In onlangse jare het sosialemedia-platforms navorsers se toegang tot hul toepassingsprogrammeringskoppelvlakke (API's) beperk. Hierdie API's stel navorsers in staat om data oor gebruikersinteraksies, inhoud en tendense op ʼn gestruktureerde en beheerde wyse in ooreenstemming met die platforms se diensbepalings en privaatheidsbeleide te bekom. In ʼn meningsartikel vir University World News verduidelik dr Douglas Parry van die Departement Inligtingwetenskap die impak van hierdie besluit op sosialemedia-navorsing.
- Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder of klik hier vir die stuk soos geplaas.
Douglas Parry*
Ons lewens is vandag deurtrek deur sosialemedia-platforms soos Facebook, Instagram, X (voorheen Twitter) en TikTok en dit struktureer nie net ons persoonlike interaksies nie, maar ook dié op professionele en burgerlike gebied. Vir baie mense, ook navorsers, het hierdie platforms ʼn integrale deel van hul daaglikse roetine geword en dit neem heelwat van hul tyd en aandag in beslag. Sosialemedia-platforms het nie net verander hoe ons kommunikeer nie: as die digitale dorpsplein het dit ook ons openbare sfeer geherstruktureer en beïnvloed dit hoe ons met ander en met die wêreld om ons omgaan, vorm dit openbare diskoers en beïnvloed dit samelewingsnorme.
Wanneer ons sosiale media gebruik – of ons nou deur ons nuustoevoer op X of LinkedIn blaai, foto's op Instagram plaas of deur TikTok blaai – laat ons digitale voetspore as neweprodukte van ons platforminteraksies agter. Hierdie digitale spore bied aan navorsers ʼn ongekende geleentheid om individuele en kollektiewe gedrag te bestudeer. Deur hierdie digitale voetspore bied sosialemedia-platforms aan navorsers ʼn magdom data wat lig op menslike gedrag kan werp en insig in sleutel-dinamika van die 21ste-eeu moontlik maak – van die verspreiding van waninligting en verkiesingsinmenging tot die potensiële impak van ons aanlyn aktiwiteite op ons geestesgesondheid en welstand.
Gedurende die afgelope dekade kon navorsers toegang tot hierdie data verkry via toepassingsprogrammeringskoppelvlakke (API's) wat deur platforms verskaf is. Hierdie API's stel navorsers in staat om data oor gebruikersinteraksies, inhoud en tendense op ʼn gestruktureerde en beheerde wyse in ooreenstemming met die platform se diensbepalings en privaatheidsbeleide te bekom.
Maar in onlangse jare het sosialemedia-platforms navorsers se toegang tot hul API's al hoe meer beperk weens verskeie bekommernisse soos gebruikersprivaatheid, skandale, onwilligheid om ondersoek te word en kommer oor die gebruik van platformdata vir die opleiding van groot taalmodelle. In 2023 het Twitter byvoorbeeld sy voorheen gratis API agter ʼn betaalmuur geplaas en sowat $42 000 per maand gevra vir die tipe toegang wat navorsers voorheen geniet het. In ʼn soortgelyke stap wat wydverspreide teenreaksie ontlok het, het Reddit ook sy API agter ʼn omvattende betaalmuuur geplaas, wat alle navorsing met behulp van data van die platform stopgesit het. Meer onlangs het Meta die sluiting van CrowdTangle aangekondig. Dit is ʼn instrument wat navorsers voorheen beperkte toegang tot data oor verskeie platforms heen gebied het. Hierdie API-toegangsbeperkings het sosialemedia-navorsing aansienlik beperk, wat pogings belemmer om aanlyn gedrag en die breër samelewingsimplikasies daarvan te verstaan.
Al kan navorsers ander metodes gebruik om sosialemedia-data in te samel, soos eie verslae of die skraping van webdata [die gebruik van rekenaarbots om data te bekom], het hierdie metodes aansienlike beperkings en verskaf dikwels nie dieselfde vlak van gedetailleerde data as direkte toegang tot platform-API's nie. In die geval van webskraping val dit in ʼn wettige grys area. Alternatiewelik kon sommige navorsers direk met sosialemedia-maatskappye werk om toegang tot data te verkry, maar hierdie geleenthede is gewoonlik beperk tot ʼn paar uitgesoektes wat in ryker lande geleë is. Sonder regverdige en direkte toegang tot hierdie data sal belangrike vrae oor individue en die samelewing onbeantwoord bly.
In reaksie op kommer oor die mag van aanlyn platforms het die Europese Kommissie nuwe regulasies ingestel om die digitale sfeer in die Europese Unie (EU) te beheer. Een hiervan, die Digital Services Act (DSA), het ten doel om ʼn veiliger aanlyn omgewing te skep deur van platforms te vereis om plasings wat onwettige inhoud bevat te verwyder, sekere tipes geteikende advertensies te beperk en meer deursigtig te wees oor hoe hul algoritmes werk. Vir “baie groot aanlyn platforms" (VLOPS) met minstens 45 miljoen maandelikse gebruikers in die EU (d.w.s. die meeste sosialemedia-platforms, maar ook ander dienste soos Booking.com of Google Maps), gelas die DSA ook opsies vir gebruikers om aan aanbevelingstelsels te kan onttrek, eksterne oudits vir platforms en dat hulle data met navorsers en waghondorganisasies moet deel.
Sedert die bekendstelling van die DSA het die Europese Kommissie formele verrigtinge ingestel teen X (Twitter), wat onder verdenking is dat hy vereistes met betrekking tot risikobestuur, inhoudmoderering, misleidende ontwerpspatrone, advertensie-deursigtigheid en datatoegang vir navorsers oortree het. Meer onlangs is TikTok ook oor moontlike oortredings van die DSA ondersoek.
Art. 40 van die DSA is veral vir navorsers van belang, aangesien dit van baie groot aanlynplatforms vereis om aan gekeurde navorsers toegang tot data vir navorsingsdoeleindes te bied. Tans vereis die DSA egter net toegang vir navorsers in die EU of diegene wat sistemiese risiko's binne die EU bestudeer.
Maar die potensiële sistemiese risiko's wat sosialemedia-platforms inhou, is nie tot die EU beperk nie. Daar is talle voorbeelde regoor die wêreld van sistemiese of individuele risiko's op sosialemedia-platforms. In Indië hou waninligting byvoorbeeld 'n enorme risiko tydens algemene verkiesings in en Unicef het ʼn uitgebreide program deur middel van die Global Kids Online- en Disrupting Harm-projekte wat ʼn verskeidenheid van risiko's ondersoek wat kinders bedreig wanneer hulle aanlyn gaan.
Maar weens beperkings op platform-API's is navorsers buite die EU tans nie in staat om toegang te verkry tot die data wat nodig is om hierdie potensiële individuele en sistemiese risiko's te ondersoek op die skaal wat nodig is om betekenisvolle gevolgtrekkings te maak nie. Sonder hierdie toegang word navorsing oor onderwerpe soos waninligting en digitale welstand beperk, en word insigte in aanlyn gedrag en die risiko's daarvan belemmer. Ons het betroubare toegang tot platformdata nodig om onbevooroordeelde navorsing oor sosialemedia-gebruik en die potensiële risiko's daarvan te doen.
Om dit te bekom, moet ons myns insiens die “Brussels-effek" – waar EU-regulasies globale standaarde beïnvloed – as hefboom probeer gebruik om soortgelyke regulasies in ons eie lande te bepleit. Dit kan behels om relevante regeringsagentskappe se steun te probeer bekom of om met EU-belanghebbendes saam te werk om breër toegang te verseker. Baie ander lande ontwikkel nou ook wetgewing op hierdie gebied, soos die Wet op Aanlyn Veiligheid in die Verenigde Koninkryk wat bepalings soortgelyk aan die DSA bevat, en ons loop die gevaar om agter te raak as ons nie die aanlyn inligtingsomgewing in ag neem nie.
Die EU het die pad na verhoogde deursigtigheid en datatoegang aangedui, maar die ontwikkeling en implementering van soortgelyke wetgewing in ander lande sal nie ʼn maklike taak wees nie. Benewens die nodige politieke en burgerlike steunwerwing, sal dit kundigheid uit verskeie velde en die vestiging van data-tussengangers verg om toegang tot platformdata te bestuur. Ons sal ook belangrike streekspesifieke etiese en privaatheidsrisiko's moet aanpak wat met verhoogde datatoegang verband hou. Ten spyte van hierdie uitdagings is ek optimisties dat die wil groot genoeg is om dit ʼn werklikheid te maak. Daar is byvoorbeeld begin om ʼn African Alliance for Access to Data te ontwikkel om druk vir groter toegang tot platformdata op die vasteland uit te oefen.
Die DSA het ʼn presedent geskep vir ander lande wat probeer om billike toegang tot kritieke data vir navorsing te verseker. Sonder proaktiewe pogings loop ons die gevaar om agter te raak en nie oor enige robuuste manier te beskik om die potensiële sistemiese risiko's te bestudeer nie.
*Dr Douglas Parry is ʼn senior dosent in sosio-informatika en organisasie-informatika in die Departement Inligtingwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch, Suid-Afrika. Hierdie is ʼn aangepaste weergawe van sy kommentaarstuk, “Without access to social media platform data, we risk being left in the dark", wat onlangs in die South African Journal of Science verskyn het.