Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Wêreldverbruikersregdag: Verbruikers moet skepties bly oor kunsmatige intelligensie
Outeur: Lisa Esterhuyzen
Gepubliseer: 15/03/2024

Wêreldverbruikersregdag word elke jaar op 15 Maart gevier. Die tema vir 2024 is “Billike en verantwoordelike KI vir verbruikers". In ʼn meningartikel vir die Mail & Guardian skryf Lisa Esterhuyzen van die Departement Ondernemingsbestuur dat verbruikers skepties moet bly oor kunsmatige intelligensie.

  • Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder of klik hier vir die stuk soos geplaas.

Lisa Esterhuyzen*

Wêreldverbruikersregdag word elke jaar op 15 Maart gevier om bewustheid oor verbruikersregte, -beskerming en -bemagtiging te verhoog. Aangesien kunsmatige intelligensie (KI) so ʼn alomteenwoordige teenwoordigheid in die lewe van verbruikers wêreldwyd geword het, is dit gepas dat die tema vir 2024 “Billike en verantwoordelike KI vir verbruikers" is.

Die oorspronklike bedoeling van KI was om ʼn neurale netwerk te bou – in wese ʼn brein – maar wat ons kry, is baie slimmer as dit. Geoffrey Hinton, KI se “peetpa", het die volgende gesê: “Ons weet net so min wat KI doen as wat ons weet wat in [ons] brein aangaan."

Kunsmatige intelligensie het ʼn leerpotensiaal wat eksponensieel groter is as dié van mense. KI-stelsels kan byvoorbeeld kollektief leer deur insigte uit diverse bronne te verkry en baat by kollaboratiewe leerbenaderings te vind. In teenstelling met mense, weet KI-stelsels wat ander KI-stelsels geleer het.

Voorts ontwikkel die geïntegreerde stroombane of mikroskyfies wat hardeware-ondersteuning vir die bedryf van KI-algoritmes bied vinnig. Die mees komplekse mikroskyfie-ontwerp het tans meer as 50 miljard transistors op ʼn 5-nanometer-skyfie – die grootte van ʼn vingernael.

Kunsmatige intelligensie se vinnige vordering is ook te danke aan die ongekende spoed waarmee kliënte dit aanvaar het. Tradisioneel het verbruikers tegnologie op verskillende tye en om verskillende redes begin gebruik. Dit het die telefoon 75 jaar geneem om 50 miljoen gebruikers te bereik, die internet vier jaar en Facebook twee jaar. Maar die aanvaarding van KI is byna outomaties omdat verbruikers reeds oor die gereedskap, soos slimfone, beskik wat nodig is om daarby baat te vind. Die KI-taalmodel, ChatGPT, het slegs twee maande geneem om 100 miljoen gebruikers te bereik.

Onsigbare innovasie

Kunsmatige intelligensie kan losstaande produkte in dienste omskep deur hulle te voorsien van “sintuie" en “intelligensie" wat nie net instruksies volg nie, maar ook besluite neem. Kaarte was byvoorbeeld vroeër papierprodukte, maar danksy digitalisering en KI het hulle ontwikkel tot dienste wat kliënte die doeltreffendste roete bied terwyl dit intyds in reaksie op verkeersvloei bygewerk word. Dit beteken dat KI tans grootliks onsigbaar vir verbruikers is.

Hierdie tegnologieë word agter die skerms in kernprodukte en -dienste geïnkorporeer, veral in agtergrondprogramdienste wat gebruik word om verbruikersgerigte voorgrondprogramdienste te verbeter. As gevolg hiervan voel verbruikers eerder die impak van KI op hul verbruikerservarings as wat hulle dit sien. Beter kliëntediens met min of geen ekstra moeite of uitgawes nie word die norm vir verbruikers.

Die samelewing se sentiment is besig om te verander ten gunste van diensverskaffers wat KI gebruik om hul werk te doen, aldus die inhoudbemarkingspreker Andy Crestodina. Soos Andrew Carnegie, een van die rykste Amerikaners in die geskiedenis, eens gesê het: “kapitalisme het ten doel om luukshede in noodsaaklikhede te omskep". Op soortgelyke wyse het KI sommige mense aanvankllik afgestoot, maar begin verbruikers KI-integrasie as ʼn vereiste sien. Die bykomende gerief van KI stel ons egter voor ʼn etiese dilemma: Ons moet besluit tussen ons begeerte om KI te verstaan en die prestasieverbeterings wat dit bied.

Verbruikers vertrou hul rekenaars of fone, maar verstaan nie hoe hulle funksioneer nie. Net so kan KI-modelle te vinnig vertrou word, byvoorbeeld om te vertrou dat ʼn gegewe oefenroetine die beste via ʼn KI-fiksheidspoorder is of waarom ʼn tolk-oorstuk ʼn spesifieke woord gekies het. Hierdie onvoorwaardelike vertroue in KI-uitsette word deur gerief aangespoor, wat geneig is om in die meeste gevalle die oorhand te kry wanneer ons hierdie tegnologieë gebruik. As die opleidingsdatastel onvolledig of bevooroordeeld is, kan die KI-model verkeerde patrone aanleer. Dit word KI-hallusinasies genoem en lig verbruikers verkeerd in. In sommige gevalle sal KI-foute maklik opgespoor word, maar dit word minder duidelik wanneer kompleksiteit toeneem.

Generatiewe KI-modelle het ten doel om bestaande inhoud op unieke maniere te dupliseer, wat aansienlike waarde kan genereer. Maar gemors in, gemors uit. Hierdie uitdrukking wys daarop dat gebrekkige inligting ʼn uitset van dieselfde lae gehalte lewer. As die datastel wat gebruik word om die KI-model te voed bevooroordeeld is, kan dit lei tot die reproduksie van vooroordele en magstrukture.

Sommige maatskappye is bewus van die impak van vooroordele van KI-modelle en is openlik oor hoe hulle probeer om die foute aan te pak. Chatbots word byvoorbeeld ontwerp om prosessering te stop en die gebruiker vir hulp te vra as die bot nie die antwoord ken nie. Maar dit is nie die geval met alle KI-modelle nie.

Vertrouenskwessies

Belangrike vrae moet beantwoord word, aangesien generatiewe KI-modelle steeds met minimale of geen regulatoriese beheer nie oor die samelewing heen versprei word. Hierdie modelle is op enorme hoeveelhede data gebou wat van talle bronne verkry is, dikwels sonder die toestemming van inhoudskeppers soos kunstenaars, skrywers, joernaliste, YouTubers en sosialemedia-beïnvloeders. Nie eens selfies is veilig nie. Kommer oor verantwoordelikheid, eienaarskap, menseregte, privaatheid en waardeverspreiding spruit hieruit voort. Hopelik sal sommige van hierdie bekommernisse op Wêreldverbruikersregtedag aangepak word.

Soos wat verbruikers met beter dienste bederf word en op hul produkte staatmaak om dinge te “doen", nie net dinge te “wees" nie, sal verbruikerservaring ʼn mate van vertroue in die KI-verbeterde produkte en maatskappye behels. Dit sal noodsaaklik wees om die produkkenmerke te verduidelik en verbruikers meer beheer te gee. Google doen dit met sy “incognito-modus" en “vee soekgeskiedenis uit". Nietemin moet verbruikers en maatskappye skepties oor KI-uitsette bly, asof dit afkomstig is van ʼn slim Wikipedia-bladsy met intrinsieke politieke menings.

*Lisa Esterhuyzen is ʼn junior dosent in die Departement Ondernemingsbestuur aan die Universiteit Stellenbosch. Sy skryf in haar persoonlike hoedanigheid.