Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Viering en uitpak van die bydrae van nie-winsgewende organisasies tot die samelewing
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 21/05/2024

Die Departement van Ondernemingsbestuur, van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurwetenskap, het onlangs 'n nie-winsgewende simposium gehou om die enorme bydrae van dié bedryf tot die Suid-Afrikaanse samelewing te vereer. Dit is die eerste van 'n reeks geleenthede wat die Departement vanjaar beplan as deel van sy eeufeesvieringe.

Die simposium, wat op 09 Mei 2024 gehou is, het rolspelers uit uiteenlopende agtergronde en organisasies soos Breadline Africa, Scouts SA, Laureus Sport for Good Foundation en SA Riding for the Disabled Association gelok. Onder die tema “Generasies van besigheidsinvloed” is deelnemers aangemoedig om hul stories te deel en van mekaar te leer deur die gebruik van die UNESCO Story Circles-konsep. Hierdie storievertellingsmetodologie beoog om empatie, begrip en waardering vir verskillende kulture en identiteite te bevorder.

Prof Gert Human, voorsitter van die Departement Ondernemingsbestuur, het in sy verwelkomingstoespraak gesê die niewinsgewende bedryf vul die leemtes wat deur kapitalisme veroorsaak word.

“Ek dink die wêreld besef toenemend dat kapitalisme nie alles kan dek nie. Daarom is niewinsgewende organisasies so belangrik. Hulle speel 'n kritieke rol in die ekonomie en die sosiale lewe van enige land. As ek aan niewinsgewende organisasies dink, dink ek aan hulle as eilande van hoop. En vanuit 'n sakebestuur- en sakewetenskapperspektief, as ons met hierdie hoop en hierdie ekosisteem kan skakel, het ons waarskynlik 'n beter kans om gesamentlik die uitdagings wat die samelewing vandag in die gesig staar, aan te spreek.”

Dr Debbie Human-Van Eck, senior lektor in die Departement en mede-organiseerder van die simposium, het gesê dit is spesiaal dat hulle hul eeufeesvieringe met 'n niewinsgewende simposium kon begin omdat dit wys hoe die Departement oor 100 jaar ontwikkel het.

“Die meeste mense sal sê sakebestuur gaan oor geld en om geld te maak. En ja, geld kan wonderlike dinge doen, nie net om besighede meer suksesvol te maak nie, maar ook om die samelewing 'n beter plek te maak. Daarom erken en vier ons vandag die niewinsgewende sektor hier. Hierdie mense wat elke dag doen wat hulle doen, nie vir geld nie, maar omdat dit hul passie is en omdat hulle omgee.”

Sy het bygevoeg dat die departement se sosiale impak-inisiatiewe 'n belangrike rol gespeel het in die besluit om die niewinsgewende simposium aan te bied.

“Ons het 'n proses in die departement begin waar ons meer probeer uitvind het oor wat ons mense in die sosiale impakruimte doen. Ons het ontdek dat daar 'n hele paar kollegas is wat op die direksies van niewinsgewende organisasies dien waar hulle hul kundigheid deel. Ander bied projekte aan waar studente met niewinsgewende organisasies saamwerk, konsulteer in niewinsgewende organisasies, nooi niewinsgewende organisasies uit om gassprekers by ons departement te wees en is betrokke by navorsing wat verband hou met die niewinsgewende bedryf. Ons het besluit om hierdie energie te omhels en te kyk of daar 'n manier is om beter verhoudings met niewinsgewende organisasies te bou. Vandaar hierdie simposium.”

Mdebuka Mthwazi van Sikhula Sonke Early Childhood Development, 'n niewinsgewende organisasie wat uitreik- en ondersteuningsprogramme aan gemeenskappe in Khayelitsha verskaf, het die simposium as opvoedkundig en prikkelend beskryf.

“Die storiekringgesprekke het ons 'n beter begrip gegee van wie wat in die niewinsgewende sektor doen en hoe ons mekaar kan ondersteun om tot die breë samelewing by te dra. Ek wens ons politici kon deel gewees het van hierdie inisiatief om ons stories te hoor en te verstaan hoe hulle ons kan ondersteun en wat gedoen moet word om verandering in gemeenskappe teweeg te bring.”

Hy het gesê hy sal ook ná die simposium met mededeelnemers skakel om te bespreek hoe hulle hulpbronne en praktyke kan deel.

Anthea Farmer van Masisports, 'n niewinsgewende organisasie wat daarop gemik is om skole in Masiphumelele te help met sportontwikkeling- en gemeenskapskapasiteitsbouprogramme, het gesê wat vir haar uitgestaan het, is die passie wat almal het vir wat hulle doen.

Sy het gesê dit is ook baie insiggewend om te hoor van die uiteenlopende befondsingsgeleenthede wat beskikbaar is, soos toekennings en Korporatiewe Maatskaplike Belegging (CSI) en dat niewinsgewende organisasies nie net op staatsbefondsing moet staatmaak nie.

Volgens Human-Van Eck het die departement ook planne vir ander geleenthede vir die jaar. Dit sluit in 'n alumnisprekersreeks, 'n akademiese konferensie, 'n kinderwerkswinkel oor finansiële geletterdheid en 'n simboliese viering in die week van 15 September wanneer die departement die 100 jaar oue mylpaal bereik.

Die reëlingskomitee, saam Human-Van Eck, is Dr Anika Berning Van Zyl, Hanli Mulholland, Theresa Visser en Annali Maas