Wêreldvlugtelingdag word jaarliks op 20 Junie gehou. In 'n meningsartikel vir die Daily Maverick skryf Yeukai Chideya van die Instituut vir Lewensloopgesondheidsnavorsing dat ons daarna moet streef om 'n kultuur te skep wat vlugtelinge en asielsoekers aanvaar en ondersteun, en hulle tuis laat voel in Suid-Afrika.
- Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder of klik hier vir die stuk soos geplaas.
Yeukai Chideya*
Wêreldvlugtelingdag, wat jaarliks op 20 Junie gehou word, vestig ons aandag op die lot van miljoene mense wat uit hulle tuisland moes vlug om konflik, vervolging, menseregteskendings en geweld vry te spring. Die tema vir 2024 is “Bevorder empatie en begrip". Wêreldwyd is daar meer as 36 miljoen vlugtelinge en asielsoekers, waarvan ongeveer die helfte kinders is. Die aantal vlugtelinge en asielsoekers sal na verwagting aanhou toeneem weens voortslepende gewelddadige konflikte wêreldwyd.
Volgens die Verenigde Nasies se vlugtelingagentskap huisves Suid-Afrika ongeveer 250 000 vlugtelinge en asielsoekers uit verskeie dele van Afrika. Anders as sommige gasheerlande, volg Suid-Afrika nie 'n kampbeleid nie. As gevolg hiervan sukkel baie vlugtelinge en asielsoekers om in plaaslike gemeenskappe te integreer weens uitdagings soos taalhindernisse en 'n gebrek aan begrip van die kultuur. Hierdie probleem word deur wydverspreide xenofobie vererger, wat dikwels weens die afwesigheid van doeltreffende integrasieprogramme veroorsaak word wat plaaslike inwoners kan help om die ervarings van vlugtelinge en asielsoekers te verstaan. Gevolglik word vlugtelinge en asielsoekers gereeld deur plaaslike inwoners, wat reeds sukkel met beperkte hulpbronne weens hoë vlakke van armoede en werkloosheid in Suid-Afrika, as 'n bedreiging beskou.
Terwyl ek in 2012 by die Traumasentrum vir oorlewendes van geweld en marteling (The Trauma Centre for Survivors of Violence and Torture, hierna genoem die traumasentrum) gewerk het, is ek gekies om 'n projek te lei wat op die verskaffing van psigososiale ondersteuning aan vlugtelinge fokus. As maatskaplike werker het my verantwoordelikhede die verskaffing van berading, die fasilitering van groepterapiesessies en die verwysing van vlugtelinge en asielsoekers na toepaslike instellings ingesluit. Hierdie instellings het gesondheidsorgfasiliteite en nie-regeringsorganisasies ingesluit wat beperkte noodsaaklike hulpbronne gebied het, soos kospakkies, asook dienste soos Engelse taalopleiding en handwerkwerkswinkels om die vlugtelinge te help om 'n inkomste te verdien.
Om ondersteuning aan vlugtelinge en asielsoekers te verskaf, was een van die uitdagendste take wat ek nog onderneem het, aangesien ek dikwels hulpeloos gevoel het weens ons kliënte se beduidende sosio-ekonomiese en veiligheidskwessies en -behoeftes. Voordat hulle na Suid-Afrika gevlug het, het sommige gesien hoe hulle gesinne vermoor word, seksuele geweld ervaar of is hulle gedwing om hulle geliefdes leed aan te doen. Ondanks die verskriklike marteling en trauma in hul tuislande, wat psigososiale ingryping vereis het, het die vlugteling- en asielsoekerkliënte hoofsaaklik praktiese en veiligheidshulp gevra. Die aanspreek van hierdie dringende sosio-ekonomiese behoeftes was veral uitdagend, gegewe die beperkte hulpbronne tot hulle beskikking.
Nog 'n groot uitdaging wat vlugtelinge en asielsoekers in Suid-Afrika in die gesig staar, is hoe moeilik dit vir hulle is om hulle regsdokumentasie te hernu. Die proses kan baie frustrerend wees, wat dikwels internettoegang of reisgeld vereis – albei goed wat nie geredelik beskikbaar is weens beperkte finansies nie, internetgeletterdheid en toegang tot 'n rekenaar of slimfoon. Die gebrek aan wettige dokumentasie maak dit vir vlugtelinge en asielsoekers uitdagend om werk te kry en die lewensgehalte aan hulle kinders te bied waarop hulle gehoop het. Elke familielid moet vir hulle eie dokumentasie aansoek doen, en dit is nie ongewoon dat kinders wat uit vlugteling- of asielsoekerouers gebore is, graad 12 sonder wettige dokumentasie voltooi nie. Dit belemmer nie net die kinders se vermoë om verder te studeer en werk te kry nie, maar verhoog ook hulle risiko om staatloos te bly en die siklus van swaarkry waaruit hul ouers nie kon ontsnap nie, voort te sit.
Nog 'n uitdaging wat ek as traumaberader teëgekom het, was manlike vlugtelinge en asielsoekers wat nie vir hulle gesinne kon voorsien nie. Baie van hulle het goeie, goed betaalde werk in hulle tuislande gehad voordat hulle na Suid-Afrika gevlug het. Ongelukkig kon hulle óf nie hulle sertifikate saambring nie, óf hulle opvoedkundige kwalifikasies is nie in Suid-Afrika erken nie. Met die hoë werkloosheidsyfer in die land moet vlugtelinge en asielsoekers skarrel vir die beperkte informele werksgeleenthede wat beskikbaar is. Met rekeninge wat ophoop en weens al die druk, skeur gesinne uitmekaar of dwing dit hulle om uitgebuit te word en hoërisiko-werksgeleenthede te aanvaar.
Vlugteling- en asielsoekerkinders is veral kwesbaar vir afknouery op skool weens hulle nasionaliteite, uiterste armoede en verskillende aksente en voorkoms wat anders is as dié van die plaaslike bevolking. Afknouery kan daartoe lei dat kinders die skool verlaat, wat hulle van 'n regverdige kans ontneem om hulle lewens te herbou. Daarbenewens laat sommige vlugteling- en asielsoekerouers nie hul kinders toe om buite te speel nie uit vrees vir xenofobiese aanvalle. Dit isoleer die kinders verder en belemmer hulle ontwikkeling.
Ek het in my tyd by die traumasentrum ontelbare ure in die noodgevalle-afdeling by die plaaslike hospitaal saam met vlugtelingkliënte deurgebring wat aktief selfmoordneigings getoon het of probeer selfmoord pleeg het. Ek het gereeld verwysings na psigiaters geskryf om kliënte vir depressie te assesseer en het dikwels briewe gestuur of my kliënte fisies na verskeie instansies vergesel in pogings om hulp vir hulle te kry. Die hartseer werklikheid is dat baie vlugtelinge en asielsoekers in nood verkeer, terwyl daar baie min hulpbronne beskikbaar is om hulle te ondersteun.
Ek is sedert 2020 'n navorser by die Instituut vir Lewensloopgesondheidsnavorsing by die Universiteit Stellenbosch. 'n Paar maande gelede het ek in vennootskap met die Universiteit van Bath en die traumasentrum aan 'n navorsingsprojek, getiteld "Understanding the support available to refugee children and their families", gewerk. Dit was nogal ontmoedigend om te sien dat, ondanks die vier jaar wat verloop het sedert ek die traumasentrum verlaat het, vlugtelinge en asielsoekers steeds dieselfde uitdagings in die gesig staar, en in baie gevalle het hulle lot versleg.
Wanneer ons Wêreldvlugtelingedag vier, moet ons onsself ook die volgende vraag afvra: Hoe kan ons 'empatie en begrip' vir vlugtelinge en asielsoekers in Suid-Afrika bevorder? Een manier om te help is deur saam met organisasies soos die traumasentrum, Scalabrini en die Adonis Musati-projek te werk en skenkings aan hulle te doen. Hierdie organisasies bestuur programme om vlugtelinge en asielsoekers te ondersteun.
Ek glo vas dat deur saam te werk, ons vlugtelinge en asielsoekers kan help om hulle lewens te herbou. Ek het byvoorbeeld in 2016 psigososiale ondersteuning aan 'n kliënt, me X, begin verleen. Haar vlugtelingaansoek was onsuksesvol en sy was in nood en het dringende regshulp benodig. Ek het die vlugtelingregte-eenheid by die Universiteit van Kaapstad gekontak en hulle het ingestem om haar saak aan te pak. Me X het verskeie kere met haar aangewese prokureur vergader om aan haar appèl te werk en 'n gedetailleerde weergawe te gee oor waarom sy uit haar land gevlug het – iets wat sy uit vrees nie in haar aanvanklike vlugtelingaansoekonderhoud kon doen nie. Binne 'n paar maande is me X se asielsoekerstatus herstel en 'n jaar later het sy vlugtelingstatus gekry.
As 'n land wat ten doel het om menseregte, ubuntu en gelykheid te prioritiseer, laat ons daarna streef om omgewings en 'n kultuur te skep wat vlugtelinge en asielsoekers aanvaar en ondersteun. Ons het almal 'n rol om te speel om hulle te help om tuis te voel in Suid-Afrika.
*Yeukai Chideya is verbonde aan die Instituut vir Lewensloopgesondheidsnavorsing in die Departement Globale Gesondheid aan die Universiteit Stellenbosch. Die menings wat uitgespreek word, is dié van die skrywer en weerspieël nie noodwendig dié van die US nie.