Die krag van visuele stories was tasbaar by die onlangse opening van 'n uitstalling by die Universiteit Stellenbosch (US) wat die publiek toegang bied tot 'n unieke versameling werk deur een van Suid-Afrika se mees gevierde fotograwe. Die uitstalling
An End to Waiting met foto's deur die befaamde Paul Weinberg is op 30 April by die US Museum geopen. As 'n viering van 30 jaar van demokrasie in Suid-Afrika, bied die uitstalling 'n kykie na ikoniese beelde van die land se eerste demokratiese verkiesing in 1994.
Weinberg was destyds die hoof van 'n span fotograwe wat die werksaamhede van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK), wat die historiese verkiesing moes aanbied, op film vasgelê het. Hulle foto's het in 1995 in die boek
An End to Waiting: South Africa's first democratic elections verskyn, en word sedertdien in die OVK se argiewe bewaar. Die US-uitstalling bevat 'n keur van hierdie foto's. Die titel
An End to Waiting verwys nie net na die letterlike gewag in lang toue buite die stemstasies nie, maar simboliseer ook die samelewing se destydse verwagtinge van vryheid en geregtigheid.
Kyk terug op die “skeuringsoomblik"
Gaste by die openingsgeleentheid het ook na 'n insiggewende gesprek tussen Weinberg en prof Pumla Gobodo-Madikizela, die bekleër van die US se Leerstoel in Historiese Trauma en Transformasie, geluister. Dr Marietjie Oelofsen, bestuurder van gespreksprogramme by die US Museum, het die gesprek ingelei deur oor die transformerende krag van fotografie na te dink. “Hierdie foto's deur Paul Weinberg verteenwoordig weliswaar 'n einde aan die gewag – 'n einde aan die gewag dat wat mense in die donker moes sê, in die lig gehoor sou word; dat wat hulle agter geslote deure moes fluister, van die dakke verkondig sou word," het Oelofsen gesê. “Die klein, donker kamer van apartheid het in 1994 oopgeskeur. Dit is nou ons taak om op daardie skeuringsoomblik terug te kyk. En om na te dink oor wat dit 30 jaar later beteken."
Daarmee was dit tyd om dieper te delf in die historiese betekenis van wat Weinberg deur sy lens vasgevang het. In die daaropvolgende gesprek het hy beskryf watter diep emosionele ervaring dit was om die afwagting van 'n nasie op die randjie van monumentale verandering op kamera te verewig.
Kant gekies
Weinberg was uit die staanspoor baie duidelik oor sy siening van objektiwiteit in fotojoernalistiek. “Daar was nie so iets soos objektiwiteit in die omstandighede waarin ek my in die onstuimige 1980's bevind het nie. Hoe kan 'n mens werklik objektief wees as jy gesien het hoe iemand in 'n blou uniform 'n geweer op 'n skare rig? Jy moet eenvoudig kant kies," het hy gesê. En dít is hoe Weinberg deel geword het van 'n generasie fotograwe wat hulleself die “kantkiesgenerasie" genoem het. “Ons het onbeskaamd die kant gekies van die onderdruktes en die weerstandsbeweging teen apartheid."
Gobodo-Madikizela het met Weinberg oor die impak van sy foto's gesels, en klem gelê op hoe die individuele beelde nie net persoonlike verhale vertel nie, maar ook van 'n nasie se transformasie getuig. In dié verband het Weinberg verwys na 'n foto van 'n klein swart dogtertjie wat langs haar ma by die stembus gestaan het en reg in die kameralens opgekyk het. Die kamera het haar grootooguitdrukking vasgevang op die presiese oomblik toe haar ma vir die eerste keer haar stem uitbring. “Sy [die kind] het met verwagting en hoop na my gekyk," onthou Weinberg. “Op 'n manier het sy die hoop van 'n nasie, die hoop van 'n land, verteenwoordig."
Vir Weinberg is die woord 'afwagting' die perfekte beskrywing vir Suid-Afrika in 1994. “Dit was 'n oomblik van asem ophou waartydens ons, as Suid-Afrikaners, kon terugkyk op die verlede en dit erken, maar terselfdertyd kon vorentoe kyk na die toekoms," het hy gesê. “En dit het regtig sulke ongelooflike vrede vir ons almal gebring. Mense praat van wonderwerke. Vir my was een van die wonderwerke van daardie oomblik dat ons 'n uiters brutale stelsel agter ons kon sit, en kon geboorte skenk aan dit waarop ons gehoop het én steeds hoop – 'n stelsel wat humanisme die fokuspunt van alles maak."
'n Kiekie van Madiba Weinberg het die land se vreedsame oorgang na demokrasie as 'n uitsonderlike tyd beskryf. “Ons het nooit gedink dat die Nasionale Party en die destydse wit heerssugtiges die mag aan die mense van Suid-Afrika sou oorhandig nie. Dit was uitsonderlik. Ek was bevoorreg om dit van so naby te kon beleef," het hy gesê. “Toe ek saam met die OVK gewerk het, was daar wit tannies by Binnelandse Sake wat skouers geskuur het met jong radikale en menseregteprokureurs. Ons het almal met dieselfde doel voor oë gewerk. Dit was soos om in die Springbokspan te wees wat in 2023 die Wêreldbeker gewen het. Dit was ongelooflik."
'n Persoonlike hoogtepunt van die land se eerste demokratiese verkiesing was dat hy die enigste fotograaf was om die historiese oomblik vas te vang toe voormalige president Nelson Mandela sy kruisie getrek het. Tot groot vermaak van die gehoor het Weinberg vertel hoe hy byna die oomblik misgeloop het as gevolg van 'n gretige verkiesingskommissaris wat graag saam met Madiba afgeneem wou word. Gelukkig kon Weinberg die oomblik verewig met net die kommissaris se hand wat op die foto sigbaar is.
Boodskap aan die vrygeborenes
Wat die jonger generasie en studente in die gehoor betref, het Weinberg die “vrygeborenes" aangemoedig om verandering teweeg te bring en die nalatenskap van diegene in sy foto's te laat voortleef. “Julle kan dinge vorentoe neem," het hy gesê. “Dertig jaar gelede was hierdie instelling nog 'n vesting van wit heerskappy. Deesdae is Stellenbosch 'n dinamiese, progressiewe universiteit. Ja, dis nie volmaak nie; daar is nog baie gesprekke wat moet plaasvind. Maar julle generasie het soveel potensiaal. Ek wil graag sien wat julle daarmee doen."
Weinberg het die organiseerders van die uitstalling daarvoor bedank dat hulle sy werk vir 'n nuwe generasie toeganklik maak. Hy het klem gelê op argiewe se rol om “geheueverlies te bestry", en benadruk dat openbare toegang tot hierdie hulpbronne 'n beter begrip van Suid-Afrika se verlede help skep. “Die enigste manier waarop ons die argief kan lewend hou, is om te wees wat ons in die 1980's was – aktiviste. Ons moet seker maak dat ons stories as 'n nasie en as individue geargiveer word sodat dit nie in vergetelheid raak nie."
Ook Gobodo-Madikizela het beklemtoon hoe belangrik dit is om uit die teenstrydighede en kompleksiteite van die verlede te leer. Sy het gesê die verhale wat foto-argiewe vertel, kan as instrumente vir opvoeding en besinning dien en die hedendaagse samelewing help om op so 'n manier met hierdie geskiedenisse om te gaan dat ons 'n beter toekoms daaruit skep.
An End to Waiting vier nie net die krag van fotografie om historiese oomblikke te verewig nie, maar herinner ons ook aan Suid-Afrika se voortgesette reis van demokrasie.
-
Die uitstalling is nog tot die einde van Julie gratis te sien. Die US Museum is elke weeksdag van 09:00 tot 16:30 oop.
FOTO en VIDEO: Stefan Els