Wat onderrig akademiese vakrigtings oor ras en ondersteun navorsingspraktyke in Suid-Afrika problematiese gebruike van ras en ander menslike kategoriserings in die wetenskap?
Hierdie is van die vrae wat onder die loep sal kom by ʼn konferensie wat die gebruik van ras en ander vorme van menslike kategorisering in Suid-Afrikaanse wetenskap sal bekyk. Dit word aangebied deur die Universiteit Stellenbosch (US) se Komitee vir die Institusionele Reaksie op die [Khampepe] Kommissie se Aanbevelings (CIRCoRe) en het ten doel om die gebruik van twyfelagtige – en moontlik verouderde – menslike beskrywings in die wetenskap te ondersoek wat wetenskaplike rassisme in Suid-Afrika kan laat voortbestaan.
“ʼn Omvattende ondersoek na hoe ras in die hedendaagse Suid-Afrikaanse wetenskap gebruik word en ʼn taksering van die stand van kontemporêre wetenskaplike rassisme in Suid-Afrika was lankal nodig," sê Phila Msimang.
Msimang lei CIRCoRe se werkstroom vir die verstaan van kwessies van ras en menslike kategorisering in die konteks van wetenskap en is ʼn dosent in die US se Departement Filosofie, waar hy onlangs ʼn kursus oor die filosofie van ras begin het.
“ʼn Reeks omstrede navorsingsartikels oor die afgelope vyf jaar na aanleiding van ʼn lang tradisie van wetenskaplike rassisme in Suid-Afrika was die katalisator om die probleme van die gebruik van ras en ander menslike kategoriserings in die wetenskap tot ʼn vraagstuk van nasionale belang in die navorsingsagendas van instellings regoor die land te verhef," sê Msimang.
“Daar is reeds heelwat literatuur oor die probleme met betrekking tot historiese rasdenke en die wetenskaplike rassisme gedurende vorige tydperke in Suid-Afrika, maar daar is relatief min studies wat die nalatenskap van rasdenke naspeur tot in hedendaagse navorsingspraktyke en omstrede navorsingsetiek soos wat in die huidige nasionale hoëronderwyssektor duidelik geword het," sê hy.
Prof Sibusiso Moyo, die US se Adjunk-visekanselier: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies, sê die verstaan van die gebruik van ras binne die Suid-Afrikaanse akademiese diskoers is ʼn veelvlakkige en omstrede onderwerp wat diep met Suid-Afrika se geskiedenis van apartheid en koloniale heerskappy verweef is.
“Raskategorieë het histories as ʼn primêre instrument van onderdrukking en oorheersing gedien en is deur die apartheidsregime gebruik om segregasie en diskriminasie af te dwing en wit oorheersing in stand te hou," sê Moyo. “As ons die Universiteit se kernfunksies – leer en onderrig, navorsing en innovasie, asook betrokkenheid by sy belanghebbendes – wil laat gedy, moet die US plaforms openlik toelaat om gesprekke te verdiep en perspektiewe en oplossings te help bied wat kan bydra tot die sektor as geheel, waar transformasie ondanks aansienlike vordering met toegang tot hoër onderwys ʼn uitdaging bly.
“Die kwessie van wie tot watter navorsing bydra, watter stemme gehoor word en hoe kennis gekonstrueer en gedekonstrueer word, behoort interessant vir potensiële deelnemers aan die konferensie te wees," sê Moyo.
Broksgewyse pogings tot herstel onvoldoende
Volgens Msimang is hierdie probleme deur hoëronderwysinstellings en die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding erken en het etiekkomotees dit deur beleide en beraadslagings die hoof probeer bied, maar hierdie reaksies was meestal reaktief en meer moet gedoen word om sistemiese verandering in navorsing en onderrigpraktyke te skep.
Die konferensie, wat vir 12 en 13 Junie by die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Studies (STIAS) beplan word, sal die platform wees vir hierdie gesprek met die einddoel om die ontwikkeling van beste praktyke in die akademie te bevorder.
Registrasie sluit op 5 Junie 2024. Kontak RHCS@sun.ac.za vir meer inligting.