Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Opedag: 'n dawerende sukses
Outeur: Lynne Rippenaar-Moses
Gepubliseer: 19/04/2024

Die Afdeling Studentesake (STS) se jaarlikse Opedag op Tygerberg-kampus was weereens 'n geweldige sukses om studente van waardevolle inligting te voorsien, betrokkenheid te bevorder, en 'n gevoel van behorendheid binne die universiteitsgemeenskap te skep.

Op 16 April het die STS die derde Opedag op die kampus aangebied. Die geleentheid het gedien as 'n kans vir STS-personeel van die Stellenbosch-kampus om aan te sluit by hul Tygerbergse eweknieë in interaksie met voor- en nagraadse studente, sowel as personeel van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe. Die doel was om bewustheid te kweek oor die omvattende reeks ondersteuningsdienste, leierskap-ontwikkelingsopleiding, en ko-kurrikulêre aanbiedinge wat aan studente beskikbaar is regdeur hul akademiese reis.

Die STS se Opedag-inisiatief is deur me. Khairoonisa Foflonker, bestuurder van die STS se Tygerbergse kantoor, ontwerp om maklike toegang tot inligting te verseker en die uiteenlopende behoeftes van studente wat verskillende grade volg, aan te spreek. 

“Deur die sigbaarheid van ons ko-kurrikulêre aanbiedinge te verhoog, kan ons verseker dat studente op 'n holistiese wyse ontwikkel in ooreenstemming met die US se Graduandi Eienskappe. Dit bevorder ook bewustheid rondom ons ondersteunings-dienste, wat insluit (maar nie beperk is nie tot) voedselsekerheid, geestesgesond-heidsondersteuning en toeganklikheidsbewus-making," het Foflonker verduidelik.

Die Sentrum vir Studentelewe en Leer (SSLL) en die Sentrum vir Studentevoorligting en -ontwikkeling (SSVO) het stalletjies by die ingang van die Tygerberg-studentesentrum en die Hippokrates-koshuis se grasperk opgerig wat studente tydens die etensuur kon besoek. 

Tydens die geleentheid kon studente meer uitvind oor die werk van die sentrums en eenhede binne elke sentrum. Hulle is ook aangemoedig om vrae te vra oor  ondersteunings-, leierskap- en persoonlike ontwikkelingsaanbiedinge wat aan hulle beskikbaar is ná die Universiteit se Verwelkoming.

“Ná die verwelkomingstydperk kan baie studente vergeet van die dienste wat deur ons Sentrum vir Studentelewe en Leer en die Sentrum vir Studentevoorligting en -ontwikkeling aangebied word. Die stalletjies en betrokkenheid met geregistreerde studente in alle jaargroepe in 'n prettige en interaktiewe omgewing is dus 'n herinnering aan die ondersteuning wat ons bied om ons studente te help om in 'n verwelkomende en inklusiewe omgewing te leef, te leer en te floreer," het Foflonker gesê.

Om groter bewustheid van studenteleierskapstrukture en die komende nasionale verkiesing te bevorder, het die Tygerberg Studenteraad (TSR) en die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) aktief aan die Opedag deelgeneem. Selfs Pokkel, die universiteit se gelukbringer, het deelgeneem aan die pret, wat 'n lewendige musiekuitvoering en 'n gelukkige trekking ingesluit het.