Die legendariese fisikus en wiskunde-onderwyser Walter Parry (1913-1966) is die eerste historiese figuur in die geskiedenis van Hoërskool Lückhoff in Stellenbosch wie se merkwaardige lewensverhaal en nalatenskap opnuut in die geskiedenis van die skool, dorp en universiteit opgeteken is.
“En hy sal nie die laaste wees nie!" het mnr. Stanly Amos, voorsitter van die Lückhoff Alumni en openingspreker by die eerste Walter Parry-gedenklesing wat op Woensdag 22 Mei by die Universiteit Stellenbosch (US) gehou is – (die dag van Parry se geboorte 111 jaar gelede in Distrik ses), beklemtoon.
“Vanaand is ʼn reusestap vorentoe vir sosiale en herstellende geregtigheid deur die Universiteit Stellenbosch vir ons gemeenskap en Suid-Afrika in die breë," het hy gesê.
Die geleentheid is aangebied deur die Lückhoff Alumni in samewerking met die US se Afdeling Sosiale Impak en die Departement Fisika, as deel van die Lückhoff Lewende Museum se visuele regstelling as restitusie-inisiatief. Die instelling van die Walter Parry-gedenklesing is deel van ʼn groter poging om historiese weglatings en verdraaiings van die bydraes en ervarings van diegene met verbintenisse met die Vlakte, en veral die ou Lückhoff-skool, te help regstel. Tydens die laat 1960s is hierdie gemeenskap en personeel en leerders van Lückhoff gedwing om onder die Groepsgebiedewet van 1950, die gebied te verlaat en na aangewese gebiede te trek.
Die lesing is geopen met ʼn steunverklaring van die US se rektor en visekanselier prof. Wim de Villiers. Hy het gesê die eerste Walter Parry-gedenklesing het historiese betekenis binne die US se verbintenis tot restitusie: “Parry, ʼn briljante wiskunde-onderwyser en pilaar in die Stellenbosch-gemeenskap, het tydens apartheid geweldige struikelblokke in die gesig gestaar, en het gedroom om ʼn wetenskaplike te word, maar “die deure na ʼn lewe in die akademie het vir hom toe gebly".
“In ons restitusieverklaring erken die US sy bydrae tot die ongeregtighede van die verlede. Hieroor het ons diepe berou. Ons vra onvoorwaardelik om verskoning aan die gemeenskappe en individue soos Walter Parry wat uitgesluit was van die historiese voorregte wat die US geniet het. Sy nalatenskap inspireer ons vandag om die verlede te oorbrug met praktiese toepassings in die wetenskap. Deur hierdie lesing en in verantwoordelikheid teenoor huidige en toekomstige geslagte, eer ons sy bydraes en erken ons hul blywende relevansie," het hy gesê.
Mnr. Chris Jooste, huidige skoolhoof van Hoërskool Lückhoff, het in sy verwelkoming gesê dat Parry 'n ware kampvegter van die lewe en 'n deernisvolle opvoeder in diens van ander was: “Hierdie plek was vroeër amptelik 'n no-go sone vir ons. Nou is ons hier om sy lewe te vier en voel ons welkom."
'n Belangrike deel van die lesing is aangebied deur mnr. Brian Pool, 'n alumnus en latere skoolhoof van Hoërskool Lückhoff én vir ses jaar 'n kollega van Parry. Dit is bekend dat Parry wiskunde begin gee het by sy alma mater, Hoërskool Trafalgar in Distrik Ses. Voordat hy in 1952 by Lückhoff begin het, was Parry ook skoolhoof by Hoërskool Paterson in die destydse Port Elizabeth.
"Ek was in sy klas vanaf graad 10. Hy het sonder handboeke klas gegee en kon letterlik enige van ons vrae beantwoord," het mnr. Pool onthou. Hy het ook vertel hoe hulle verby die plaaslike US moes pendel om aan die Universiteit Kaapstad te studeer. Hulle moes die 06:00-trein na Kaapstad neem en dan middae deur Distrik Ses jaag om betyds te wees vir die 17:03-trein terug Stellenbosch toe.
Prof. Shaun Wyngaardt, nog 'n Lückhoff-alumnus wat vandag 'n kernfisikus en hoof van die US se Departement Fisika is, het die primêre rede gelewer. Hy het besin oor die fisika van destyds wat Parry moes geïnspireer het, soos Rutherford se ontdekking van die atoomkern in 1911 en die debatte oor kwantumfisika, wat die kern van klassieke fisika uitgedaag het.
Hy het ook gesê dat Parry aan die UK onder Sir Basil Schonland moes studeer het – een van Suid-Afrika se voorste kernfisici wat self onder Rutherford studeer het.
“Die passie vir fisika is aansteeklik. Soos water wat deur die landskap beweeg en dit geleidelik verander, voel ons op dieselfde manier steeds die rimpelings van tyd en ruimte in die vele toepassings van kern- en kwantumfisika vandag – van die behandeling van kanker tot die verkenning van die kosmos," het hy verduidelik.
Wie was Walter Parry?
Walter Hazel Parry (1913-1966) is as enigste seun in nederige omstandighede in Distrik Ses gebore. In 1934 het hy 'n MSc in Fisika (cum laude) aan die Universiteit Kaapstad verwerf en beplan om voort te gaan met 'n doktorsgraad in fisika ten einde sy droom te verwesenlik om 'n kernfisikus te word. Omstandighede het hom egter genoop om 'n pos as laag besoldigde tegniese beampte te aanvaar en uiteindelik het hy 'n wiskunde-onderwyser geword. Parry was onder kollegas en die gemeenskap nie net bekend vir sy wiskundige briljantheid nie, maar ook vir die feit dat hy 'n buitengewoon inspirerende onderwyser was.
Beide mnr. Amos en mev. Elizabeth Vergotine, Parry se oudste dogter, het ook die gerugte bevestig dat prof. Piet Zeeman (1918-1985), destyds hoof van die US se Departement Fisika in die 1950s, in die geheim met Parry saamgewerk het aan projekte vir eksperimente wat beplan is vir die Suidelike Universiteite se Instituut vir Kernkrag (vandag bekend as iThemba LABS). Parry is in 1966 onverwags op die ouderdom van slegs 53 jaar oorlede.
Stigting van die Lückhoff Lewende Museum
Reneé Hector-Kannemeyer, adjunkdirekteur in die Afdeling Sosiale Impak, het die belangrikheid beklemtoon van die herskryf van geskiedenis vandag: “Ons skryf die storie van Walter Parry terug in die geskiedenis. Die Walter Parry-gedenklesing vandag is 'n voorbeeld van epistemiese geregtigheid. Hierdie kennis help om historiese weglatings en verdraaiings reg te stel. Dit bring die bydraes en ervarings van mense wat onregverdig uitgewis of geïgnoreer is aan die lig, soos die briljantheid van Parry."
Walter Parry se verhaal sal deel vorm van die Lückhoff Living Museum-inisiatief wat in die ou Lückhoff-skool in Banhoekweg gevestig sal word. Die lewende museum-inisiatief is saam met wyle mnr Otto van Noie, voormalige Lückhoff-leerder, onderwyser en gemeenskapsaktivis, saamgestel. In 1969 is personeel en leerders gedwing om fisies na 'n nuwe skool in Idasvallei te verhuis. Sommige leerders het self hul banke gedra met die trek. Prof. Russel Botman het in 2007 as US se rektor simbolies erkenning gegee aan die skoolgemeenskap van 1969. In 2019, vyftig jaar later, het die US 'n spesiale seremonie gehou waartydens twee van die oorspronklike skoolbanke aan die skool terugbesorg is, as deel van 'n daad van herstellende geregtigheid. Klik hier vir 'n videogreep.
In sy slotopmerkings het dr. Leslie van Rooi, direkteur van die US se Afdeling Sosiale Impak, gesê Parry sal in die komende jare steeds inspireer: “Ons moet seker maak dat ons almal baie harder werk om dit vir die volgende generasie kinders moontlik te maak om hier te kom studeer," het hy afgesluit.
Die lesing is bygewoon deur Parry se oudste dogter, mev. Elizabeth Vergotine, wat haar sewe broers en susters, (waarvan vier reeds oorlede is) verteenwoordig het. Vergotine wat reeds diep in haar tagtigs is, het gesê die gebeurtenis was emosioneel oorweldigend: “ʼn Groot dankie weer eens vir almal wat hierdie projek op die been gebring het. Dit was ʼn groot sukses."
Parry se jongste dogter, Gwyneth, het die aanlyn lesing vanuit Libië bygewoon. Sy het die Lückhoff Alumni bedank vir hul bydra tot die konseptualisering van die gedenklesing: “Dit was mooi en emosioneel vir my. Ek is die jongste van die familie, maar ek onthou sy sagte hart. Nogmaals dankie. Julle het geen idee wat hierdie gebaar vir ons beteken nie. Om te dink dat mense in Stellenbosch na al die jare nou anders sal dink van my pa."
Leerders en onderwysers van Hoërskool Lückhoff het ook hierdie geskiedkundige geleentheid bygewoon saam met 'n beduidende verteenwoordiging van die omliggende gemeenskappe wat histories van die Universiteit Stellenbosch uitgesluit was.
Volgens me. Hector-Kannemeyer word hierdie geskiedkundige gebeurtenis as die grootste gemeenskapsbywoning in 'n akademiese ruimte in die geskiedenis van Stellenbosch beskou. Een van die bywoners, mev Minni van Noie (83) wat al haar hele lewe lank in Stellenbosch woon, het gesê dat dit die eerste keer is dat sy in 'n lesingsaal op die US-kampus kom.
Aan die einde van die aand se vieringe het mnr. Wilfred Daniels, onder-voorsitter van die Lückhoff Alumni, 'n opmerking gemaak oor die belangrikheid van die gebeurtenis en die samekoms van gemeenskappe wat voorheen uitmekaar gehou is: “Dit is lankal agterstallig. Ek kan eerlik sê ek het vanaand welkom gevoel," het hy afgesluit.
Volgens Hector-Kannemeyer sal hierdie projek hopelik aandag vestig op die moontlikheid van hoe 'n verdeelde verlede omskep kan word in 'n gedeelde en gemeenskaplike toekoms.
Alle foto's deur Henk Oets