Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US se prof Kanshu Rajaratnam bring ‘Afrika-stem’ na VN se wêreldberaad oor voordeligheid van KI
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Anél Lewis]
Gepubliseer: 20/05/2024

​​​Prof Kanshukan Rajaratnam, Direkteur van die Universiteit Stellenbosch se Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke, is genooi om deel te wees van 'n hooggeagte paneel internasionale sprekers wat later vandeesmaand aan die 'AI for Good'-beraad in Genève, Switserland gaan deelneem.

Die beraad, wat deur die Internasionale Telekommunikasie-unie (ITU) en die Verenigde Nasies (VN) gereël word, is 'n aksie-georiënteerde platform wat daarop gemik is om KI tot voordeel van gesondheid, klimaat, geslag, inklusiewe welvaart, volhoubare infrastruktuur en ander globale ontwikkelingsprioriteite te bevorder. Die ITU is die gespesialiseerde VN-agentskap vir inligting- en kommunikasietegnologie.

Die beraad fokus vanjaar op die rol van kunsmatige intelligensie (KI) in die bevordering van baie van die VN se Doelwitte vir Volhoubare Ontwikkeling (DVO'e) binne die 10-jaar-teiken. Volgens die beraad se webwerf is die KI-gemeenskap is toenemend gefokus op die benutting van KI om belangrike globale doelwitte te ondersteun, insluitend die verbetering van die gehalte van onderwys, die verligting van armoede en die bekamping van klimaatsverandering. “Ten spyte van hierdie edele bedoelings, bly die werklike impak van voordelige KI-inisiatiewe beskeie oor die potensiaal daarvan," sê die webwerf.

“Samewerking tussen die akademie, tegnologiemaatskappye, niewinsgewende organisasies en regeringsentiteite is van kardinale belang vir die openbare belang. Hierdie sektore werk egter dikwels in isolasie, gedryf deur uiteenlopende doelwitte, wat daartoe lei dat KI-projekte vir sosiale voordeel – hoewel prysenswaardig – gebrekkige integrasie het met die gemeenskappe wat hulle wil help, wat volhoubaarheid ondermyn," aldus die webwerf.

Sprekers by die beraad sluit in António Guterres, die sekretaris-generaal van die VN;  Sam Altman, die uitvoerende hoof van OpenAI; en Gita Gopinath, eerste adjunk-besturende direkteur van die Internasionale Monetêre Fonds (IMF).

Rajaratnam sal sy kennis en ervaring na 'n werksessie bring wat geleenthede en struikelblokke in KI-ontwerp vir openbare voordeel en ontwerpaansporings vir 'n samewerkende benadering sal bespreek. Die werksessie sal die ontwikkeling en implementering van gesamentlike impakvolle, skaalbare en volhoubare KI-navorsing vir openbare belangprojekte versnel.

“Dit is 'n eer om aan die 'AI for Good'-werksessiess by die beraad deel te neem. Die tema van die werksessie – 'Om saam op te tree waar dit saak maak: Die afbreek van silo's vir impakvolle oplossings vir voordelige KI' – is veral toepaslik vir die Skool. Die Skool se etos is om silo's tussen verskillende omgewings en die werkswinkel te breek, en die werksessie, 'Collective AI for Impact', bied die geleentheid om idees en beste praktyke te deel. Ek hoop om die Afrika-stem na die sessie te bring waaraan ek gaan deelneem,' sê Rajaratnam.

 Foto: Stefan Els