Die SDG/2063 Impaksentrum, wat geleë is in Universiteit Stellenbosch (US) Internasionaal se Sentrum vir Samewerking in Afrika, is 'n voorstander van samewerking tussen Afrikanavorsers om die vasteland se enorme potensiaal vir 'n volhoubare toekoms te ontsluit.
AC21-nalatenskapsimposium
Dít was duidelik te sien by die AC21-nalatenskapsimposium op Stellenbosch, waarvoor die Impaksentrum onlangs medegasheer was. Die dinamiese geleentheid was die amptelike afsluiting van die werk van die AC21-universiteitsnetwerk en het navorsers, beleidmakers en studente van oor die hele Afrika en Europa byeengebring.
Die simposium het kritiese kwessies van bepaalde belang vir Afrika bespreek, met die klem op gesondheid en welstand, bekostigbare en skoon energie, en nywerheid, innovasie en infrastruktuur (onderskeidelik volhoubare ontwikkelingsdoelwitte (SDG's) 3, 7 en 9). Gesprekke het gehandel oor onderwerpe soos die impak van klimaatsverandering op primêre gesondheidsorgstelsels, en natuurlike kleurstowwe as 'n volhoubare alternatief vir die tekstielbedryf. Alle sessies het klem gelê op die dringende behoefte aan Afrikanavorsing en -innovasie om die vasteland se spesifieke uitdagings die hoof te bied en 'n gesonde, voorspoedige en volhoubare toekoms te verseker.
Future17
Die AC21-nalatenskapsimposium is maar net één voorbeeld van die SDG/2063 Impaksentrum se werk om saam aan 'n meer volhoubare toekoms te bou. Die Sentrum se volhoubaarheidsopleiding sluit ook die F17 SDG Challenge in. Dié kortkursus is in Maart 2022 by die US bekend gestel en bied studente 'n unieke geleentheid om oor dissiplines en kulture heen aan 'n internasionale volhoubaarheidsopvoedingsprogram deel te neem. Aan die hand van die SDG's werk deelnemers saam met vennote en mentors van die verskillende deelnemende instellings om na oplossings vir werklike uitdagings te soek.
Die kursus word aangebied deur die Universiteit van Exeter (Verenigde Koninkryk), die QS-wêrelduniversiteitsranglys en 'n konsortium universiteite. Ander vennootinstellings benewens die US sluit in die Chinese Universiteit van Hong Kong, die Universiteit van São Paulo (Brasilië), die Universiteit van Auckland (Nieu-Seeland), die Amerikaanse Universiteit in Kaïro (Egipte), LUISS-universiteit in Rome (Italië), Arizona-staatsuniversiteit (Verenigde State) en die Amerikaanse Universiteit in Sharjah (Verenigde Arabiese Emirate).
Die F17-kursus, wat reeds met sy vyfde studente-inname spog, gaan voort om innoverende oplossings vir praktiese kwessies te bedink deur van volhoubaarheidsbeginsels gebruik te maak, soos die volgende projekte toon.
Volhoubare kleurstowwe: Klink 'n koppie op 'n beter toekoms vir die modebedryf
Die modebedryf het 'n donker geheimpie: Sintetiese kleurstowwe wat in klerevervaardiging gebruik word, besoedel waterbronne en hou gesondheidsgevare in. In antwoord hierop het deelnemers aan verlede jaar se F17 SDG Challenge vorendag gekom met 'n blink 'itee' – die gebruik van oorskietteeblare as 'n natuurlike en volhoubare alternatiewe kleurstof.
In 'n innoverende projek in samewerking met T-Hues, 'n Sri Lankaanse volhoubare modehandelsmerk, het twee US-studente en eweknieë van Exeter, Sharjah, Kaïro en Hong Kong bevind dat swart teeafval, wat tradisioneel weggegooi word, herwin kan word as 'n waardevolle, ekovriendelike, veilige, gesonde en esteties bevredigende kleurstof. Die doel is om tot 20% van sintetiese kleurstowwe te vervang met natuurlike kleurstowwe wat van swart teeafval gemaak word.
Volhoubare mode is binne ons bereik – koppie vir koppie!
Praktiese omgewingsopvoedingsmateriaal in Kameroen
In 'n ander F17-groep het studente saam met The Greens, 'n organisasie sonder winsoogmerk, gewerk om uitdagings op die gebied van die onderwys, volhoubare stede en gemeenskappe sowel as klimaatsoptrede in Kameroen op te los. Hulle het 'n omgewingsdiensleerhandleiding van 81 bladsye saamgestel wat leerders met behulp van 12 lesse toerus met die praktiese kennis om omgewingskwessies te hanteer. Die leermateriaal is kreatief en prakties en moedig samewerking aan.
“As 'n Aardwetenskappe-student, het ek nooit kon dink dat ek leermateriaal vir studente in Kameroen sou ontwerp nie," het een deelnemer gedurende die groepaanbieding gesê. “Dit was uiters bevredigend en vervullend om deel te wees van 'n program waarin ons 'n sigbare bydrae tot volhoubaarheid kon lewer, en dit was lekker om van diens te wees vir 'n land op ons vasteland."
Soos hierdie en die vele ander F17-projekte bewys, is volhoubaarheid nie beperk tot 'n enkele vakgebied nie. Elke dissipline – van mode en die onderwys tot tegnologie en belasting – het die potensiaal om tot 'n meer volhoubare toekoms by te dra.
Ons verwelkom graag nóg 'n passievolle kohort studente vir die F17-program van 2024, wat van September tot Desember sal plaasvind. Doen nou aansoek en benut jou unieke vaardighede en kennis om 'n verskil te maak.