Twee merkwaardige denkers, die bekende geleerde prof Homi Bhabha en die bekroonde kunstenaar William Kentridge, het onlangs 'n Stellenbosse gehoor vir 90 minute in verwondering gehad met 'n intellektuele kragtoer van 'n gesprek.
Die geleentheid, wat op 14 Maart 2024 by die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS) gehou is, was getiteld 'The Surrealism of Fanon: Montage and Social Dialogue' en is deur die Universiteit Stellenbosch (US) se Sentrum vir die Bestudering van die Nadraai van Geweld en die Soeke na Herstel (AVReQ) gereël.
Bhabha is die Anne F. Rothenberg-professor in Geesteswetenskappe in die Departement Engels en Vergelykende Letterkunde aan die Harvard Universiteit. Hy het talle toekennings en ereprofessorskappe ontvang, waaronder 'n buitengewone professorskap by die AVReQ.
Kentridge word as een van Suid-Afrika se belangrikste kunstenaars beskou en is bekend vir sy werk in verskeie mediums, waaronder sketse, films, teater en opera. Hy was die regisseur van teaterproduksies vir gesogte instellings wêreldwyd en het al eredoktorsgrade van verskeie universiteite ontvang, waaronder Yale, Columbia en die Universiteit van Londen. Hy is bekroon met die Kyoto-prys (2010), die Princesa de Asturias-toekenning (2017) en die Praemium Imperiale-prys (2019).
Kentridge werk dikwels saam met tientalle kunstenaars, uitvoerende kunstenaars en musikante om kuns te skep wat op die geskiedenis, letterkunde, politiek en wetenskap gegrond is.
Die bespreking is ingelei deur prof Pumla Gobodo-Madikizela, Direkteur: AVReQ, en het op Kentridge se nuwe projek, 'n kameropera getiteld 'The Great YES, The Great No' gefokus wat in 1941 op 'n denkbeeldige seereis van Marseille in Frankryk na die Karibiese eiland Martinique afspeel.
Die opera, waarvan die premiere in Julie vanjaar in Frankryk plaasvind, handel oor 'n uiteenlopende groep historiese figure, waaronder André Breton, Claude Lévi-Strauss, Victor Serge en Anna Seghers, en fiksionaliseer die reis deur karakters soos Aimé en Suzanne Césaire, die Nardal-susters, Frantz Fanon, Josephine Bonaparte, Josephine Baker, Leon Trotsky, Diego Rivera, Frida Kahlo en Joseph Stalin by te voeg.
Die gesprek tussen Bhabha en Kentridge het temas van surrealisme, montage, fragmentasie en sosiale dialoog aangeraak teen die agtergrond van die artistieke proses wat 'The Great YES, The Great No' rugsteun.
Gefragmenteerde kreatiwiteit
Albei sprekers is deur surrealisme beïnvloed. Bhabha het oor die surrealistiese aspekte van Fanon se werk geskryf en sy navorsing het tot die voortgesette diskoers oor postkoloniale teorie en die rol van kuns en letterkunde in die aanspreek van kwessies van kolonialisme en die nagevolge daarvan bygedra. Sy inleiding tot Fanon se werk het 'n kritiese perspektief gebied op die idees van die filosoof en die toepaslikheid daarvan op hedendaagse kwessies soos migrasie en die kulturele herverbeelding van historiese ongeregtighede.
Bhabha het Kentridge uitgevra oor die inspirasie wat hy in historiese oomblikke vind om universele kwessies te ondersoek en hoe surrealisme sy kuns inlig. In sy verduideliking van die artistieke proses het Kentridge beklemtoon dat hy op 'n gefragmenteerde manier werk. Hy het die teks vir sy nuwe produksies deur fragmente uit literêre en historiese tekste, selfs klassieke Griekse tekste, geskep wat dan geherstruktureer en verbind word om 'n samehangende geheel te skep.
“Ek is nie 'n skrywer nie, ek is 'n versamelaar. Ek maak 'n montage van 'n verskeidenheid tekste uit uiteenlopende bronne. Ek het 'n notaboek waar ek verskillende dinge wat ek gelees het, opteken," het hy verduidelik.
Kentridge het erken dat die gefragmenteerde aard van sy teater- en filmproduksies spruit uit die feit dat hy homself as 'n “nuttelose storieverteller" beskou. Toe hy in die verlede probeer het om manuskripte op 'n lineêre manier te skryf, het hy klaaglik misluk, het hy gesê. “Maar as ek sê, hier is 'n beeld wat ek wil hê, ek is nie seker waar dit inpas of wat dit beteken nie, maar ek het volle vertroue in die toepaslikheid daarvan, word dit 'n vertrekpunt. En daaruit word 'n ander idee gebore."
Kentridge het vir 'The Great YES, the Great No' saam met 'n groep Suid-Afrikaanse sangers en kunstenaars gewerk wat saam met die komponis Nhlanhla Mahlangu en regisseur Tlale Makhene werk om die teks in verskillende Suid-Afrikaanse tale soos Venda, Zoeloe, Xhosa en Swati te vertaal. “Die vroue in die koor is ook die komponiste en nie bloot net vertolkers van iemand anders se komposisie nie," het Kentridge beklemtoon.
“Soos wat ons fragmente byvoeg, hoop ons dat hulle kumulatief nie bloot net fragmente sal bly nie, maar dat die konneksies aan ons – en hopelik uiteindelik ook aan die gehoor wat daarna kyk – sal uitkristalliseer." Om die fragmente só te verweef, ook saam met digitale kunstenaars en ontwerpers, is 'n manier om nuwe denke en begrip aan te wakker, het Kentridge genoem.
In 'n meesleurende videogreep van repetisies vir die 'The Great YES, The Great No', is die gehoor getrakteer op 'n greep van Kentridge se innoverende weergawe van 'n gelaaide geskiedenis wat deur verskillende kunstenaars en denkers verteenwoordig word. “Disaster has fallen on everyone, everywhere" ('n Ramp het almal, oral getref), sing die koor. “Why is this age worse than others? / Misfortune flows as from a water main." (Hoekom is hierdie tydperk erger as ander? / Ongeluk vloei soos uit 'n waterbron).
Bhabha het daarop gewys dat die surrealistiese elemente in 'The Great YES, The Great No' versterk word deur die reis se sinspeling op ander gedwonge seevaarte, histories en kontemporêr.
Hy het opgemerk dat hy blyke bespeur van Fanon se idee van risiko in Kentridge se spel met surrealisme. Maar anders as ander surrealistiese kunstenaars, gaan die risiko vir Kentridge minder oor toeval en is dit meer gemoeid met eksistensiële bedreigings.
“My interpretasie van wat jy sê, is dat die universele nooit uitsluitlik fundamentele beginsels is nie. Die groot vrae word dikwels universeel omdat ons hierdie vrae herhaaldelik op verskillende tye vra. Die universele is dus nie 'n fundamentele vetrekpunt nie, dit is 'n proses van deurgronding," het Bhabha gesê.
Hy het Kentridge gekomplimenteer oor die vaardige manier waarop hy universele vrae stel. “Wat jy so briljant doen, dink ek, is dat jy die dringende banaliteit van sulke vrae beklemtoon."
Hoewel dit in historiese gebeure gewortel is, weerklink Kentridge se werk in die hede, het hy bygevoeg. “Dit lyk vir my die werk is nou só relevant, nie bloot omdat hierdie vrae uitdagend is nie, maar omdat ons altyd in 'n oomblik van oorgang én vertolking is terwyl ons sin maak van die wêreld om ons."
Meer as multikulturalisme
Kentridge het daarop gewys dat hoewel surrealisme aanvanklik 'n Franse kunsbeweging was, dit 'n instrument van wyer antikoloniale verteenwoordiging geword het.
Bhabha het na Fanon se idee van 'n plaaslike soort nasionalisme verwys wat in 'n gevoel van internasionalisme gewortel is. Hierdie konsep vind inslag in Kentridge se skip van dwase, profete, digters en skilders – mense wat 'n woordeskat uit baie kulture en plekke geleen en vertaal het, het Bhabha gesê. “Ek dink vir ons tyd, en vir die immigrante en vlugtelinge van ons tyd, is daar ten spyte van die politieke ongeregtighede 'n les te leer oor 'n sekere soort hibriede- of volkstaal-kosmopolitisme – iets wat hierdie werk baie duidelik na vore bring.
“Dit is nie bloot multikulturalisme nie. Dit is 'n baie meer grensverskuiwende gevoel van 'n kosmopolitiese globale beweging. En dít interesseer my baie, want ek dink hierdie werk bring moontlikhede na vore om nuwe verbintenisse en nuwe solidariteite te vind," het Bhabha gesê.
Hy het krediet aan Kentridge gegee vir die skep van kuns wat inherent tegelyk retrospektief en visioenêr is. “Hierdie deurlopende aktivisme om betekenis te verskuif, om te vertolk en om te werk met dít wat oorganklik is, is 'n groot prestasie."
In antwoord op 'n vraag van die gehoor, het Kentridge gesê hoewel surrealisme 'n strategie is wat sy werk beïnvloed, beskou hy 'The Great YES, the Great No' nie as 'n suiwer surrealistiese werk nie. “Op sommige maniere is dit, maar op ander maniere nie. Ek maak nie op dieselfde manier op toeval staat as ander surrealiste nie. Ons trek nie sinsnede uit 'n hoed nie. Dit is lekker om met toeval in 'n projek soos hierdie te speel, maar sodra kans sy sê gesê het, is ons baie berekend."
Gobodo-Madikizela het die sprekers vir hulle insiggewende gesprek bedank. “As vakkundiges en opkomende vakkundiges het ons hierdie ryk en diepgaande gesprek nodig. Dit is vir die Universiteit Stellenbosch 'n eer om sulke vrygewige en briljante denkers hier te ontvang," het sy gesê.