Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
’n PhD op 25, ’n werk oorsee en huweliksklokkies vir begaafde voedselwetenskaplike
Outeur: Corporate Communications and Marketing (Hannelie Booyens)
Gepubliseer: 04/04/2024

Die eerste paar maande van 2024 sal vir altyd as 'n onvergeetlike tydperk in dr Jana van Rooyen se geheue ingeëts wees. Sy het nie net 'n PhD in Voedselwetenskap op 25 aan die Universiteit Stellenbosch (US) verwerf nie, maar sy het ook na die buiteland verhuis, 'n nuwe werk begin en met haar verloofde, Pieter Cloete, getrou.

Van Rooyen het in 2021 met haar studie vir haar MSc in Voedselwetenskap begin, maar het sulke briljante vordering gemaak dat haar MSc in Oktober 2022 na 'n PhD opgegradeer is. 'n Jaar later het sy haar tesis vir eksaminering ingedien en op 26 Maart 2024 het sy by die Coetzenburg-sentrum oor die verhoog gestap om haar doktorsgraad te ontvang.

Van Rooyen woon en werk tans by 'n groot voedselmaatskappy in Utrecht in Nederland en is 'n welberese akademikus. Sy het 12 maande van haar drie jaar as nagraadse student in Europa deurgebring waar sy aan navorsingsprojekte in Pole, Turkye, Duitsland en die Verenigde Koninkryk deelgeneem het.

Van Rooyen sê sy was nog altyd lief vir kos en die wetenskap daaraan verbonde, maar nadat sy op hoërskool met 'n beroepsvoorligter gesels het, is sy meegedeel dat sy gefrustreerd sal raak as sy wetenskapvakke kies. “My ouers het vir my gesê om die raad te ignoreer en by die wetenskap te hou tot aan die einde van matriek. Ek is so bly ek het, ek sal altyd dankbaar wees vir hulle raad," sê sy.

Sy het aanvanklik in haar eerste jaar aan die US met 'n BSc Wingerd- en Wynkunde begin, maar het gou besluit om die kuns van wynmaak vaarwel toe te roep en om uitsluitlik op voedselwetenskap te fokus.

“Ek het van die begin af geweet ek wil iets prakties studeer. Ek wou nie heeldag in 'n kantoor sit nie, ek verkies om buite te wees. Ek het nog altyd baie belang gestel in prosesse en hoe dinge werk. In voedselwetenskap bestudeer jy die chemiese en fisiese eienskappe van kos en hoe dit verander wanneer jy dit verwerk of verhit. Ek het dit baie interessant gevind."

Nadat sy haar BSc in Voedselwetenskap voltooi het, het sy nog nie gereed gevoel vir die bedryf nie en haar ouers, wat albei prokureurs is, het haar aangemoedig om met 'n meestersgraad te begin. Van Rooyen beskryf haar navorsingsreis as 'n ervaring wat haar nederig gemaak het. “Dit was nie 'n maklike roete om te volg nie, maar ek het soveel ervaring opgedoen. Ek het by van die voorste internasionale navorsers geleer en ek het baie van myself geleer."

Toe Van Rooyen haar familie in 2022 meegedeel het dat sy alleen Turkye toe gaan om vir 'n paar maande aan die SuChAQuality-navorsingsprojek deel te neem, was haar ouers se reaksie: “As daar iemand is wat dit kan doen, is dit jy." Wanneer sy gedurende haar tyd oorsee huis toe verlang het of oorweldig gevoel het, het sy net aan hulle bemoedigende woorde gedink. Deur van jongs af selfversorgend en onafhanklik te wees, het sy nog 'n groot lewensles geleer: Vertrou die proses. “Jy verstaan nie altyd hoekom jy jouself in 'n sekere situasie bevind nie, maar op die ou einde gebeur alles met 'n doel."

Van Rooyen sê sy is baie dankbaar vir die ondersteuning wat sy van haar studieleier by die Departement Voedselwetenskap, prof Marena Manley, ontvang het. “Sy het my deurgaans bygestaan en het wonderlike geleenthede vir my moontlik gemaak. Prof Manley het my ondersteun en aangemoedig om verskeie akademiese referate te publiseer."

Sy beklemtoon ook die ondersteuning wat sy van prof Mecit Öztop van Turkye ontvang het. “Hy was die projekkoördineerder van die H2020 MSCA RISE SuChAQuality-projek. As dit nie vir hom was nie, sou ek nie die geleentheid gehad het om so baie te reis en navorsing in verskillende lande te doen en topnavorsers te ontmoet nie. Ek is ook baie dank aan hom verskuldig."

Van Rooyen het in haar navorsing saam met gevestigde internasionale kundiges uit sewe verskillende lande gewerk en saam met hulle referate gepubliseer. Ten tye van haar gradeplegtigheid, het haar hele PhD in eweknie-geëvalueerde vaktydskrifte verskyn.

Haar navorsing het lig gewerp op gesofistikeerde analitiese metodes wat in graan- of koringgebaseerde navorsing gebruik kan word. Om dit te kon doen, moes sy 'n uiters hoë vlak van kennis en kundigheid in analitiese tegnieke opdoen. Daarbenewens moes sy gevorderde vaardighede in data-ontledingsmetodes aanleer wat nodig was om resultate te evalueer en te interpreteer.

Van Rooyen sê om 'n bekwame voedselwetenskaplike te wees, het nie regtig haar eetgewoontes verander nie. “Ek het nog altyd gesonde kos geniet en eet baie selde wegneemetes. Gedurende my voorgraadse studie het ons geleer van bakterieë in rou vis, so ek eet nie soesji nie. Ek sorg ook dat ek altyd hoender was voordat ek dit gaarmaak. Die een gewoonte wat ek uit belangstelling aangeleer het, is om altyd na voedseletikette te kyk voordat ek die produk koop."

Sedert sy vroeg vanjaar na Nederland verhuis het, het Van Rooyen goed aangepas by die lewe daar, maar sy mis Suid-Afrikaanse gunstelinge soos biltong, droëwors, boerewors en blatjang.

As sy terugkyk op haar tyd as 'n US-student, sê Van Rooyen sy sal altyd haar tyd in Minerva-koshuis koester. “Ek het lewenslange vriende gemaak in Minerva. Hulle is altyd daar vir my en ons staan bymekaar deur dik en dun."


FOTO: Stefan Els