Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
’n Dag in die lewe: Georgenia Stam
Outeur: Corporate Communications and Marketing
Gepubliseer: 17/05/2024

Georgenia Stam, bestuurder van die Kliniese Opleidingsplatform op die Tygerberg-kampus sedert 2019, hou strategies toesig oor die kliniese opleiding van studente. Haar rol sluit die bestuur van verblyf, logistiek en veiligheid in om billike opleidingsgeleenthede by al die opleidingsentrums te verseker. Sy kombineer haar ryk agtergrond in opvoedkunde met 'n passie vir operasionele uitnemendheid aan die Universiteit Stellenbosch (US). Aangesien ons Mei met die viering van Werkersdag afgeskop het, dra ons hierdie reeks profiele op aan ons personeel en hulle belangrike bydraes tot die US.

Wat behels jou rol by die US? 

Ek is verantwoordelik vir die optimalisering van geleenthede vir kliniese opleiding vir studente op die verspreide opleidingsplatform. Dit sluit die bestuur van die span personeel by SUNLOC (Universiteit Stellenbosch Logistiek: Kliniese Opleidingsplatform) in. SUNLOC is 'n professionele ondersteuningstruktuur vir die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe wat binne die portefeulje van die Vise-dekaan: Kliniese Dienste en Sosiale Impak, dr Therese Fish, gesetel is.

My fokusgebiede is strategie-ontwikkeling, belanghebbendes, hulpbronne, logistiek en gesondheids- en veiligheidsbestuur van die kliniese opleidingsplatform. Ons verseker dat studente op die verspreide opleidingsplatform soortgelyke leergeleenthede en lewensomstandighede geniet as wat hulle op die Tygerberg-kampus sou gehad het. Tans bestuur SUNLOC meer as 60 woonplekke (huur- en gastehuise), SLD's (studenteleer- en dienssentrums), vervoer- en IKT-studenteondersteuningsdienste.

Hoe lyk 'n tipiese dag by die werk vir jou?

'n Tipiese dag by die werk kan baie wissel, afhangende van roetine-aktiwiteite of om oplossings vir uitdagings te vind wat die studente en personeel op die kliniese opleidingsplatform ervaar. Die aktiwiteite verander voortdurend en daarom is my dae nie dieselfde nie, 'n dag kan uit hoëvlakvergaderings of die aankoop van meubels vir nuwe studenteverblyf bestaan. Noodaktiwiteite, soos byvoorbeeld die veiligheid van studente op die kliniese platform – hetsy dit die vervoer van die studente of 'n veiligheids- en sekerheidsvoorval by 'n woonplek behels – sal geprioritiseer word. SUNLOC bestuur alle vervoer-, verblyf- en IKT-versoeke van studente van die Tygerberg-kampus wat die kliniese opleidingsplatform tot sover as op Upington betree.

Hoe het jou opleiding of vorige ondervinding jou op hierdie pos voorberei?

My loopbaanreis het begin toe ek die private hoëronderwyssektor betree en by verskeie private onderwysmaatskappye gewerk het. Ek was bevoorreg om poste in akademiese, bemarkings- en administratiewe departemente te vul, terwyl my ervaring en kennis van dié van 'n junior lektor tot 'n institusionele registrateur gegroei het. Elke pos het my in staat gestel om die uitdagings in hoër onderwys te ervaar, so ek glo my ervaring het my voorberei vir my huidige pos.

Wat is vir jou die lekkerste deel van jou rol en werk by die US?

Ek is bevoorreg om alle aspekte van my rol te geniet, hetsy dit is om met die studente, programleiers, lede van die publiek en belanghebbendes in die Wes-Kaapse departement van gesondheid en welstand te kommunikeer.

My sterkpunte lê in beplanning en organisering en logiese denke. Om in 'n veelsydige ondersteuningsdiens soos SUNLOC te werk, gee vir my die energie om innoverende oplossings vir uitdagings te vind wat ons op die opleidingsplatform ervaar.

My pos as bestuurder van die Kliniese Opleidingsplatform en toesig oor SUNLOC te hou, moet buigbaar wees weens die veranderende versoeke van ons belanghebbendes, maar terselfdertyd moet oplossings binne die grense van die beleide en prosedures van die Universiteit Stellenbosch bly. Ek geniet dit om met al die belanghebbendes te skakel, insluitende programkoördineerders, studente, die Wes-Kaapse departement van gesondheid en welstand en die openbare sektor.

​Vertel ons iets oor jouself wat min mense sal verwag.

Ek kan ure lank met óf akriel- óf waterverf skilder. Ek geniet dit om na koormusiek te luister en het onlangs volwasse ballet begin doen. 

PHOTO: Stefan Els