Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Voedselsekerheidsvlakke hang van die “drie wêrelde” probleem af
Outeur: AgriSciences: Engela Duvenage
Gepubliseer: 22/05/2024

Suid-Afrikaners woon in een land in drie wêrelde tesame. Dis 'n ernstige remskoen in die strewe na voedselsekerheid vir alle huishoudings. Dit is 'n gegewe dat burgers se onderskeie vlakke van toegang tot bates of kapitaal hul vlak van toegang tot voedsel sal bepaal. Hoe meer gebalanseerd dié vlakke is, hoe meer hulle besit en hoe meer beheer hulle oor bates het, hoe meer veerkragtig sal huishoudings wees, het dr. Hlamalani Ngwenya, 'n agrovoedselsisteemkenner, gesê by die Mei 2024 African Food Dialogue-sessie van die Universiteit Stellenbosch (US).

“Die African Food Dialogue is 'n inisiatief van die Southern Africa Food Lab. Dit voeg die idee van 'n openbare lesing saam met gefasiliteerde dialoog rondom die tema van Africa voedselsisteme. Dit bring diverse, invloedryke belanghebbers in die Suider-Afrikaanse voedselsisteem bymekaar om op kreatiewe wyse op sistemiese uitdagings te reageer en om verandering te help bewerkstellig in  hoe ons dink en optree rondom komplekse sosiale uitdagings," het prof. Danie Brink, dekaan van die US Fakulteit AgriWetenskappe, ter verwelkoming verduidelik.

Vorige sprekers het onder meer gesprekke gelei oor die rol van 'n wildlewe ekonomie in die Afrika voedselsektor, hongersnood onder kinders en die invloed van geopolitieke, finansiële en energiekwessies op voedselsekuriteit.

Dr. Nyasha Magadzire, 'n nadoktorale navorser van die US Sentrum vir Volhoubare Transisie (SVT) wat fokus op die transformasie van die voedselsisteem, het as fasiliteerder van die jongste sessie opgetree. Sy het dr. Ngwenya verwelkom deur die waardevolle werk in die landbouvoedselsektor uit te lig wat sy oor die afgelope 32 jaar in meer as 60 lande gedoen het, dikwels in samewerking met grootskaalse internasionale rolspelers. Sy is 'n konsultant en stigter en HUB van Facilitation of Systemic Change Consultation (FoSCC) en 'n voormalige hoofdirekteur van die Wes-Kaapse Departement van Landbou gemoeid met die ondersteuning en ontwikkeling van produsente. Dr. Ngwena het aan die Universiteit van Pretoria en Universiteit van die Vrystaat klas gegee. Haar doktorsgraad in volhoubare landbou het gewys hoe ondersteuningsdienste sistemiese verandering in landbou kan bewerkstellig. Dr. Ngwenya het in 2021 die Orde van die Baobab (brons) van die Suid-Afrikaanse Presidensie ontvang vir haar bydrae tot volhoubare landbou, opvoeding en gemeenskapsbemagtiging.

Vir haar African Food Dialogue-lesing het sy rondom die tema “Three worlds in one: Will we ever solve for X the food security development paradox?" gepraat. Sy het fundamentele vrae uitgelig rondom die gebruik van huidige strategieë rondom komplekse uitdagings, en gevra of ander werkswyses dalk eerder nodig is.

Pilare wat voedselsekuriteit bepaal

Dr. Ngwenya het uitgewys hoedat die wêreldwye fokus op voedselsekuriteit ontstaan het in die sogenaamde “Groen Revolusie" na die Tweede Wêreldoorlog, en hoe die fokus op verbeterde voedselproduksie was. Oor die afgelope drie dekades het die konsep ontwikkel rondom vier pilare: beskikbaarheid, toegang, gebruik en volhoubaarheid. Die pilare van agentskap en korttermyn volhoubaarheid is na die uitdagings wat gedurende die Covid-19 pandemie ervaar is, bygevoeg.

Die Verenigde Nasies se Voedselberaad omskryf voedselsekuriteit as 'n situasie wat bestaan as alle mense te alle tye fisiese, sosiale en ekonomiese toegang het tot genoeg veilige en voedsame kos wat noodsaaklik is vir hul dieet en voedselvoorkeure, sodat hulle 'n aktiewe en gesonde lewe kan lei.

Toegang is belangrik

In haar praatjie het dr. Ngwenya veral op kwessies rondom toegang gefokus. Sy het verwys na die Sustainable Livelihood-raamwerk se vyf menslike, finansiële, natuurlike, fisiese en sosiale kapitale en hoe dit mense buffer.

“Indien mense 'n goeie balans geniet tussen hierdie vyf bates, sal hulle skokke kan weerstaan en die vlakke van voedselsekuriteit wat hulle nodig het kan behaal," het sy genoem. “Die verskillende wêrelde waarin mense lewe word bepaal deur die aard van die bates of kapitaal wat hulle toegang tot het, of besit."

“In ons land is daar drie wêrelde in een, dikwels binne 'n 10km radius van mekaar. Sowat 10% van die Suid-Afrikaanse bevolking val binne die eerste wêreld, 50% in die tweede, en 40% leef in die derde wêreld.

“Hierdie situasie is nie uniek aan Suid-Afrika nie. Elke land het drie wêrelde. Die verskil is egter dat die gaping tussen die eerste en derde wêrelde in Suid-Afrika soveel groter is. Ras bepaal tipies hierdie verdeling. Daar is ook 'n wesenlike gaping op grond van geslag, en tussen stedelike en landelike gebiede."

Dr. Ngwenya het sekere teenstrydighede of ontwikkelingsparadokse uitgewys wat die land se voedselsekuriteitskwessie in breë beïnvloed, en genoem dat statistieke en ranglyste 'n misleidende prentjie van 'n land se werklike toestand kan skets. In 2020 het die Wêreldbank Suid-Afrika byvoorbeeld as 'n hoër middelklas-inkomste land verklaar en 36ste op sy ranglys van lande met die sterkste Bruto Binnelandse Produksie (BBP) geplaas. Word BBP per kapita egter gebruik, sak Suid-Afrika se posisie wesenlik. Die land is 13de in Afrika op die Human Capital Development-indeks (HDI). Kenia lê 3de en Zimbabwe 8ste, al is hul ekonomieë swakker as Suid-Afrika s'n. Die land word nasionaal as voedselseker gereken, maar dis nie die geval op huishoudelike vlak nie.

Voete in verskillende wêrelde

Sy sê etlike minimumstandaarde bestaan selfs in 'n inklusiewe ekonomie wat sommige mense uitsluit. Dié standaarde is op eerste wêreldstandaarde gebaseer. Dr. Ngwenya het vanuit haar eie ondervinding vertel hoe moeilik en dualisties die lewe vir baie Suid-Afrikaners is wat tussen hierdie wêrelde beweeg.

“Ek is self 'n paradoks. Somtyds voel ek skisofrenies en onseker oor watter wêreld ek myself in bevind, en watter aspekte in een ek gemaklik is om op te offer vir 'n ander," het sy genoem.

Dr. Ngwenya het in Giyani in Limpopo grootgeword, waar haar familie dikwels pampoenblare en mopaniewurms geniet het. Sy vind dit onverklaarbaar dat hierdie produkte nie in hoofstroom supermarkte verkoop word nie, nie eens in gebiede waarin 80% van die bevolking op hierdie kossoorte staatmaak nie.     

Sy het die gehoor uitgedaag om Suid-Afrika en die kontinent in die breë te help om 'n inklusiewe ekonomie en voedselsekuriteit op huishoudelike vlak te skep.

Uit haar ervaring in die landbousektor weet sy dat daar baie mense in informele nedersettings is wat besonders goeie werk hierin doen, maar sukkel om staatsondersteuning te kry omdat hulle nie deel is van die sogenaamde “wettige" stelsel nie.

“Hulle is die mees kwesbare, maar hul toegang word beperk," het sy bygevoeg.  

Dr. Ngwenya het gesê dat die plaaslike landbousektor asook navorsers 'n oog moet hou op innovasie vanuit elders in Afrika, aangesien dié werkbare opsies vir Suid-Afrika se eie probleme en uitdagings kan bied.

“Landelike gemeenskappe in Suid-Afrika ervaar soortgelyke uitdagings as mense elders in Afrika. Sommige van die oplossings wat hulle ontwikkel het, kan ons eie gemeenskappe help.

“Dis belangrik in Suid-Afrika om die kern van die probleem te vind en aan te spreek. Gebeur dit nie, sal alle pogings eintlik vrugteloos wees. Partykeer is die oplossing net iets klein. As dit egter die kern van die probleem aanspreek, kan dit heelwat meer beleggings lok," het sy afgesluit.

  • Die African Food Dialogue-span het besluit om daad by woord te voeg en voedselnood te help verlig. Hulle het besnoei op die spysenieringsbegroting by geleenthede soos hierdie, en maak eerder 'n skenking aan die Fakulteit Agriwetenskappe se nood-voedselprogram wat studente ondersteun wat nie kos kan bekostig nie.

Onderskrif: 

Van links na regs:

Prof Danie Brink, Dekaan van AgriWetenskappe, mev Clementine Matsobane, PhD-kandidaat in Volhoubare Landbou, dr Hlami Ngwenya, gasspreker, dr Nyasha Magadzire, fasiliteerder van die gesprek en mnr Tshepo Kikine, meestersgraadstudent in Voedsel- en Voedingsekuriteit.​

Fotograaf: Henk Oets