Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Magisterstudent oorkom verskeie struikelblokke om met onderskeiding te gradueer in ’n veld wat haar ‘gekies’ het
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Anél Lewis]
Gepubliseer: 04/04/2024

Vir iemand wat aanvanklik gedink het spraakterapie behels om mense te leer hoe om toesprake te skryf, het Ntokozo Ndlovu uitgeblink en haar meestersgraad in spraak- taalterapie cum laude behaal by die Universiteit Stellenbosch (US) se Maart-gradeweek.

Sy het nie net met onderskeiding geslaag nie, maar het ook talle toekennings gedurende haar studiejare verwerf, waaronder die P de V Pienaar-toekenning as die beste finalejaarstudent in spraakpatologie en die Rektorstoekenning vir Akademiese Prestasie in 2021. Sy is ook deur die Suid-Afrikaanse Spraakleer-Gehoorvereniging erken as die beste student in spraakpatologie en deur die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe as die beste student in die Spraak-Taal- en Gehoorterapie-program.

Hierdie prestasies, wat merkwaardig is in eie reg, is nogal buitengewoon as 'n mens in ag neem dat Ndlovu by die US ingeskryf het sonder om werklik te verstaan wat spraakterapie behels. "Ek het nog nooit vantevore die beroep teëgekom of van 'n spraakterapeut gehoor nie." Sy erken sy het gou besef die kursus het min met die skryf van toesprake – soos sy aanvanklik gedink het – te doen. Sy was egter nooit spyt oor haar besluit nie. "Ek was van dag een af verlief op die beroep. 'n Kliniese studieleier in my voorgraadse studie het eenkeer vir my gesê ek het nie spraakterapie gekies nie, spraakterapie het my gekies."

Ndlovu, wat by die Oprah Winfrey Leierskapsakademie vir Meisies in Gauteng skoolgegaan het, is gewoond daaraan om uitdagings en onsekerheid te oorkom. Sy het deur 'n uitmergelende keuringsproses gegaan om by die gesogte skool aanvaar te word. Daar, sê sy, is sy blootgestel aan uitstekende opvoedkundige geleenthede en buitemuurse aktiwiteite. Sy het ook 'n liefde vir musiek ontwikkel en geleer hoe om die kontrabas te speel. "Om in die skool te wees, het letterlik my lewe verander. Dit was 'n droom wat waar geword het."

Sy het reeds in graad 9 besluit sy wil aan die US studeer. "Ek het nie eens geweet waar die US is of wat om van die dorp te verwag nie." Dit was nie maklik om haar ma in Gauteng agter te laat nie, maar Ndlovu sê sy het op haar studie gefokus en die akademiese toekennings wat sy ontvang het, is 'n bewys van haar harde werk. Sy voeg by dat die ondersteuning van haar gesin en dosente van onskatbare waarde was, veral tydens die Covid-19-pandemie toe sy tuis moes studeer sonder toegang tot selfs 'n stoel of 'n lessenaar. "Ek het saans met 'n flitslig vir my eksamens gestudeer omdat ek die ruimte met my hele gesin gedeel het." Ndlovu het dit oorweeg om haar studie te staak toe die emosionele en geestelike spanning sy tol geëis het. "Maar my geloof in God en my ma se aanmoediging ma het my in daardie tyd aan die gang gehou, en ek het ten spyte van my omstandighede na uitnemendheid gestreef."

Ndlovu het aan haar meestersgraad gewerk terwyl sy haar gemeenskapsdiens in KwaZulu-Natal gedoen het. "Ek moet sê, dit was nogal 'n uitdaging om te werk en te studeer." Haar navorsing het op die aanpassing van internasionale taaltoetse vir gebruik in die Suid-Afrikaanse konteks gefokus. Dit is 'n sensitiewe en omstrede kwessie, verduidelik haar studieleier, prof Daleen Klop. " Ntokozo het 'n gestrenge metode ontwikkel waar sy met kulturele ingeligtes en professionele praktisyns gekonsulteer het om die isiZulu MAIN (“Multilingual Assessment Instrument for Narratives") te skep. Sy het ook toetse in die praktyk op tweetalige isiZulu/Engelssprekende kinders gedoen. "Die MAIN is reeds in 92 tale wêreldwyd aangepas, maar dit is die eerste studie wat so 'n deeglike proses gebruik het om kulturele en funksionele ekwivalensie vir die gebruik van MAIN in multikulturele kontekste te verseker," sê Klop.

Ndlovu is besig om 'n spraakterapie-afdeling by die distrikshospitaal waar sy nou werk, tot stand te bring. Sy wil ook graag haar navorsing oor meertaligheid op die gebied van spraak-taalterapie voortsit. "Spraakterapie is 'n broodnodige beroep, maar baie mense weet nie (net soos ek nie geweet het nie) watter verskil spraakterapeute in hulle lewe kan maak nie."

Foto: Stefan Els