Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Wêreldhuisartsdag: Huisartse hou mense gesond op ongesonde planeet
Outeur: Bob Mash
Gepubliseer: 20/05/2024

Wêreldhuisartsdag is Sondag 19 Mei gevier. In 'n meningsartikel vir die Daily Maverick skryf prof Bob Mash van die Departement Huisarts- en Noodgeneeskunde dat huisdokters belangrike rolspelers is om in die gesondheidsbehoeftes van mense op 'n ál hoe ongesonder planeet te voorsien.

  • Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder of klik hier vir die stuk soos geplaas.

Bob Mash*

Daar gaan deesdae kwalik 'n dag verby sonder onrusbarende nuus oor die gevolge van ons ekologiese krisis. Ons leef op 'n ál hoe ongesonder planeet. In die afgelope paar dae alleen is daar berig oor temperature van 48 °C en hoër in Mali, en honderde wat van die hitte beswyk. Die groot stede in Ecuador gaan gebuk onder kragonderbrekings omdat 'n droogte hidroëlektrisiteitstelsels ontwrig. Weens ongewoon swaar reën in Pakistan en Brasilië het damme in duie gestort, het vloede en grondstortings plaasgevind, en is mense hulle woonplekke en sommige selfs hulle lewens kwyt. Volgens wetenskaplikes was seetemperature nog elke dag vanjaar ongekend hoog en is die helfte van die wêreld se koraalriwwe deur massaverbleiking beskadig.

Die ekologiese krisis gaan egter nie net oor klimaatsverandering nie. Ons beleef ook wêreldwye besoedeling, biodiversiteitsverliese, ontwrigte biogeochemiese siklusse, en veranderinge in grondgebruik en -bedekking. As gevolg van hierdie krisis het 'n nuwe vertakking van die geneeskunde genaamd planetêre gesondheid ontstaan. Dokters begin nou 'n verband lê tussen veranderinge in mense se gesondheid en veranderinge in die planeet. Ons gesondheid trek swaar onder veranderinge in luggehalte en voedselproduksie, blootstelling aan infeksiesiektes, moeiliker toegang tot vars water, en erge hitte en koue – alles gevolge van die ekologiese krisis.

Huisartse sien ál hoe meer wanvoeding namate die klimaat voedselvoorsiening knou, en baie mense in Afrika het slegs klein- en pastorale boerderye om op staat te maak. Daar is hernude uitbrekings van infeksiesiektes soos malaria en cholera, en ons greep op siektes soos MIV verswak. Namate die mens se verhouding met die natuur verander, kry nuwe siektes 'n deurglipkans, waarvan Covid-19 die mees onlangse voorbeeld is. Lugbesoedeling en hoë temperature het 'n ernstige impak op mense met nie-aansteeklike siektes soos asma, diabetes en hipertensie. Vele Afrikane word weens klimaatsvoorvalle uit hulle streke gedwing; ander migreer na elders op die vasteland op soek na 'n beter lewe. Migrante bring dalk nuwe of onverwagte siektes en sukkel boonop om toegang tot gesondheidsorg te kry. Hierdie uitdagings gaan natuurlik met psigososiale stres en geestesgesondheidsprobleme soos depressie, angs en posttraumatiese stres gepaard.

Op Wêreldhuisartsdag (19 Mei) is dit belangrik om na te dink oor ons huisdokters se leiersrol om op hierdie veranderinge in mense se gesondheid te reageer. Primêre gesondheidsorg is die toeganklikste deel van die gesondheidsorgstelsel, maar is net so kwesbaar vir dieselfde klimaatsvoorvalle wat ons gemeenskappe ontwrig. Sterk wind beskadig byvoorbeeld klinieke, hospitaalteaters oorstroom, en verskaffingskettings word ontwrig. Huisartse en primêresorgspanne in Afrika moet na maniere soek om fasiliteite en dienste meer veerkragtig te maak. Hoe maak ons gereed vir nuwe gesondheidsuitdagings en sorg ons dat ons dienste aanhou funksioneer?

Huisdokters moet dalk met gemeenskappe én gemeenskapsgebaseerde dienste soos gemeenskapsgesondheidswerkers saamwerk om die klimaatsrisiko's en -kwesbaarhede in hulle bepaalde gebiede te identifiseer. Saam kan ons planne beraam om risiko's te verminder en te beperk en gemeenskappe meer veerkragtig te maak. So byvoorbeeld kan ons keer dat plaaswerkers in gevaarlik hoë temperature oor die middaguur werk; ons kan informele nedersettings uit vloedvlaktes verskuif, seker maak dat afval nie stormwaterdreins verstop nie, en bome plant om meer skadu te gee en gebiede af te koel. Ons kort doeltreffende vroeëwaarskuwingstelsels en moet gereed wees om op klimaatsnoodgevalle te reageer.

Deur te sorg dat primêresorgdienste veerkragtig is, kan ons ook ons gemeenskappe veerkragtiger maak. Huisdokters moet na die infrastruktuur van hulle klinieke kyk, en bepaal of dit bestand is teen klimaatsvoorvalle. Ons moet gereed wees met planne ingeval verskaffingskettings, kommunikasie en energie- en watervoorsiening in duie stort. Primêresorgverskaffers moet in 'n noodgeval dalk by die kliniek oornag. Klinieke in Suid-Afrika is maar alte bekend met die ontwrigting van beurtkrag en die behoefte aan alternatiewe kragbronne. Primêresorgverskaffers het moontlik ook bykomende opleiding nodig om hulle vir klimaatsverwante voorvalle en siektes voor te berei.

Lande soos Malawi het die afgelope aantal jaar die een na die ander klimaatsverwante noodtoestand afgekondig. Dus het primêresorgfasiliteite en -dienste nie noodwendig tyd om te herstel voordat die volgende uitdaging kop uitsteek nie. Lae-inkomstelande het ook waarskynlik te min hulpbronne om 'n krisis in 'n kans vir vernuwing en verbetering te omskep. Baie Afrikalande dra bitter min tot die probleem by en kort die globale noorde se hulp om die verwoestende gevolge van klimaatsverandering te hanteer.

Hoewel die gesondheidstelsel in Afrika weinig tot klimaatsverandering bydra, is die gesondheidsbedryf wêreldwyd 'n groot sondebok. Stede soos Kaapstad het hulle tot klimaatsoptrede verbind, en sommige gesondheidstelsels het hulle by die inisiatief Global Green and Healthy Hospitals aangesluit. Huisartse moet die omgewingsvoetspoor van hulle praktyke oorweeg. Voorskrifmedisyne is 'n groot probleem: Die dryfmiddels in inasemtoestelle kan byvoorbeeld uiters skadelike kweekhuisgasse wees. Die installering van hernubare-energiestelsels soos sonpanele kan klinieke se voetspoor verklein en terselfdertyd veerkragtigheid verbeter. Ook die bestuur van gevaarlike afval is belangrik: Verbranding veroorsaak dikwels lugbesoedeling en stel kweekhuisgasse vry.

Huisdokters is belangrike rolspelers om in die gesondheidsbehoeftes van mense op 'n ál hoe ongesonder planeet te voorsien. Ons moet ons gemeenskappe én ons primêresorgfasiliteite veerkragtiger help maak. Ons moet keer dat ons reaksie bydra tot die einste probleem wat ons probeer bekamp. En ons moet ons stem laat opklink en met beleidmakers en regerings praat. Gesonde mense verg immers 'n gesonde planeet.

  • Foto deur cottonbro studio by Pexels.

*Prof Bob Mash is die uitvoerende en afdelingshoof van die Departement Huisarts- en Noodgeneeskunde in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch. Die sienings in hierdie artikel is die skrywer s'n en weerspieël nie noodwendig die menings van die Universiteit Stellenbosch nie.