Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe boek plaas die “lener van die laaste uitweg” onder die vergrootglas
Outeur: Petro Mostert
Gepubliseer: 20/06/2024
  • ​Prof Stan du Plessis, die Universiteit Stellenbosch se Uitvoerende Bedryfshoof, was die medeskrywer van ʼn nuwe boek oor hoe belangrik sentrale banke se onafhanklikheid is
  • Nuwe boek plaas die vergrootglas op regerings om die rol en mandaat van sentrale banke te respekteer en om die druk te verlig wat op hierdie banke geplaas word om die land se fiskale behoeftes te bevredig.

Dit het begin met ʼn reeks artikels oor die lesse wat geleer is uit die Wêreldwye Finansiële Krisis (ook bekend as die Groot Resessie) van 2007-2008 — ʼn krisis wat ontstaan het weens die roekelose of lakse leningstandaarde en ʼn huismarkborrel tot gevolg gehad het. Ses jaar en 266 bladsye later het ʼn vollengte boek sy verskyning gemaak wat ʼn sterk argument aanvoer vir die herstel van sentrale banke se onafhanklikheid en hul noue en toepaslike doelwit van lae en stabiele inflasie oor die medium termyn herbeklemtoon.

Die boek, Reconsidering Central Bank Independence, het onstaan uit drie skoliere se navorsing en skryfwerk oor drie jaar: Prof Stan du Plessis, die US se Uitvoerende Bedryfshoof, Prof Andreas Freytag, professor in Ekonomie aan die Friedrich-Schiller-Universit Jena, waar hy aan hoof staan van die Schumpeter sentrum vir navorsing en sosio-ekonomiese verandering (JSEC), en 'n ereprofessor aan die US, en Dr Dawie van Lill, tans ʼn senior makro-prudensiële spesialis by die Suid-Afrikaanse Reserwebank.

Reconsidering Central Bank Independence neem jou terug na die tyd toe sentrale banke ontwikkel het voor die moderne era wat gelei het tot die 2007-2008 Wêreldwye Finansiële Krisis (WFK). Die boek handel ook oor die krisisse binne die Eurosone, die COVID-19 pandemie en die Russiese inval in die Oekraïne in Februarie 2022.

Eers gedurende die eerste dekades van die twintigste eeu het sentrale banke, met hul moderne rolle en verantwoordelikhede, as 'n volledige pakket na vore gekom. Die voorlopers van die eerste Sentrale Bank soos ons dit vandag ken — die Sverige Riksbank van Swede — is in 1668 gestig, gevolg deur die Bank van Engeland (BvE) in 1694 en, heelwat later, die Banque de Franc in 1800. Daar is tans 179 sentrale banke in die wêreld, en hul primêre verantwoordelikhede sluit in om as die regering se bankier te dien, om die uitreiking van banknote en munte te kontroleer, en op te tree as die finansiële bedryf se reguleerder en die “uitlener van die laaste uitweg" (lender of last resort).

As 'n bekende ekonoom, gegradeerde navorser, voormalige president van die Ekonomiese Vereniging van SA, en 'n voormalige lid van die "Harvard-groep" van ekonome wat die Suid-Afrikaanse regering oor monetêre beleid gedurende die Mbeki-era geadviseer het, was dit Du Plessis se merkwaardige ondervinding in monetêre beleid wat hom oor die jare in staat gestel het om noemenswaardige bydraes te lewer tot verskeie boeke en akademiese referate oor monetêre beleid.

Du Plessis sê 'n algemene tema regdeur die boek is die ondraaglike versoeking onder regerings om hul fiskale beleidsprobleme op te los met die kragtige instrumente wat ʼn Sentrale Bank tot sy beskikking het. Dit is 'n versoeking wat die regering moet weerstaan en die boek handel oor die belangrikheid van die gevolglike onafhanklikheid van die Sentrale Bank. Die boodskap is van hedendaagse belang gegewe die druk op sentrale banke wêreldwyd die afgelope jare.

Tydens die finansiële krisis van 2007-2008 was die belangrikste doelwit van die sentrale banke om 'n herhaling van die Groot Depressie in die 1930's te voorkom. "Dit is belangrik om te onthou dat die ineenstorting van die aandelemark in 1929 nie die Groot Depressie veroorsaak het nie, maar eerder die versuim van sentrale banke om solvente handelsbanke te ondersteun toe hul likiditeit 'n jaar later onder druk gekom het. Destyds het sentrale banke (veral die Federale Reserweraad in die VSA), nie hul rol vervul as die uitlener van laaste uitweg om die finansiële sektor te stabiliseer nie, hulle het hul belangrikste plig versuim.

Die boek se omslag - 'n man wat 'n groot wavrag met banknote oor die tremlyn in Weimar, Duitsland, gedurende 1922 stoot - illustreer die gevolge van hiperinflasie. "In die middel van 1922 kon jy 320 Duitse mark vir een Amerikaanse dollar verruil, en in Desember van dieselfde jaar het dit geval tot 7 400 mark vir elke dollar en teen November 1923 was een dollar, 4 210 500 000 000 mark werd — 'n nommer wat mens moeilik kan lees," sê Du Plessis. Geen wonder hulle het 'n wa nodig gehad om al daardie geld te vervoer nie, en wat bekend geword het as "kruiwa-inflasie".

“Selfs al het sentrale banke daarin geslaag om die finansiële sektor ná die finansiële krisis van 2007-2008 te stabiliseer, het die ekonomie stadiger gegroei as wat verwag is, en daar was druk op sommige van hierdie banke om in te gryp om die ekonomie te versterk. Hulle het daarom die mandaat uitgebrei om nie slegs die waarde van die geldeenheid te beskerm en prysstabiliteit te verseker nie," het Du Plessis gesê.

Du Plessis sê ons moet onthou dat die Sentrale Bank se onafhanklikheid ook 'n "onderhandelde onafhanklikheid" is, en net so gou as wat die regering hierdie onafhanklikheid aan die bank kan gee, kan hy dit ook wegneem. Soos die skrywers in die eerste hoofstuk sê: "Hierdie spanning tussen die sentrale bank se behoefte aan onafhanklikheid en die begeerte van die samelewing om dieselfde bank in 'n demokratiese omgewing aanspreeklik te hou, is ʼn tema wat regdeur die boek loop."

"In die onlangse verlede het ons gesien hoe Turkye hulself in nog 'n geldeenheidskrisis bevind het toe die land se president Recep Tayyip Erdogan die hoof van die sentrale bank, goewerneur Naci Agbal, afgedank het. Dit het hy gedoen nadat die voormalige minister van finansies rentekoerse verhoog het om 'n skerp verhoging in die Inflasiekoers teen te werk. Ná 'n relatiewe stabiele tydperk het Turkye skielik weer met inflasie van 150 persent geëindig.

Regdeur die boek is die skrywers baie komplimenterend teenoor die Suid-Afrikaanse Reserwebank en hoe die instansie regdeur die verskillende krisisse in die wêreld bestuur is.

"Die Zuma-administrasie kon nie die Reserwebank binnedring nie. Natuurlik het die voormalige administrasie baie hard probeer om die tesourie binne te dring in wat almal onthou, die aanstelling van ons spesiale "naweek minister" van finansies, Des van Rooyen.

“Wat die President gekeer het, was die kapitaalmarkte," sê Du Plessis. "Die rand het so vinnig gedaal dat selfs president Zuma geskrik het en in sy spore omgedraai het. Dit laat my dink aan president Harry Truman — die 33ste Amerikaanse president — se antwoord op die vraag aan die einde van sy termyn: "As jy wedergebore word, wil jy graag weer die president van Amerika word, aangesien dit die magtigste posisie in die wêreld is?" Truman het gesê nee, die aandelemark is die kragtigste mag op aarde. Die kapitaalmarkte bepaal wat die regering mag en nie mag doen nie. Net soos president Zuma, moes president Erdogan ook toegee en sy onortodokse geldelike ingrypings omkeer."

Du Plessis sê ongelukkig was die Zimbabwiese ekonomie nooit aan enige van die kapitaalmarkte gekoppel nie. Daarom het dit in duie gestort en katastrofies met hiperinflasie geëindig. Die gevolg was die totale vernietiging van die Zimbabwiese ekonomie.

Du Plessis het verwys na 'n aanhaling in John Maynard Keynes se boek The Economic Consequences of the Peace (1919), waar Keynes aangevoer het dat die Verdrag van Versailles se strafbepalings tot verdere globale konflik sou lei. Keynes het voorspel dat hiperinflasie die gevolg sou wees van die oordrewe fiskale eise van die vredesverdrag.

"Daar word gesê dat Lenin verklaar het dat die beste manier om die Kapitalistiese Stelsel te vernietig, was om van sy geldeenheid ontslae te raak. Lenin was beslis reg. Daar is geen subtieler manier om die bestaande grondslag van die samelewing omver te werp as om die geldeenheid te vernietig nie. Die proses betrek al die verborge magte van ekonomiese reg aan die kant van die vernietiging en doen dit op 'n manier wat geen mens uit 'n miljoen dit kan diagnoseer nie," het Keynes destyds aangevoer.

Du Plessis sê ná die finansiële krisis was daar kommer oor 'n nuwe en wyer mandaat vir sentrale banke waar hulle ook bykomende verantwoordelikheid aanvaar vir langtermyn ekonomiese groei, werkloosheid, en selfs vir die groen ekonomiese oorgang. "Hoewel dit alles wonderlike doelwitte is om te hê, het die lesse uit die 20ste eeu ons geleer dat dit die regering se agenda is. Ons moet nie die sentrale banke se balansstate gebruik om dit te bereik nie. Wanneer die lyne tussen sentrale banke en die fiskale owerhede vervaag, eindig jy met 'n onverantwoordelike monetêre beleid en uiteindelik onaanvaarbare inflasie."

"Regoor die wêreld het ons gesien dat ná veertig jaar van lae inflasie, vir die eerste keer in 2020, hoe hoë inflasie van sentrale banke begin weghardloop het. Dit was geen verrassing vir ons nie. Dit was ook nie verbasend dat die sentrale banke gesukkel het die inflasie onder beheer die kry nie. Die rede was dat hulle nie meer op inflasie gefokus het nie."

Du Plessis het gesê dit was nie die geval in Suid-Afrika nie, waar ons Reserwebank — gestig in 1921 —  sy oë op daardie een enkele doelwit gehou het en sy onafhanklikheid deur die afgelope vyftien jaar behou het. "Die enigste manier waarop 'n mens die status quo vir sentrale banke regoor die wêreld kon herstel, was om te verseker dat daar geen verwarring is oor wat die rol en verantwoordelikheid van die sentrale bank en die regering is nie. Dit beteken jy moet die rol van die sentrale bank beperk tot lae en stabiele inflasie en hul onafhanklikheid sonder politieke inmenging verseker. Eers dan sal die sentrale bank in sy mandaat kan slaag."

Du Plessis werk reeds aan sy volgende boek, hierdie keer saam met sy PhD-promotor, prof Ben Smith, wat hy as een van die mees invloedryke mense in sy loopbaan beskou. "Dit is meer 'n geskiedenisboek. Dit dek die geskiedenis van monetêre beleid sedert die jaar 2000."

Du Plessis sê dit was nie die maklikste taak om 'n boek te skryf terwyl hy ʼn baie besige rol as Bedryfshoof van die US vervul het nie, maar hy was dankbaar vir sy mede-outeurs se geduld. 

Du Plessis meen universiteitsbestuurders moet in kontak bly met en aktief betrokke wees by die akademiese omgewing. "Dit is belangrik om die wêreld vanuit 'n akademiese perspektief te verstaan. En die beste manier om dit te doen is om self een te wees."

Sy aktiewe betrokkenheid by die akademiese en navorsingsomgewing blyk duidelik uit die feit dat hy twee keer deur die Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies as een die US se voorste navorsers erken is sedert hy die rol van bedryfshoof aanvaar het.

Cambridge University Press het die boek aan die begin van Mei vanjaar gepubliseer. Die amptelike boekbekendstelling was op 18 Junie 2024 by Die Stal, die US se Alumni Klubhuis op die Coetzenburg-gronde, Stellenbosch.


Vir navrae
Petro Mostert

M 0823346193

E petromostert8@gmail.com

 

Die boek is aanlyn beskikbaar by Oxford University Press online