Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Erkenning aan ‘kampioene’ in onderrig-leer-assessering (OLA) aan die US by OLA-viering
Outeur: Anthea HM Jacobs
Gepubliseer: 15/03/2024

’n Diverse kohort akademici aan die Universiteit Stellenbosch (US) het by die OLA-viering (van onderrig-leer-assessering) op 5 Maart by STIAS in die kollig gestaan. Viserektor: Leer en Onderrig prof Deresh Ramjugernath het in sy toespraak die US se OLA-‘kampioene’ gelukgewens en hulle onwrikbare toewyding aan OLA geprys. Prof Ramjugernath het beklemtoon dat uitnemendheid in OLA bepalend is vir sukses in die US se strewe om die toonaangewende navorsingsintensiewe universiteit in Afrika te wees. Hy het uitgewys dat navolgenswaardige OLA-praktyke nie net grondliggend aan akademiese prestasie is nie, maar ook ’n vaste grondslag vir navorsingswerk met impak lê. Prof Ramjugernath het ook die volgehoue hoë akademiese sukseskoers onder voorgraadse US-studente in die algemeen uitgelig, wat US-gegradueerdes as hoogs gesogte professionele persone in die globale arbeidsmark posisioneer. Hy het bevestig dat die US daartoe verbind is om hierdie reputasie in stand te hou deur studentesukses voorop te stel – by wyse van voortgesette ondersteuning en die verryking van OLA-ervarings. Die oogmerk van die OLA-viering is om hulde te bring aan die onskatbare waarde van bydraes deur akademici wat leierskap toon in hulle OLA, aan hulle onderskeie fakulteite en Universiteitswyd, waarmee hulle die vakkundige diskoers oor OLA aan die US verder voer. Die visie vir erkenning en beloning vir akademiese uitmuntendheid in OLA is dat dit beter pedagogiese praktyke kweek, wat uiteindelik verantwoordelike kritiese denke, probleemoplossingsvaardighede en skeppende vermoëns onder studente ontwikkel. Boonop het die OLA-viering gedien as ’n geleentheid om die prestasies in professionele ontwikkeling te vier van personeellede wat deelgeneem het aan verskeie OLA-verwante gebeure wat die Afdeling Leer- en Onderrigverryking aangebied het, onder meer:


· US Onderrigtoekennings 2023 – wenners

· US Onderriggenootskappe 2023/2024

· US-TAU Genootskappe (vir die bevordering van onderrig aan universiteite) 2023

· Akademieskap van Onderrig en Leer (AvOL) Konferensie 2023 – pryswenners

· FINLO (Fonds vir Innovasie en Navorsing oor Leer en Onderrig) – 2023-ontvangers van toekennings

· US-kortkursus in Akademieskap van Opvoedkundige Leierskap (AvOL) – 2023-deelnemers

· US-kortkursus in Akademieskap van Onderrig en Leer (AvO&L) – 2023-deelnemers

· US-kortkursus in Assessering – 2023-deelnemers

· US-kortkursus in PRONTAK – 2023-deelnemers

· US-kortkursus in Vermengde Leer – 2023-deelnemers

· US-kortkursus oor KI in OLA Die geleentheid was werklik ’n besielende ervaring, gekenmerk deur oomblikke van egte trots en viering.