Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Chemiedosent op koers na geldinsamelingsteiken van R60 000 vir studente-onderrig
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Anél Lewis]
Gepubliseer: 23/04/2024

​​Nadat sy 'n uitmergelende 600 km oor ses dae met 'n geskeurde heuplabrum en die ondersteuning van haar vier kinders – insluitende haar jongste wat net 12 jaar oud is – gery het, is dr Marietjie Lutz, 'n eerstejaardosent in chemie aan die Universiteit Stellenbosch (US), goed op koers om haar teiken te haal om R60 000 in te samel om voorgraadse studente wat finansiële uitdagings in die gesig staar, te help.

Die geldinsamelingsinisiatief is deur een van Lutz se voormalige eerstejaarstudente, Blessed Muyanga, geïnspireer. Muyanga het ondanks sy finansiële en persoonlike uitdagings daarin geslaag om chemie in sy eerste jaar met 'n gemiddeld van meer as 75% te slaag. "Hy het baie deursettingsvermoë getoon," sê Lutz. Sy toewyding om ondanks teëspoed voort te gaan met sy studie, het haar aangespoor om die Wheels of Opportunity"-inisiatief aan te pak om ander studente in soortgelyke omstandighede te help om akademiese doelwitte te bereik.

Muyanga is verheug dat Lutz die uitdaging voltooi het. "Sy weet dat ek nie hier sou gewees het as dit nie vir haar was nie. My situasie het my gedwing om sterk te staan en op God te steun vir inspirasie. Sy en my klein vriendekring het my gehelp om so ver te kom en ek sal ewig dankbaar wees daarvoor."

Lutz is op haar fietstoer van George na Stellenbosch deur haar seuns en dogter vergesel. Die oudste, Ben (20), het 600 km gery om R10 000 in te samel, haar dogter, Isabel (15), 'n leerder by die Hoër Meisieskool Bloemhof, het 500 km getrap om R5 000 in te samel. Haar jongste, die 12-jarige Daniël, 'n leerder by Laerskool Eikestad, het 200 km in die saal afgelê om R2 000 vir sy ma se projek in te samel. Lutz se tweede oudste, Jan (18), was vir die hele tog agter die stuur van die bystandsvoertuig.

Haar man, Daniël (senior), was verantwoordelik vir die beplanning en kartering van die roete – wat grondpaaie deur Oudtshoorn, Calitzdorp, Riversdal, Swellendam en Greyton tot op Stellenbosch ingesluit het. "Ons het paaie gery wat 'n mens nie andersins sou sien as jy hierdie roete per motor sou aflê nie."

Die gesin fietsryers het verskeie uitdagings op pad beleef, insluitende 'n noue ontkoming met 'n energieke koedoe, 'n gebreekte derailleur-rateenheid, verskeie bergpasse wat tot elke dag se klim van meer as 1 000 m bygedra het en versengende temperature van meer as 40 °C met sterk teenwinde.

Oor die besluit om geld met 'n fietstoer in te samel, sê Lutz: "Ek is mal oor bergfietsry en ek is mal oor my studente, so dit was 'n goeie manier om die twee liefdes te kombineer." Om haar gesin by haar te hê vir dele van die rit, het die ervaring nog meer spesiaal gemaak en sy is veral trots op die jonger twee vir die kilometers wat hulle vir 'n goeie doel afgelê het.

Maar die prestasie sou nie moontlik gewees het sonder die ondersteuning van haar gesin en plaaslike sakeondernemings nie – soos Flandria Cycles wat hulle fietse gediens het, Adventureshop wat met die roetekartering gehelp het en Eendracht Hotel and Apartments wat die bystandsvoertuig en verblyf langs die roete geborg het.

Daniël (senior) het reeds begin beplan aan aanstaande jaar se geldinsamelingsrit, sê Lutz. "Ons hoop hierdie inisiatief sal as voorbeeld dien vir ander akademici, personeel en studente wat dalk iets soortgelyks wil doen."

Die nuutaangestelde dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe, prof Burtram Fielding, het Lutz vir haar inisiatief geloof. "Ek is seker haar inisiatief én Blessed se verhaal sal ander studente inspireer om maniere te vind om hulle studie te help finansier. Ek is ook beïndruk met dr Lutz se poging om 600 km vir hierdie goeie doel aan te pak. Sy het reeds meer as R38 000 ingesamel en nou het sy ons hulp nodig om die teiken van R60 000 te oortref."

 

  • Belangstellendes wat die "Wheels of Opportunity"-inisiatief wil ondersteun, kan die GivenGain-platform gebruik om skenkings te maak.
  • Diegene wat belangstel om deel te neem of die projek op enige ander manier wil ondersteun, kan direk met haar in verbinding tree by mlutz@sun.ac.za.