Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Die US versamel en herlei meer as 1 000 ton afval jaarliks weg van stortingsterreine
Outeur: CCMD
Gepubliseer: 19/04/2024
  • ​Die US se gesentraliseerde materiaalherwinningsfasiliteit (MRF) op die Stellenbosch-kampus het in 2023 meer as 1 000 ton afval van stortingsterreine gesorteer en van lundvul herlei
  • Met 'n jaarlikse afval-tot-landvul-koers van 74 persent, presteer die US ver bo die 50 persent-gemiddeld wat deur ander universiteite gerapporteer word.
  • Die US het verlede jaar meer as 10,4 ton e-afval herlei en herwin

Die Universiteit Stellenbosch het verlede jaar meer as 1 000 ton wat op drie van sy vyf kampusse ingesamel is, weg van stortingsterreine herlei. Dit is 'n  belangrike stap in die rigting van sy doelwit om netto nul teen 2050 te bereik.

Die Universiteit word op sy netto nul-reis gelei deur sy Omgewingsvolhoubaarheidsplan saam met die Verenigde Nasies (VN) se 2030 Agenda met sy 17 Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte (SDG's).

Gedurende die week van 22-26 April 2024 vier die US weer Aardeweek en Aardedag op 22 April 2024. Ter ondersteuning van die wêreldtema Planeet teenoor Plastiek (Planet vs Plastics), hoop Fasiliteitsbestuur se Omgewingsvolhoubaarheidspan en vennote om bewustheid vir afvalvermindering op kampus te verhoog. Die span gaan twee afvalinstallasies, op die Rooiplein en by die Ingenieursfakulteit, tydens Aardeweek opstel.

Die afvaltorings op die Rooiplein sal twee dae se afval verteenwoordig wat op die Stellenbosch-kampus geproduseer word. Die 3 000 kg afval is gelyk aan ongeveer 30 bale, wat die US se gesentraliseerde materiaalherwinningsfasiliteit (MRF) produseer nadat hulle die afval wat hulle daagliks versamel, sorteer het. Van hierdie 3 000 kg afval herwin die US 28 persent, stuur 46 persent vir kompos en 26 persent na stortingsterreine. Die US se MRF sorteer alle kampus-afval en herlei dit weg van stortingsterreine. Verlede jaar is meer as 1 miljoen kg afval, meestal plastiek en papier, versamel en weg van stortingsterreine herlei.

Sedert hierdie fasiliteit gebou is, het die US daarin geslaag om sy afval-tot-landvul koers te verminder. “Ons stuur tans slegs 26 persent na stortingsterreinne. Die US se doelwit is om teen 2028 by nul afval-tot-stortingsterrein te kom, sê John de Wet, die US se Omgewingsvolhoubaarheidsbestuurder.

As deel van sy pogings vir 'n groener toekoms, in lyn met hierdie doelwitte, het die Universiteit baie belê in verskeie energie-, water-, afval- en biodiversiteitsprogramme op al sy kampusse, sê De Wet. Inisiatiewe sluit in 'n drie-vullisblik-sorteerstelsel op alle kampusse, die MRF, die installering van waterbesparende krane, stortkoppe en -bakke in koshuise, gryswaterstelsels om stortwater te herwin en water te voorsien vir die spoel van toilette, water-vriendelike landskapsontwerp, en die installasie van fotovoltaïese panele op die dakke van geboue om koolstofvrystellings en nutskoste te verminder.

Vir die US om sy netto nul-teiken te bereik, moet hy sy koolstofvrystellings van 85 241 tCO2e tot so na as moontlik aan nul verminder, verduidelik De Wet.

"Vermorsing is een van die elemente in hierdie reis, en die US se afleiding-weg-van-stortingsterrein-koers is tans op 'n indrukwekkende jaarlikse gemiddelde van 74 persent. Dit is ver bo die 50 persent-gemiddeld wat deur ander universiteite gerapporteer word."

Meer onlangs, ter ondersteuning van die US se bydrae tot die bereiking van Doelwit 12: Verantwoordelike verbruik en produksie, en om bewustheid te kweek oor Globale Herwinningsdag wat op 18 Maart gevier is, het die Omgewingsvolhoubaarheidspan by die US se Fasiliteitsbestuur saam met die UNASA (Verenigde Nasies Vereniging van SA), studentevereniging, Wasteplan, en eWASA (EPR Waste Association of South Africa) saamgewerk en 'n suksesvolle e-afval-herwinningsveldtog op die Stellenbosch-kampus aangebied.

Christine Groenewald, die US se Omgewingsvolhoubaarheidskoördineerder: Betrokkenheid, het op die dag gesê: "Ons wil bewustheid skep van die belangrikheid daarvan om e-afval uit stortingsterreine te hou." Elektroniese afval, of e-afval, bevat talle chemikalieë en swaar metale wat menslike en ekologiese gesondheid in gevaar kan stel. Op die dag het die versamelde e-afval vier geel wielebakke gevul wat net meer as 62 kg geweeg het, sê Groenewald. Items het sleutelborde, ketels, laaikabels, ou fone en batterye ingesluit, wat 'n derde van al die e-afval wat ingesamel is, uitmaak.

Ander onlangse mylpale sluit in die sertifisering deur die Groengeboueraad van Suid-Afrika (Green Buildings Council) van 18 geboue op die Stellenbosch-kampus, en die Stad Kaapstad se toekenning van 5-ster- en 3-ster-graderings aan die Tygerberg- en Bellville-kampusse vir doeltreffende waterbestuur. Waterwyse strategieë by Tygerberg het gelei tot 'n aansienlike vermindering van 30 persent in drinkbare waterverbruik, terwyl Bellville se drinkbare watertoevoer nou van 'n diepwatermeer kom en saam met die omgekeerde osmose-aanleg tot gevolg gehad het dat 'n minimale watertoevoer vanaf die Stad Kaapstad se watertoevoer kom.

Die US se Impak Hub vir Volhoubare Ontwikkeling (SDG/2063 Impak Hub), wat in 2021 gestig is om die Universiteit te help om meer volhoubaar te word en bydraes tot die VN en AU se agendas uit te lig, het pas sy tweede Jaarverslag vir Volhoubare Ontwikkeling (2022/2023) uitgereik met die tema: Volhoubare Afrika: Vennootskappe vir Vooruitgang.

Corina du Toit, programbestuurder by die hub, (geleë binne die Sentrum vir Samewerking in Afrika as deel van US Internasionaal), sê: "Die verslag wys hoe die US se volhoubaarheidsreis belyn is met die 17 SDG's en 20 AU-doelwitte. Deur vennootskappe en samewerking te vorm, maak dit 'n beduidende impak op ons gemeenskap, nasionaal en regdeur Afrika, aangesien dit die leiding neem om toekomsgerigte navorsing, beleid en verandering te dryf." 

Program vir die week​

​​Die US se omgewingsvolhoubaarheidspan beplan 'n reeks aktiwiteite gedurende Aardeweek (22-26 April 2024). Van die hoogetepunte sluit in:

  • Afval-installasies op die Rooiplein en by die Inginieursgebou met 'n inligtingstalletjie
  • e-afval afsetpunte by die inligtingstalletjie op die Rooiplein
  • “Weaving Time" kunsuitstalling in die  Container Gallery saam met die Beeldende Kunste Departement
  • Personeelkompetisie: hoe om 'n netto nul kampus te skep

Maandag 22 April:

18:00: Vasvra-aand met UNASA by die Courtyard Cafe 

Dinsdag 23 April:

Aardeweek uitstallers op die Rooiplein (Die uitstallers werk met die impak wat plastiekbesoedeling op die omgewing het en help om afval van stortingsterreine te herlei.) 

Woensdag 24 April:  

13:00 – 14:00 Thrift modeparade op die Neelsie-verhoog

18:00 – 20:00 Fliekaand by die Neelsie cinema: David Attenborough Aardeweek hamper te wen na afloop van die fliek. RSVP https://forms.office.com/r/n0XLpc6T0P 

Donderdag 25 April: 

13:00 – 14:00 Hoe om geen afval na stortingsterreine te stuur: gesprek met ZWASA (Zero Waste Association of South Africa) en Ecomaties, Neelsie cinema. 

RSVP https://forms.office.com/r/NXnm8vWdzg 

Vrydag 26 April: 

12:00 – 14:00 Besoek Stellenbosch Munisipaliteit se stortingsterrein en herwinningsfasiliteit. RSVP https://forms.office.com/r/BjqtiCdngY 

Saterdag 27 April: 

8:30 – 12:00 Gemeenskapskoonmaak-inisiatief langs die Kromrivier in Idas Valley.   

Vir navrae, Christine Groenewald by cgroenewald@sun.ac.za