Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Trotse leier van ACEWATER-III
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 24/05/2024

​Die Universiteit Stellenbosch (US) sal die voortou neem in 'n projek ter waarde van 5 miljoen euro (R100 miljoen) om navorsing en vermoëbou vir beter oorgrenswaterhulpbronbestuur in Afrika te onderneem.  

 Die ACEWATER-III-projek is in April 2024 amptelik in Nairobi, Kenia, bekend gestel en sal van 2024 tot 2028 geïmplementeer word. Dit word deur die Europese Kommissie gefinansier en behels:

  • wetenskaplike, tegnologie- en innovasienavorsing vir verbeterde oorgrens-waterbestuur;
  • menslike vermoëbou deur kortkursusse;
  • korttermynmobiliteitsgeleenthede tussen vennote;
  • die uitruiling van navorsing en vaardighede; en
  • skakeling met beleidsrolspelers.

 Wye implementeringsnetwerk

Die US sal die projek saam met 20 vennootinstellings in die AUDA-NEPAD Netwerke van Watersentrums van Uitnemendheid sowel as die EU-afvaardiging in Suid-Afrika implementeer. Die AUDA-NEPAD Netwerke van Watersentrums van Uitnemendheid is 'n netwerk van hoëronderwys- en navorsingsinstellings wat gevorderde wetenskaplike navorsing en vermoëbou in die water- en verbandhoudende sektore van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) onderneem. Lidinstellings is van Suid-Afrika, Mosambiek, Zimbabwe, Botswana, Namibië, Zambië, Malawi, Mauritius, Kenia, Uganda, Soedan, Ethiopië, Nigerië, Benin, Burkina Faso en Senegal. Die liggaam het in 2005 sy mandaat van die Afrika-unie ontvang via die Raad van Afrikawaterministers (AMCOW) en die Raad van Afrikaministers van Wetenskap en Tegnologie (AMCOST).

Dr Nico Elema, direkteur van US Internasionaal se Sentrum vir Samewerking in Afrika, sal as projekleier dien. Hy het ook die bekendstelling van ACEWATER-III saam met die ander AUDA-NEPAD-netwerkvennote, AMCOW, die verskillende ekonomiese streeksgemeenskappe in Afrika en verteenwoordigers van die Europese Kommissie in Nairobi gefasiliteer. “Die EU-afvaardiging in Suid-Afrika het die US gekontrakteer om hierdie derde fase van die ACEWATER-projek te lei. Nietemin werk ons ook ten nouste saam met EU Water in Brussel en die EU se gesamentlike navorsingsentrum in Italië om voort te bou op baie jare se wetenskapsdiplomasie," sê Elema.

“Ons taak is om seker te maak dat ons netwerkvennote in die verskillende Afrikalande ál die projekaktiwiteite uitvoer," voeg hy by. “Elke vennoot sal navorsing en vermoëbou onderneem in die organisasies wat die stroomgebiede in hulle streke bestuur. Die US Waterinstituut sal ook navorsing en opleiding bydra."

Hoop vir beduidende impak

Die hoop is dat die navorsings- en vermoëbouaktiwiteite 'n beduidende impak sal hê op verbeterde oorgrens-waterbestuur, sê Elema. “Ons moet 'n impak hê op die samelewing met ons beleidsinteraksies en die kennis wat ons skep. Deur AMCOW werk ons sy aan sy met die waterministers van die vasteland, so uiteindelik wil ons graag hulle beleidsbesluite met ons navorsing beïnvloed.

“Boonop gaan dit oor gesamentlike leer," sê hy. “Ons is almal goed met iets, maar nie met alles nie. As ons, as 'n netwerk, ons sterkpunte kan saamvoeg, kan ons regtig uitnemend wees. Met die besonder hoë vlak van belanghebbendeskakeling in hierdie projek moet ons seker maak dat ons die water- en sanitasielandskap in Afrika ten goede verander."

Elema sê al is die ACEWATER-III-projek maar eers in April amptelik bekend gestel, het die netwerkvennote reeds hulle navorsingsprojekte en opleidingskursusse begin identifiseer.