Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
’n Dag in die lewe: Meggan Ceylon
Outeur: Corporate Communications and Marketing
Gepubliseer: 15/05/2024

Meggan Ceylon speel 'n sleutelrol in die reël van konferensies en prestigeryke geleenthede by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW). Sy floreer onder druk en werk graag saam met die dinamiese bemarking- en kommunikasiespan op die Tygerberg-kampus. Ceylon deel die passies wat haar strewe na uitnemendheid aanvuur en die uiteenlopende belangstellings wat haar persoonlike lewe verryk. Terwyl ons Mei afskop met die viering van Werkersdag, dra ons hierdie reeks profiele op aan ons personeel en hulle belangrike bydrae tot die Universiteit Stellenbosch (US).

Wat behels jou rol by die US?

Ek is onlangs tot die pos van geleentheids- en konferensiespesialis by die US se FGGW bevorder. In hierdie rol is my taak om alle institusionele en fakulteitsgeleenthede wat op die Tygerberg-kampus gehou word, te bestuur, asook om toesig te hou oor die administratiewe funksies van die FGGW se Afdeling Bemarking en Kommunikasie. Ek is ook verantwoordelik vir die bestuur van verhoudings met eksterne belanghebbendes van die fakulteit en die Universiteit wat ons fasiliteite vir vergaderings, konferensies en simposia en om te verseker dat daardie verhoudings vir toekomstige samewerking bevorder word.


Hoe lyk jou tipiese werkdag?

My daaglikse verantwoordelikhede sluit 'n uiteenlopende reeks take in. 'n Tipiese dag kan die verwerking van betalings en die beantwoording van navrae in verband met die bemarkings- en kommunikasiekantoor of skakeling met verskillende rolspelers om eksterne belanghebbendes se geleentheidsversoeke te fasiliteer. Op ander dae beweeg ek dalk tussen geboue op die US se Tygerberg-kampus (waar ek gesetel is), ontmoet ek diensverskaffers, werk ek saam met kampussekuriteit en fasiliteitsbestuur, of wys ek kliënte rond by ons lokale om hulle behoeftes te bepaal.

Hoe het jou opleiding of vorige ervaring jou vir hierdie werk voorberei?

My liefde vir beplanning en organisering is in my vroeë jare as biblioteekassistent op laerskool gebore. Hierdie geesdrif het regdeur hoërskool voortgeduur, waar ek 'n aktiewe lid van verskeie komitees was wat verantwoordelik was vir die beplanning van sosiale aktiwiteite, sportdae en selfs die skool se matriekafskeid. My BCom-graad van die US het my waardevolle insig gegee in menslike gedrag, sakefinansieringsbestuur, verhoudingsbou en, bowenal, veerkragtigheid. Hierdie akademiese grondslag, tesame met my ervaring, het my vermoë geslyp om mense se behoeftes en motiverings te identifiseer sonder dat hulle dit uitdruklik gesê het; potensiële probleme te antisipeer en oplossings te vind nog voor die probleem opduik; en ek kan ook moeilike gesprekke voer.

Wat geniet jy die meeste van jou rol en werk by die US?

Die dinamiese aard van my rol is een van die lonendste aspekte daarvan. Elke dag bied nuwe uitdagings en vereis dat ek moet aanpas en probleme kreatief moet oplos.

Baie dae werk ek met teen knap spertye, terwyl ek hoë verwagtings moet bestuur en potensiële risiko's moet temper – wat alles bydra tot die stimulerende omgewing waarin ek floreer.

'n Besonder opwindende deel van my werk is om prestigeryke geleenthede aan te bied. Ek het al die voorreg gehad om besoeke deur bekendes soos president Cyril Ramaphosa, nasionale ministers en die direkteur-generaal van die Wêreldgesondheidsorganisasie te koördineer. Hierdie glansryke geleenthede het noukeurige beplanning en foutlose uitvoering vereis, wat dit uitdagend, maar ook baie lonend gemaak het.

Nog 'n gunstelingaspek van my werk is my kollegas en ons werk in ons departement baie nou saam as span. Ons is 'n klein maar hegte span wat goed saamwerk, wat 'n positiewe en ondersteunende omgewing skep. Na my mening is dit die resep vir 'n gelukkige werkplek. Ek werk ook nou saam met 'n groter logistieke span, insluitende besigheidsbestuur, kampussekuriteit en fasiliteitsbestuur, en ek maak geweldig baie op hulle staat. Hulle doeltreffendheid en verbondenheid tot spanwerk dra aansienlik by tot my selfvertroue om 'n suksesvolle geleentheid te kan aanbied.

Vertel ons iets opwindends oor jouself wat min mense sou verwag.

Ek is altyd bereid om 'n nuwe uitdaging aan te pak, hetsy dit is om opwindende nuwe disse uit te toets of om unieke ervarings te beleef. Ek het al op die ingewing van die oomblik al die pad Caledon toe gery om die warmwaterbronne by die Caledon Spa te gaan ervaar – en laat ek jou vertel, dis regtig so lekker soos almal sê! Ek bly ook vanjaar aktief met Zumba-klasse en gaan selfs binnekort aan 'n liefdadigheidsgeleentheid deelneem.

Verder glo ek vas in lewenslange leer. Die afgelope tyd is ek gefassineer deur persoonlike finansies, veral binne die Suid-Afrikaanse konteks. Ek begin my oggend met die lees van artikels oor die ekonomie en finansiële – dit is 'n goeie manier om ingelig en betrokke te bly by die wêreld om my en natuurlik is daar altyd plek vir 'n liefdesverhaal.

FOTO en VIDEO: Stefan Els