Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Antieke wonders ontdek: Die wêreld se oudste termietheuwels in Suid-Afrika gevind
Outeur: Corporate Communication and Marketing / Dept Soil Science
Gepubliseer: 11/06/2024

In wat as 'n verstommende deurbraak beskryf word, het wetenskaplikes die wêreld se oudste, bewoonde termietheuwels langs die Buffelsrivier in Namakwaland ontdek. Hierdie heuweltjies, wat 'n verbysterende 34 000 jaar terug dateer, herskryf ons begrip van prehistoriese lewe, klimaat en koolstofberging. [Kyk na 'n kort video hier.]​

ʼn Antieke wonder

Hierdie termietheuweltjies word deur die suidelike stropertermiet, Microhodotermes viator, bewoon, verduidelik die hoofskrywer van die navorsingstudie, dr Michele Francis, ʼn buitengewone senior dosent by die Departement Grondkunde in die Fakulteit AgriWetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch (US).  

 
  • ​Selfoongebruikers klik hier vir video 

"Onlangse radiokoolstofdatering het aan die lig gebring dat hierdie heuweltjies baie ouer is as wat voorheen bekend was, met sommige wat so ver as 34 000 jaar terugstrek – dit is ouer as die ikoniese grotskilderye in Europa en selfs ouer as die laaste gletser-maksimum, toe groot ysplate 'n groot deel van die noordelike halfrond bedek het."

Die heuweltjies word steeds deur termiete bewoon, en die radiokoolstofdatering van die organiese koolstof binne hierdie heuwels het ouderdomme getoon wat wissel van 13 000 tot 19 000 jaar, terwyl die karbonaat of koolsuursout tot 34 000 jaar terugdateer. Dit maak die Buffelsrivierheuwels die oudste aktiewe termietheuwels wat tot dusver met organiese en anorganiese koolstof gedateer is. Die vorige oudste bewoonde heuwels van verskillende spesies uit Brasilië is 4 000 jaar oud.

"Om dit in perspektief te stel: Hierdie termietheuwels was al antiek toe mammoete nog op die aarde gewandel het. Gedurende die laaste gletsermaksimum sowat 20 000 jaar gelede, het massiewe ysplate dele van Noord-Amerika, Europa en Asië bedek. Hierdie heuweltjies was toe reeds duisende jare oud en verskaf 'n lewende argief van omgewingstoestande wat ons wêreld gevorm het," sê Francis.

'n Blik op prehistoriese klimaat​

Hierdie antieke heuweltjies is meer as net 'n historiese seldsaamheid; hulle dien as waardevolle rekords van prehistoriese klimaatstoestande, sê Francis. "Die heuweltjies dui daarop dat die streek gedurende hulle vorming aansienlik meer reënval as vandag gekry het. Hierdie natter klimaat het minerale soos kalsiet en gips toegelaat om op te los en na die grondwater af te syfer. Hierdie proses is van uiterste belang om natuurlike koolstofisolasieprosesse te verstaan. Wat interessant is, is dat Namakwaland steeds sporadies intense reënval ondervind, soos verlede winter die geval was en wat die proses weer sal aktiveer."

Waarom dit saak maak 

Dit is nie net die oudste termiethope op aarde nie, maar bied ook twee meganismes om CO2 te isoleer, voeg Francis by.

Eerstens spuit termiete se oesaktiwiteite jonger organiese materiaal diep in hulle neste in, wat tot voortdurende vernuwing van belangrike grondkoolstofreservoirs diep in die nes lei, waar dit langer bewaar word as wat die geval sou wees indien dit nog op die oppervlak was.

Tweedens bied hierdie kalkagtige termietheuwels 'n manier om CO2 te verwyder wanneer die grondmineraalkalsiet oplos. Dit is 'n langtermyn-koolstofopberging wat maatskappye in verbeterde verwerings- of oseaanalkaliniteitsverbeteringsprojekte wil herhaal en is belangrik vir die berekening van 'n land se koolstofbegroting soos uiteengesit in die Parys-ooreenkoms, en waarvoor daar verantwoording gedoen word gedurende  grondgebruikverandering.

'n Oproep om wêreldwye erkenning

"Die ontdekking van hierdie heuweltjies is soortgelyk daaraan om ʼn antieke manuskrip te lees wat alles verander wat ons gedink het ons van die geskiedenis weet. Hulle ouderdom en die insigte wat hulle in antieke ekostelsels bied, maak hulle 'n kandidaat vir wêreldwye erkenning as 'n natuurwonder, "sê Francis.

"Deur hierdie heuweltjies te bestudeer, kan wetenskaplikes 'n beter begrip kry van hoe om klimaatsverandering te bekamp deur die natuur se eie prosesse vir koolstofisolasie te gebruik. Hulle beklemtoon ook die belangrikheid daarvan om ons natuurlike wêreld te bewaar, aangesien hierdie klein ingenieurs ons omgewing al tienduisende jare vorm.

Gevolgtrekking

"Die ontdekking van die wêreld se oudste termietheuwels in Namakwaland is 'n bewys van die ongelooflike geskiedenis wat onder ons voete versteek is. Hierdie heuweltjies werp nie net lig op die verlede nie, maar bied ook belangrike leidrade vir ons toekoms. Terwyl ons voortgaan om die geheime van hierdie antieke strukture bloot te lê, herinner dit ons aan die delikate wisselwerking tussen klimaat, omgewing en lewe op aarde," sluit Francis af.

Oor die navorsingspan

Die baanbrekersnavorsing is deur 'n toegewyde span van die US se Departemente Grondkunde en Aardwetenskappe uitgevoer, in samewerking met kundiges van die Instituut vir Kernnavorsing in Hongarye. Hul bevindings het in die vaktydskrif, Science of the Total Environment, verskyn.

Die heuweltjies word nou verder deur 'n PhD-student van die US bestudeer as deel van 'n gesamentlike samewerkingsooreenkoms tussen die Verenigde State se National Science Foundation en Suid-Afrika se Nasionale Navorsingstigting (NNS) om meer oor koolstofobergingspotensiaal daarvan uit te vind. 

Die navorsers gee erkenning vir die bydraes van die volgende mense:

  • Prof Jodie Miller, dr Jani van Gend en dr Andrew Watson van die Departement Aardwetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch.
  • Dr Lazlo Palcsu, dr Mihály Molnár, en dr Titanilla Kertész van die Isotoop-, Klimatologie- en Omgewingsnavorsingsentrum, Instituut vir Kernnavorsing, Debrecen, Hongarye
  • Dr Michele Francis, prof Catherine Clarke, Brian Sakala (MSc), Magdaleen Hattingh (MSc), Marli Kleyn (MSc), Teneille Nel (MSc), Nicola Vermonti (MSc) - Departement Grondkunde, Universiteit Stellenbosch, Suid-Afrika
  • Dr Petrus le Roux, Departement Geologiese Wetenskappe, Universiteit van Kaapstad, Suid-Afrika
  • Jannick Niewoudt (BSc Hons) en prof Alastair Potts vir die hommeltuigbeelde.