Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Internasionale werkswinkel fokus op bestuur van indringerspesies in beskermde gebiede
Outeur: Media: School for Climate Studies
Gepubliseer: 22/04/2024

​Ekoloë van 17 lande en ses kontinente het onlangs in Stellenbosch bymekaargekom om kennis en beste praktykbenaderings tot die bestuur van indringerspesies in beskermde gebiede te deel.

Die driedaagse werkswinkel is aangebied onder die sambreel van die Sentrum vir Indringerbiologie se Navorsingsleerstoel in Bestuur van Indringerspesies in Beskermde Gebiede. Dié leerstoel word gehuisves binne die Universiteit Stellenbosch (US) se Skool vir Klimaatstudie.

Prof. Tammy Robinson-Smythe, houer van die leerstoel, het in haar verwelkomingstoespraak gesê dit is opwindend om spesialiste van omtrent elke ekosisteem – van mariene en terrestriële tot varswater-ekosisteme – saam in een vertrek te hê, wat dit 'n unieke geografies verteenwoordigende byeenkoms maak.

Die doel van die werkswinkel was om Teiken ses van die Kunming-Montreal Globale Biodiversiteitsraamwerk aan te spreek. Dié teiken is gemoeid met, onder andere, die vermindering van die tempo van bekendstelling en vestiging van bekende of potensiële indringer uitheemse spesies met ten minste 50% teen 2030.

Robinson sê indringerspesies het 'n breë impak op biodiversiteit, ekosisteemdienste en mense se lewensbestaan. In hierdie opsig ondersteun Teiken 6 die oorkoepelende doelwit van die Globale Biodiversiteitsraamwerk, ook bekend as die Biodiversity Plan for Life on Earth.

Beskermde gebiede is reeds fokuspunte van aksie wat daarop ingestel is om waardevolle ekosisteemdienste te beskerm. Derhalwe moet daar op hierdie sentrums van bewaringskundigheid gefokus word om te kapitaliseer op die voordele van sodanige bestuursingrypings.

"Met hierdie werkswinkel hoop ons om die struikelblokke in die bereiking van die globale biodiversiteitsraamwerk-teikens te identifiseer en te oorkom," voeg sy by.

Van die referate wat by die werkswinkel gelewer is, sal in 'n spesiale uitgawe van die vaktydskrif Biological Invasions gepubliseer word. Daarbenewens sal 'n oorkoepelende referaat insigte uit die werkswinkel saamstel. Dit sal dien as 'n sintese van die stand van kennis en die identifisering van leemtes in huidige praktyk en geleenthede om teiken 6 te bereik.