As een van die dryfvere agter die Luister-, Leef- en Leer-inisiatief by die Universiteit Stellenbosch (US) maak
Enos Lekala
ʼn groot verskil aan studente se lewens. Ons vier Werkersdag in Mei en dra hierdie reeks profiele op aan ons personeel en hul deurslaggewende bydraes tot die Universiteit Stellenbosch (US). Lekala vertel meer oor sy daaglikse verantwoordelikhede, die vreugde van studente-ontwikkeling, asook ʼn verrassende stokperdjie.
Wat behels jou rol aan die US?
Ek is ʼn programkoördineerder vir Luister, Leef en Leer (LLL) en koshuishoof van senior leefervaring aan die US. Die LLL-inisiatief is ʼn vlagskip- residensiële ervaring wat deur die US aan senior studente gebied word. LLL-huise is selfsorgeenhede in die hartjie van Stellenbosch.
Ek dien as programhoof en maak seker dat die volgende doelwitte bereik word: werwing van deelnemers; programontwerp en -ontwikkeling; koördinering van programaktiwiteite; instandhouding van infrastruktuur en bates; en nakoming van koshuisreëls om ʼn leeromgewing te bevorder.
My bykomende verantwoordelikhede sluit die bestuur van belangegroepverhoudings in, dus netwerkvorming en om myself in verskillende belangrike gesprekke te verdiep.
Hoe sien ʼn tipiese dag by die werk daar uit?
Ek begin my dag meestal met ʼn opvangsessie met die inwonende studente en ʼn studente-assistent saam met wie ek werk om die span se energie te peil en doelwitte te verduidelik. Daarna volg my administratiewe take, wat wissel van programontwerp en e-poskorrespondensie tot finansiële bestuur, studentedissipline en Universiteitsforums soos die Komitee vir die Institusionele Reaksie op die (Khampepe-) Kommissie se Aanbevelings (CIRCoRe). Afhangend van die tyd van die jaar, is ek ook betrokke by evaluering, werwing, onderhandeling en netwerkvorming.
My daaglikse roetine eindig om 12:00. Daarna het ek dikwels afsprake met studente of vergaderings. Ek verkies om my administrasie soggens af te handel terwyl ek op my skerpste is. Maar die lewe laat nie op hom wag nie en daar is soms tye, soos wanneer daar ʼn gespanne situasie in die koshuis heers, wanneer jy alles waarmee jy besig is opsy moet skuif om daaraan aandag te gee. Die vermoë om aan veelvuldige projekte te werk met minimale, indien enige toesig is van kardinale belang terwyl jy ʼn spektrum van situasies aanpak wat wissel van administratiewe tot werklike lewensituasies.
Hoe het jou opvoeding of vorige ervarings jou vir hierdie taak voorberei?
Om aan verskillende belangrike gesprekke en projekte deel te neem speel beslis ʼn rol, want die LLL is as ʼn verkennende program ontwerp. Om die deelnemers geïnteresseerd en betrokke te hou moet jy dinamies en ingelig wees en maklik aanpas.
Tydens my nagraadse studies en die tyd wat ek by die Skool vir Openbare Leierskap en die Waterinstituut deurgebring het, is ek in leierskaps- en sosio-ekonomiese ontwikkelingsgesprekke, navorsing en projekte gedompel. Dit maak toegang tot verwysings ter beïnvloeding van ons programontwerp, -modelle, -onderwerpe, -gespreksvennote en -temas makliker.
Maar danksy my BA-graad in sosiale dinamika beoordeel en pak ek gemeenskapskwessies met gemak aan. Die gemeenskap is die kern van alles wat ons by die LLL doen. Ek het my begrip van die funksionering van die gemeenskap, asook die faktore wat die stelsels en dinamika daarvan vorm en beïnvloed, aan my voorgraadse studies in sosiologie, sielkunde, politieke wetenskap en openbare en ontwikkelingsbestuur te danke.
Wat geniet jy die meeste van jou rol en werk by die US?
Volgens die Verenigde Nasies het Afrika die jongste bevolking ter wêreld, met 70% van mense in Afrika suid van die Sahara wat jonger as 30 is. So ʼn groot klomp jongmense verteenwoordig ʼn geleentheid vir die vasteland se groei – maar slegs as hierdie nuwe generasies ten volle bemagtig is om hul beste potensiaal te verwesenlik. Dit spreek direk tot my rol as ʼn de facto leer- en ontwikkelingspraktisyn vir die LLL. Ek het die voorreg om tot Afrika se groeipotensiaal by te dra deur aktiwiteite te koördineer wat die studente se potensiaal ontsluit en ek bestuur ʼn leierskapontwikkelingsplatform. Dink net watter kumulatiewe effek ʼn groep jong leiers met reuse-talent en ʼn passie vir impak in Afrika kan hê!
As ʼn instelling wat daarna streef om ʼn werkgewer van voorkeur te wees, stel die US hulpbronne beskikbaar om die werk wat ek doen te ondersteun. Voorts maak die toegang tot leergeleenthede wat tot my persoonlike én professionele groei bydra dit genotvol om by die US te werk. Bowenal sorg die ondersteuning van die leierskorps by die Sentrum vir Studentelewe en -leer vir die meeste genot en sinvolheid wat ek in hierdie rol ervaar.
Vertel vir ons iets opwindends oor jouself wat min mense sou verwag.
Ek is ʼn DJ! Dit is ʼn passie, maar ook terapeuties. As ʼn passie bied dit my die geleentheid om in die “mix" van mense te wees (die woordspeling is doelbewus). Hoe meer mense jy ontmoet, mee te doen het en waarneem, hoe meer leer jy. Dit voed my strewe na groter kennis oor die lewe deurentyd. En wanneer ek oorweldig voel, is dit vir my ʼn terapeutiese vorm van bederf om die oorfone in te prop en myself in die ritme van musiek te verloor.
ʼn Opvallende ooreenkoms tussen om ʼn DJ te wees en my huidige rol is dat ʼn mens voortdurend die gehoor moet ontleed en die nodige veranderinge moet aanbring soos en wanneer dit nodig is. ʼn DJ sal byvoorbeeld ʼn vaste speellys hê, maar as die gehoor nie positief daarop reageer nie en hy geloofwaardig wil bly, sal hy dit ooreenkomstig die gehoor se smaak, bui en moontlik demografie aanpas. In my rol as ʼn programkoördineerder vra ons so gereeld as moontlik terugvoering oor ons opleidingswerksessies, fasiliteerders en verwante programme. As die terugvoer daarop dui dat ons die fasiliteerder, die benadering, die modus, ensovoorts moet verander, DOEN ONS DIT!
Foto en video: Stefan Els