As jy 'n seevaarder is, is die laaste ding wat jy wil hê om aan bewegingsiekte te ly en seesiek te word. Wanneer jy besig is met dek- en verblyfpatrollies, die vaartuig stuur, diens doen op die uitkyk, of die offisier aan diens bystaan, het jy nie nog duiseligheid, moegheid, naarheid en braking en algemene ongemak nodig nie.
Aangesien sommige seevaarders vatbaarder is vir seesiekte as ander, en hulle reaksies verskil, is dit belangrik om te bepaal hoe dit elke individuele seevaarder beïnvloed.
“Bestaande modelle is geneig om vlakke van bewegingsiekte vir groepe, eerder as individue, te beskryf. Navorsing oor bewegingsiekte blyk om op 'n manier gedoen te word wat data van individue versamel en dan resultate tydens ontleding saamvoeg," sê dr Nicole Taylor, 'n nadoktorale navorsingsgenoot in die Klank- en Vibrasie-, en die Megatronika-, Outomatiserings- en Ontwerpnavorsingsgroepe in die Departement Meganiese en Megatroniese Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch (US). Taylor het navorsing oor bewegingsiekte onder passasiers en bemanningslede op die SA Agulhas II, Suid-Afrika se poolnavorsings- en voorradeskip, gedoen. Sy het onlangs haar doktorsgraad in megatroniese ingenieurswese aan die US verwerf.
Taylor het as deel van haar navorsing die Mariner 4.0-stelsel – wat seevaarders met tegnologie toerus wat hulle met hulle take kan help – geskep om navorsing oor bewegingsiekte onder seevaarders te bevorder. Die stelsel het die Mariner 4.0-applikasie gebruik – 'n gebruikersvriendelike mobiele toepassing met 'n 84%-bruikbaarheidstelling wat sy intern ontwikkel het – en papiergebaseerde vraelysboekies, wat sy daaglikse dagboeke noem.
Mariner 4.0 het die mobiele data-insameling van die seevaarders gefasiliteer op die SA Agulhas II, wat toegerus is met 'n magdom laboratoriums en instrumente vir navorsingsdoeleindes, insluitende 'n internetdatanetwerk met Wi-Fi-toegangspunte wat oor die vaartuig versprei is om kommunikasie aan boord en oor 'n afstand te help. Die applikasie gebruik kommunikasietegnologie in die nabye omgewing – draadlose tegnologieë wat kommunikasie tussen toestelle moontlik maak as hulle naby mekaar geplaas word – vir liggingopsporing.
Taylor het die Mariner 4.0-applikasie per hand op deelnemende passasiers se slimfone geïnstalleer. Hulle is aangemoedig om hulle ervaring van bewegingsiekte en ligging aan boord minstens drie maal per dag gedurende etenstye met behulp van die applikasie aan te teken; en om elke oggend hulle daaglikse vraelyste te voltooi en om na te dink oor die vorige 24 uur wanneer hulle hul vrae beantwoord. Die vraelyste het terugvoer van die deelnemers vasgelê oor hulle daaglikse waarneming en ervaring van bewegingsiekte (of hulle bewegingsiekte ervaar het, of hulle opgegooi het en hoe hulle die graad van erns van hulle bewegingsiekte aan die hand van 'n siektegradering op 'n skaal van 0–3 sou beoordeel).
Taylor sê die Mariner 4.0-stelsel het dit moontlik gemaak om die seevaarders se bewegingsiekte byna intyds te monitor, wat volgens haar 'n nuwe prestasie in die skeepvaart is. “Met die Mariner 4.0-stelsel kan data oor bewegingsiekte en passasiers se ligging, asook skeepsbeweging wat passasiers gewoonlik ooreenkomstig laat siek voel, vinnig gemeet en ontleed word. Dit bied ook akkurate ramings van hoe siek passasiers voel op grond van hoeveel die skip beweeg.
“Ons kon inligting direk van die passasiers af insamel om bewegingsiekte te meet deur hulle te vra om via die applikasie aan te dui of hulle siek voel al dan nie. Ons kan ook passasiers se blootstelling aan beweging vir lang tydperke individueel monitor en die erns van bewegingsiektesimptome meet.
“Omdat data intyds toeganklik is, is dit baie makliker om die voorkoms en erns van bewegingsiektesimptome gedurende skeepsreise te verminder en om die uitvoering van verskeie operasionele take te verbeter."
Deur die voorkoms van bewegingsiekte (of hulle bewegingsiektesimptome toon of nie) en die bewegingsiekte-dosiswaarde (die gedeelte van beweging waaraan insittendes blootgestel word wat waarskynlik bewegingsiekte sal veroorsaak) as metings te gebruik, het Taylor ook riglyne vir die beoordeling van bewegingsiekte by passasiers, individueel en as 'n groep, ontwikkel, asook vir hoe waarskynlik hulle seesiek sal word en hoe ernstig dit kan wees. Sy sê hulle bepaal spesifieke vlakke van siekwees, of diagnostiese drempels, wat aandui of iemand bewegingsiekte ervaar, met inagneming van faktore soos die doel van die reis, die duur van die reis en hoe lank iemand aan skeepsbewegings blootgestel word.
“Persoonlike drempels is vir veelvuldige seevaarders gegenereer wat kan help om te diagnoseer of individue moontlik kan seesiek word of watter persentasie in 'n kohort seevaarders bewegingsiektesimptome kan hê wanneer hulle oor spesifieke tydsduur aan 'n sekere vlak van skeepsbeweging blootgestel word.
“Hierdie drempels kan volgens reisspesifikasies en verskillende reisdoelwitte aangepas word, insluitende die duur van blootstelling aan beweging, en kan gebruik word op skeepsreise wat langer as ses uur duur ('n vorige beperking vir die bepaling van bewegingsiektebeoordeling). Drempels soos hierdie is nie voor my doktorale studie in die literatuur vermeld nie."
Taylor voeg by dat hierdie drempels ook vir verskillende lengtes van bewegingsblootstelling van 30 minute tot ses uur aangepas kan word. Hulle kan moontlik help met reisbeplanning en skeepsontwerp.
Sy sê toekomstige werk sluit die uitbreiding van seebyhouding-ontledings op grond van weervoorspellings na reisbeplanningsfases in. “Die doel hiervan is om die voorkoms van bewegingsiekte aan boord te voorspel om taktiese besluitneming te ondersteun, insluitende die opweeg van verskillende reisroetevoorstelle of optimale bemanningskeuse."