As boorling van 'n plattelandse dorpie in Madagaskar, het dr Dina Miora se akademiese reis haar eers na Suid-Afrika en Duitsland geneem, tot waar sy vandag by die Mediese Navorsingsraad (MNR) se Laboratory of Molecular Biology in Cambridge, Engeland as nadoktorale wetenskaplike en beeldontleder werk.
Wanneer sy tydens een van die Universiteit Stellenbosch (US) se Maart gradeplegtiheidseremonies oor die verhoog stap om haar PhD in Fisika van die US en die Friedrich-Schiller Universiteit Jena in Duitsland te ontvang, het sy letterlik en figuurlik 'n lang pad afgelê. Hierdie reis is gekenmerk deur verskeie kulturele en taaluitdagings wat sy moes oorkom, asook die sporadiese verlange huis toe.
Ten spyte van hierdie uitdagings het sy egter gedurende haar nagraadse studie 'n organisasie sonder winsbejag, Itatra gestig wat hom beywer vir “'n beter en gelyke opvoeding vir almal" in Madagaskar. Volgens onlangse opnames in Madagaskar het die aantal hoërskoolleerders wat fisika, chemie en wiskunde neem, tussen 2007 en 2017 van 11% tot slegs 5% gedaal. Boonop word die studieveld van optika – haar spesialiteit – nie op naskoolse vlak aangebied nie, of net as 'n mindere vak. “Itatra" is die Malgassiese woord vir uitbreiding.
In 2022 het sy 'n twee week lange uitreikinisiatief by drie hoërskole op die platteland van Madagaskar georganiseer. Die doel van hierdie inisiatief genaamd “Vision" was om leerders te help om die wêreld deur 'n lens te bekyk én dit te verstaan. Met finansiële ondersteuning van SPIE (die internasionale vereniging vir optika en fotonika) het leerders ook diffraksiebrille ontvang, asook opvoedkundige aktiwiteite gedoen met behulp van modulêre optika-opvoedkundige stelle van OpenUC2. In 2023 het sy wéér na dieselfde skole uitgereik met 'n fotokompetisie ter viering van die Internasionale Dag van Lig.
Van Madagaskar na Suid-Afrika en die wêreld
Dina het grootgeword in die plattelandse dorpie Fenoarivo-Be, ongeveer 180 km vanaf die hoofstad Antananarivo, waarna sy wiskunde aan die Universiteit Antananarivo studeer het.
Hier het 'n dosent haar aan die Afrika Instituut vir Wiskundige Wetenskappe (AIMS) in Muizenberg, Suid-Afrika, bekendgestel en aan die geleenthede wat dit bied. AIMS is 'n pan-Afrika-netwerk van Sentrums van Uitnemendheid vir nagraadse opleiding in die wiskundige wetenskappe.
Terwyl sy in 2016 die gestruktureerde meestersgraadprogram by AIMS gevolg het, is sy aan laserfisika bekendgestel toe sy gekies het om 'n fisika-verwante projek te doen om enkel fluoriserende molekules in besige beelde te lokaliseer. Onder die bekwame leiding van haar studieleiers emeritus-professor Erich Rohwer en Dr Gurthwin Bosman van die US se Departement Fisika, het sy toe 'n beurs van AIMS/DAAD (die Duitse Akademiese Uitruildiens) ontvang om 'n MSc in laserfisika te doen. Haar projek het gefokus op die ontwikkeling van mikroskopiese tegnieke om die 3D-posisie en oriëntasie van enkel molekules te bepaal.
Gedurende hierdie tyd het sy tydens 'n werkwinkel van die Afrika Lasersentrum met Prof. Rainer Heintzman, hoof van die Departement Mikroskopie by die Leibnitz Institut vir Fotoniese Tegnologie in Duitsland kennis gemaak. Volgens Dr Bosman, was hy so beïndruk met haar werk dat hulle begin praat het van 'n moontlike “cotutelle" vir haar PhD – dit is wanneer 'n student gesamentlik by twee universiteite ingeskryf is en tyd by albei universiteite spandeer.
Op daardie tydstip was die blootstelling intens: “Prof. Heintzman was so kundig en ek het gevoel asof ek niks weet nie. Terselfdertyd het die ontmoeting my 'n heeltemal nuwe perspektief oor die belangrikheid van my navorsing gegee," sê sy.
Vir haar PhD-navorsing het Dina nuwe tegnieke ontwikkel om die modellering van optiese stelsels te optimeer ten einde die kwaliteit van mikroskopiese beelde te verbeter. Om dit te kan bereik, benodig jy simulasietegnieke wat sensitief is vir beelde wat moontlik vervorm kan wees.
Dr Bosman verduidelik: “'n Mikroskopiese beeld is soos 'n skildery, en as jy die breedte en dikte van die verfkwas goed genoeg kan vasstel, kan jy wiskundig die impak van eindige breedte en dikte uitskakel en daardeur 'n beter kwaliteit en meer akkurate skildery skep."
In haar werk by die MNR se Laboratory of Molecular Biology by Cambridge, is sy by navorsing sowel as praktiese projekte betrokke: “Ons werk tans saam met 'n navorsingsgroep by die Universiteit van Cambridge wat 'n sagtewarekode ontwikkel het vir die nasporing van enkel molekules. My taak is nou om die doeltreffendheid en akkuraatheid van hierdie sagteware te toets," verduidelik sy.
As beeldontleder hanteer sy ook versoeke van bioloë oor beeldverwerking en -ontleding: “Hulle neem foto's van hul monsters deur middel van hul mikroskope, en ons taak is om hulle te help om die inligting wat hulle nodig het uit hierdie beelde te onttrek."
Om die taalhindernis in haar navorsingsveld te oorkom, sê Dina, dat dit gehelp dat sy Google translate so ver as moontlik vermy het: “Met navorsing en studies is die taal redelik gestandaardiseer. Op die lang duur was sinvoller om die definisie van 'n moeilike woord in dieselfde taal op te soek, in plaas daarvan om op Google translate terug te val."
Verbale kommunikasie in sosiale situasies was egter 'n ander saak: “Ek moes leer om meer oplettend te wees en die konteks en die kultuur probeer verstaan. Dit het regtig gehelp om deel te wees van 'n gemeenskap van mense met soortgelyke belangstellings en waardes omdat dit 'n veilige ruimte skep waarbinne jy die nuwe taal kan oefen en jou in 'n nuwe kultuur kan verdiep."
Sy is van plan om voort te gaan met haar uitreikaktiwiteite om fisika, chemie en optika by hoërskole in Madagkaskar te bevorder: “Ek glo dat onderwys 'n belangrike rol speeI in die ontwikkeling van my land. Ek sal my uitreikinisiatiewe voortsit, waar ek myself ook al bevind. As ek dalk buite Afrika bly, sal ek graag van tyd tot tyd wil terugkom om opleiding oor beeldverwerking en -ontleding aan te bied," sluit sy af.
Op die foto bo: Dr Dina Miora by die pasgemaakte mikroskoop opstelling in die Departement Fisika by die Universiteit Stellenbosch. Foto: Stefan Els