Die belangrikheid van die strewe na uitnemendheid in alle aspekte van die navorsingsproses val vandeesweek onder die soeklig by die Universiteit Stellenbosch (US) se jaarlikse Biblioteeknavorsingsweek, wat van 13 tot 17 Mei 2024 plaasvind.
Met dit in gedagte, en in ooreenstemming met een van die Universiteit se kernwaardes, is die tema van vanjaar se program 'Kom ons bereik uitnemendheid in navorsing'. En van die hoogtepunte van die amptelike opening van die week se gebeure was die aankondiging van 'n nuwe databestuurstelsel vir navorsers. Die SunDMP (databestuursplan) is die hoogtepunt van jare se werk en beplanning, het me Ellen Tise, Senior Direkteur: Biblioteek- en Inligtingsdiens, gesê. “Dit volg ses jaar ná die bekendstelling van die US se internasionaal-erkende SUNScholar-databewaarplek."
Me Tise het by die bekendstelling van biblioteeknavorsingsweek die volgende gesê: “Dit is 'n week om die waarde en krag van samewerking en vennootskappe te demonstreer." Sy het ook gesê navorsing moet impak en sterk bande met die Verenigde Nasies se 17 doelwitte vir volhoubare ontwikkeling (DVO'e) hê.
Prof Sibusiso Moyo, die US se Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies, was die geleentheidspreker by die bekendstelling van Biblioteeknavorsingsweek. Sy het die geleentheid as 'n “baken van inspirasie vir die bereiking van navorsingsuitnemendheid" bestempel wat met die 4de DVO ooreenstem om inklusiewe en billike gehalte-onderwys te verseker.
Sy het na die talle uitdagings, waaronder armoede, waterskaarste, ongelykheid en energiekapasiteit, verwys wat die verwesenliking van die volle Afrika-potensiaal belemmer. “Ons het as universiteite het ons 'n rol om te speel om kennis te skep om hierdie uitdagings die hoof te bied." Moyo het ook die belangrikheid van navorsing vir impak beklemtoon, soos gelei deur die Afrika-konteks.
Die US maak goeie vordering met sy navorsing oor impak en innovasie, het Moyo gesê. Hoogtepunte sluit in die US se deelname aan verskeie gesamentlike Afrika-Europa Klusters van Navorsingsuitnemendheid (CoRE's) wat deur die Afrika-navorsingsuniversiteitsalliansie (ARUA) en die Gilde van Europese Navorsingsintensiewe Universiteite (Die Gilde) geskep is, die onlangse insluiting van prof Tulio de Oliveira by Time-tydskrif se eerste TIME100 Gesondheidslys in 2024 en die US-geleide Nasionale Instituut vir Teoretiese en Rekenaarwetenskappe (NITheCS) wat by die US gesetel is, het Moyo gesê.
Sy het bygevoeg dat die US hard werk om beter verteenwoordiging en inklusiwiteit onder sy navorsers en aspirant-akademici te verseker. “Ons moet nuwe spelers betrek." Moyo het die SUNRISE-program (Universiteit Stellenbosch se program vir strategiese uitnemendheid in navorsing en innovasie) uitgelig. Dié program is onlangs bekendgestel en is daarop gemik om akademici wat in die middel van die hulle loopbaan is en na 'n professorskap strewe, 'n hupstoot te gee. Anders as ander ontwikkelingsprogramme wat reeds in plek is, plaas hierdie een klem op akademiese mentorskap en afrigting.
Moyo het ter afsluiting gesê die US se talle suksesse in navorsing en innovasie kan toegeskryf word aan die toegang wat navorsers tot die jongste inligting het wat in die US Biblioteek beskikbaar is.
Webinaarprogram vir die Biblioteeknavorsingsweek 2024
13 Mei - Programbekendstelling
14 Mei - Let's kickstart the research process
15 Mei - Let's excel in research strategies
16 Mei - Let's utilise tools for research
17 Mei - Let's strive for research excellence, in the face of adversity
Temaspesifieke aspekte wat met die navorsingsproses verband hou, word elke dag gedek.
Die webinare word deur biblioteekpersoneel, kundiges van ander SUN-afdelings en verskaffers van bekende navorsingsdatabasisse aangebied.
- Vir verdere inligting, kontak Kirchner van Deventer by (021) 808 2623 of Siviwe Bangani by (021) 808 4641.
Foto: Stefan Els