Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Sosiale Impak: Bewaring van Pniël se ryk geskiedenis is Myburgh se passie
Outeur: Corporate Communications and Marketing (Hannelie Booyens)
Gepubliseer: 04/07/2024

​Die Universiteit Stellenbosch (US) fokus in Julie op die bewusmaking van sosiale impak. Daarom vier hierdie reeks profiele merkwaardige individue en spanne wat 'n betekenisvolle bydrae buite die Universiteit se mure lewer. Die onlangse eerste Sosiale Impak-toekennings het erkenning gegee aan akademiese en professionele administratiewe steundienste- (PASD-)personeel aan die US wat positiewe verandering in diverse lewensfere aandryf. Janine Myburgh, senior administratiewe beampte by die Departement Siviele Ingenieurswese, was een van die wenners in die Spanleier-kategorie van die Sosiale Impak-toekennings.

Toe Myburgh 'n Sosiale Impak-toekenning in ontvangs geneem het vir haar uitstaande bydrae tot die bevordering en bewaring van die kultuur en erfenis van Pniël, het sy roerend oor haar liefde vir haar gemeenskap gepraat. "Alles wat ek doen, is uit liefde vir my gemeenskap en omdat ek lief is vir mense," het sy opgemerk.

Myburgh het verlede jaar ook die gesogte Fenomenale Vrou in Bestuur-toekenning van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit ontvang vir haar toewyding aan die Pniël Erfenis- en Kultuurtrust. Sy het ook die afgelope jaar 'n eretoekenning van die e'Bosch-erfenisprojek ontvang vir haar bydrae tot die bewaring van Pniël se kultuur en erfenis.

Die doel van die Trust is om die kulturele en historiese erfenis van Pniël te beskerm, te ontwikkel en te bevorder en om brûe tussen die gemeenskappe in die Dwarsrivervallei te bou, verduidelik Myburgh. “Die Trust is die enigste liggaam van sy soort in die vallei. Afgesien van erfenisinisiatiewe reël die Trust ook kulturele geleenthede soos die Adam Small Literêre Fees en die jaarlikse krisanteskou in Mei. Ons bestuur ook 'n kunsskool vir laerskoolleerders, 'n skryfskool vir laer- en hoërskoolleerders en 'n skryfskool vir volwassenes in samewerking met die ATKV."

Met familiewortels wat diep lê in Pniël, vergestalt Myburgh die veerkragtigheid, geloof en gemoedelikheid van die hegte gemeenskap waarin sy grootgeword het. Sy was nog altyd passievol oor die viering van die kulturele erfenis van die dorpie van sowat 4 000 siele aan die voet van Simonsberg.

“Ek is gebore en getoë in Pniël en het ook hier getrou," vertel sy trots. “Albei my ouers het uit families gekom wat afstammelinge van slawe was. Nadat slawerny in 1834 afgeskaf is, het twee boere 'n stuk grond aan die vrygestelde slawe gegee om 'n sendingnedersetting te vestig."

Pniël is in 1843 formeel deur die Apostoliese Unie, 'n nie-kerklike protestantse groep, gestig. Ná meer as 'n eeu van selfbestuur is die dorp nou deel van die Stellenbosch Munisipaliteit, wat 10 km verder lê.

Herinneringe uit haar kinderdae

Myburgh se pa is oorlede toe sy nog 'n kleuter was en haar broer net drie maande oud. “Ek is deur 'n enkelma grootgemaak, maar die gemeenskap het ons help grootmaak en my ma deur dik en dun ondersteun. Destyds het almal mekaar geken, dit is die beste deel van grootword in 'n dorp. Omdat Pniël vroeër 'n sendingstasie was, is daar net een kerk. Wanneer 'n kind gedoop word, staan die hele gemeenskap op en sê hulle sal help om die kind groot te maak. Ons neem die verantwoordelikheid baie ernstig op, hoewel sommige kinders nie daarvan hou nie!" lag sy.

Dit is gelukkige herinneringe uit haar kinderdae van stap onder lanings eikebome en deur mense se huise na die boorde en verby historiese geboue wat haar geïnspireer het om die dorp se unieke karakter te bewaar, sê Myburgh. Sy was nog altyd by gemeenskapsinisiatiewe betrokke en die afgelope paar jaar het haar leierskapsverantwoordelikhede natuurlik ontwikkel. Sy is deur die kerk benoem om op die Pniël Erfenis- en Kultuurtrust te dien en is in 2019 tot voorsitter verkies. Sy het ook vir 'n paar jaar die gemeenskap as wykskomiteelid gedien.

“Sommige bure dink ek is nog steeds die wykskomiteelid. Hulle sal vir my 'n boodskap stuur om te vra waarom daar nie water is nie of waarom die krag af is. Aanvanklik sou ek vir hulle sê, luister, ek is nie meer op die komitee nie. Maar nou vind ek net uit en laat hulle weet. Ek hou daarvan om te weet wat aangaan."

Myburgh was instrumenteel in die oprigting van 'n museum wat aan die geskiedenis van Pniël gewy is nadat die ou kerkhuis in 2010 na 'n nuwe gebou verskuif is. "Ons het dr Matilda Burden by die US Museum in verbinding getree wat ons gehelp het om die museum in te rig en inligting in te samel. Van haar studente het met navorsing gehelp. 'n Voormalige Rektor en Visekanselier van die US, prof Andreas van Wyk, was ook 'n groot hulp om dinge van die grond af te kry."

Die Pniël-museum is in 2012 geopen en spog nou met foto's, stories en artefakte wat professioneel uitgelê is en wat besoekers terugneem in tyd.

Buiten haar fassinasie met geskiedenis, het 'n kursus in die bevordering van betrokke burgerskap wat Myburgh aan die US voltooi het, ook haar denke verdiep oor watter soort verskil sy in haar gemeenskap wil maak. Betrokke burgerskap strook perfek met haar eie etos. “Jy moet betrokke wees by jou omgewing en die meeste maak met wat jy het. As ek voor my huis vee en dit is skoon en almal doen dit, baat ons almal daarby. Pniël se mense is baie trots, maar ook nederig. Ons is baie selfstandig."

Janine Myburgh_web photo.png

Gekwalifiseerde radiogravis

Hoewel sy aanvanklik as radiogravis opgelei is, was Myburgh se loopbaan in die mediese veld van korte duur. “Ek het by die Tygerberg-hospitaal begin werk en later na 'n hospitaal in die Paarl oorgeskuif, maar toe ek swanger raak, moes ek weens die bestralingsrisiko ophou werk as radiogravis. Ongelukkig was daar nie 'n administratiewe pos by die hospitaal beskikbaar nie. Na die geboorte van ons derde kind het dit my begin verveel om voltyds huisvrou te wees. Toe daar in 1997 'n administratiewe pos by die US se Departement Siviele Ingenieurswese beskikbaar word wat my in staat gestel het om fleksietyd te werk, het dit my perfek gepas."

Sy is in 1999 by SU as sekretaresse aangestel vir TRAC SA en in 2003 het haar aanstelling in die Departement Siviele Ingenieurswese permanent geword. Sy bestuur tans die nagraadse kortkursusse wat deur die departement aangebied word. Dit is 'n voorreg en plesier om met studente te werk en die US se transformasie die afgelope twee dekades te kon aanskou, sê Myburgh.

Om 'n ondersteunende werksomgewing en 'n bemoedigende gesin te hê, stel haar in staat om betekenisvolle sosiale impak te hê. Sy hou daarvan om besig te wees en werk dikwels tot middernag. Die meeste van haar naweke is met gemeenskapswerk gevul. “Ek glo in die gesegde dat wanneer jy iets gedoen moet kry, gee dit vir iemand wat besig is. Ek is gelukkig dat my man William afgetree is en die meeste van die huiswerk kan doen wanneer ek besig is. Hy doen die wasgoed, en ons maak beurte om te kook. Ons is na aan ons twee seuns, dogter en skoonseun en kleinkind en nogal 'n sosiale gesin."

Myburgh gesels geesdriftig oor die geleenthede wat nog vir die res van die jaar in Pniël beplan word. “Daar is altyd 'n groot Erfenisdagviering in September en ons herdenk elke jaar op 1 Desember die bevryding van slawerny op Die Werf langs die museum waar jy die slawemonumente sal vind. Vanjaar is nogal 'n mylpaal, want dis 190 jaar sedert die slawe in die Kaap bevry is. Ons het 'n vol program op Die Werf en sal kranse lê. Die oorspronklike slaweklok lui presies om 12:00."

Die verkryging van finansiering om 'n voltydse bestuurder en personeel by die Pniël-museum aan te stel, is 'n groot prioriteit, sê Myburgh. Weens beperkte befondsing is die museum slegs vier dae per week oop vir besoekers. Die Trust is altyd op soek na befondsing vir hulle projekte. Daar word beplan om 'n plaaslike entrepreneur die geleentheid te bied om 'n teetuin by die museum te bedryf.

Op die lang termyn wil Myburgh graag die geskiedenis van die slawe en hulle nageslagte naspeur en dokumenteer, 'n projek waarmee die US die Pniel-gemeenskap ondersteun. "Prof Johan Fourie van die US se Departement Ekonomie doen navorsing oor die uitwerking van slawerny op die ekonomiese geskiedenis van Suid-Afrika. Dié navorsing het toegang verkry tot rekords wat nog nie voorheen beskikbaar was nie. Dit vorder stadig, want slawe se name is dikwels verander en mense het nie altyd rekord gehou nie. Ek hoop dat ons vennootskap met navorsers sal groei om ons te help om ons slawe-herkoms na te speur en dat ander instellings ook aan boord kom."

'n Tante van Myburgh wat onlangs in die ouderdom van 102 oorlede is, het die behoefte beklemtoon om die verhale van die ouer Pniël-inwoners op te teken voordat dit te laat is. “Die slawegeskiedenis is nog nie voltooi nie. Daar is nog soveel navorsing wat ons wil doen. My tannie was maar 13 toe sy begin werk het. Daar is so baie soortgelyke verhale van bejaardes in ons gemeenskap wat ons moet opteken en vir die komende geslagte bewaar."

  • Die Pniel-museum is Dinsdae tot Vrydae van 10:00 tot 16:00 oop. Spesiale besoeke kan buite hierdie tye gereël word.
Hooffoto: Janine Myburgh (middel) ontvang haar Sosiale Impaktoekennig van dr Zetu Mkize (Direkteur: Transformasie) en Renee Hector-Kannemeyer (Adjunkdirekteur: Sosiale Impak en Transformasie).​