid is ons almal se probleem."
Samewerkende, doelgerigte en konsekwente pogings is nodig om individue van die strate af te kry en weer by die samelewing te integreer. Dit is presies wat die SVO probeer bewerkstellig, verduidelik Jacob.
Vennootskappe
Jacob is opgewonde oor samewerking met organisasies wat elders sukses behaal het, soos U-turn en MES (ʼn organisasie wat hawe- en werklose mense in stede landwyd holisities bemagtig). “U-Turn Homeless Ministries is nogal ʼn groot organisasie en het uitstekende programme om individue te help om haweloosheid te oorkom deur middel van vaardigheidsontwikkeling, om van verslawing te herstel en werksgeleenthede. Ons is gretig om by hulle te leer."
Die SVO wil ook graag ʼn inloop-fasiliteit vir U-turn in Stellenbosch vestig sodat hulpmiddels gedurende die dag aan hawelose mense beskikbaar gestel kan word.
As ʼn navorser by die SVO is Jacob se akademiese belangstellingsveld verstedeliking en billike energie-oorgange. Grade in meganiese ingenieurswese en toekomsstudies het haar van ontwerp en ingenieurswese na komplekse stelsels gelei. “Ek doen my meestersgraad om te probeer verstaan hoe ons nuut kan dink oor stede as plekke wat beide mensgerig en omgewingsgesentreerd kan wees. Dit is belangrik om vanuit die perspektief van kwesbare gemeenskappe daaroor te besin," benadruk sy.
Om haweloosheid aan te pak beteken om veelvuldige lae van kompleksiteit te deurgrond, merk Jacob op. Kwessies soos openbare toilette wat snags gesluit word en die gebrek aan ʼn inloop-fasiliteit vir hawelose individue is van die kritieke uitdagings wat die SHF probeer oplos.
Een van die dinge wat Jacob geleer het sedert sy by die hawelose gemeenskap betrokke geraak het, is hoe moeilik dit is om jou besittings veilig te hou. “Hawelose mense verloor dikwels noodsaaklike items, soos ID-dokumente, wat van deurslaggewende belang vir toegang tot verskeie dienste is. Ek het al stories gehoor van mense wie se besittings, soos klere en komberse, verbrand is. Ek vind daardie gevoel van bitter min sekuriteit tragies, ook omdat dit beteken hawelose mense is vasgevang in ʼn nimmereindigende stryd om noodsaaklike items te vervang. Dit verklaar ook die kompleksiteit om 'n veilige hawe vir hulle te bied soos nagskuilings, want soms is die enigste alternatief om op straat te bly om die bietjie wat jy het te beskerm."
Jacob, wat oorspronklik van Tzaneen in Limpopo kom, sê sy het eers die waarde van grootword in ʼn klein dorpie waardeer toe sy ʼn student aan die Universiteit van Pretoria geword het. “Tzaneen is die soort plek waar jy ʼn bekende raakloop as jy winkel toe gaan, of waar hulle jou naam ken as jy biblioteek toe gaan. Toe ek Pretoria toe getrek het om te studeer, het die armoede wat ek teëgekom my diep geskok. Jy sal tien haweloses per dag ontmoet. Om die stories te hoor van kinders wat die huis moes verlaat omdat hulle geld moes verdien vir gesinne waarvan die broodwinners gesterf het, was hartverskeurend."
Deernis en begrip
Haar benadering tot haweloosheid is diep gewortel in begrip en deernis. Sy glo almal moet voel hulle behoort iewers en dit sluit die hawelose gemeenskap in. “Geborgenheid is iets waaroor ek baie sterk voel. Dis van deurslaggewende belang om 'n plek te hê waar jy tuis voel en die hawelose gemeenskap word gewoonlik nie behandel asof hulle behoort nie."
Jacob erken dat die openbare persepsie van haweloosheid dikwels negatief is en dat min konsensus bestaan oor wie vir oplossings verantwoordelik moet wees. Diegene wat wil help en ʼn verskil wil maak, het soms ʼn gebrek aan kennis oor ondersteuningstelsels.
Dit is belangrik om die komplekse emosies te verstaan wat ervaar word wanneer mense met haweloosheid gekonfronteer word. Wanneer iemand negatief op ʼn hawelose reageer, is dit nie altyd weens kwaadwilligheid nie, verduidelik Jacob. “Soms voel mense oorweldig of hulpeloos om ʼn betekenisvolle verskil op lang termyn te maak. ʼn Algemene refleksreaksie is om jouself van die haweloses te probeer distansieer. Maar wanneer jy luister na mense wat aan haweloosheid ontsnap het, sê hulle dikwels een van die ergste goed is om geïgnoreer te word en nie hul storie te kan deel nie.
“ʼn Deel van die probleem is dat die hawelose gemeenskap nie homogeen is nie en dat daar ʼn magdom omstandighede is wat mense tot haweloosheid dryf. Talle van die uitdagings wat daarmee gepaard gaan, is bloot te wyte aan ʼn stagnante ekonomie en ons reuse werkloosheidsprobleem. En ja, daar is soms misdadige elemente in die hawelose gemeenskap en dwelmmisbruik kom algemeen voor, dikwels as reaksie op trauma of om die situasie te probeer hanteer. Ek dink ʼn groot bekommernis is hoe ons kan seker maak daar is nie meer mense wat haweloos raak terwyl ons ander probeer help om daaraan te ontsnap nie."
Spanpoging
Jacob se werk is nie tot plaaslike pogings beperk nie. Sy is by breër gesprekke betrokke, insluitend die ontwikkeling van ʼn nasionale haweloosheidsbeleid in samewerking met die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing en U-turn. Die doel is om ʼn meer omvattende en deernisvolle benadering tot haweloosheid te skep wat die geleefde ervarings van hawelose individue in ag neem.
Jacob sê sy is diep dankbaar vir die ondersteuning wat sy van die Universiteit en die SVO ontvang. “Ek is so gelukkig om by die US te kan wees. Ek dink die akademie is een van die wonderlike ruimtes om in te wees wanneer mens uitdagende probleme probeer aanpak. Ek werk in so ʼn merkwaardige omgewing." Sy gee alle eer aan haar kollegas en bestuurders vir die ondersteuning wat hulle haar bied om by aktivistiese navorsing betrokke te raak en maatskaplike verandering te bevorder.
Jacob sê die ontvangs van die Sosiale Impak-toekenning was ʼn groot verrassing. “In my toespraak het ek dit duidelik gemaak dat dit nie my individuele toekenning is nie. Ek is net die persoon wat by die US gesetel is, daarom is my naam op die sertifikaat. Dit is ʼn spanpoging," benadruk sy. Die wengeld sal gebruik word vir die bou en uitbreiding van die ondersteuningsnetwerk wat die SHF reeds gevestig het.
Oor die pad vorentoe sê Jacob die SHF beplan gefasiliteerde gesprekke met verskeie gemeenskappe in Stellenbosch om die kwessies en uitdagings wat met haweloosheid gepaard gaan, beter te verstaan. Hierdie besprekings sal huiseienaars, besighede, studente asook die hawelose gemeenskap self insluit. “Dit sal wonderlik wees om hul stemme te hoor en hul perspektiewe te verstaan," sê Jacob.
Hooffoto: Merin Raju Jacob (middel) ontvang haar Sosiale Impaktoekennig van dr Zetu Mkize (Direkteur: Transformasie) en Renee Hector-Kannemeyer (Adjunkdirekteur: Sosiale Impak en Transformasie).