Vyf wetenskaplikes van die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) is onlangs by die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (SAMRC) se Wetenskaplike Meriete-toekennings vereer. Die toekennings gee erkenning aan van die beste wetenskaplike navorsing in Suid-Afrika, veral in gesondheidswetenskappe.
Die FGGW se professore Mark Tomlinson, Bob Mash, Shahida Moosa, Nelita du Plessis en dr Yoshan Moodley het onderskeidelik goue, silwer en brons medalje-toekennings ontvang.
“Om uitnemendheid in mediese navorsing te vier, vereer nie net die prestasies van navorsers nie, maar inspireer ook vordering, bevorder samewerking en verhoog die algehele impak van wetenskaplike vooruitgang op globale gesondheid en welstand," het SAMRC se president en uitvoerende hoof, prof Glenda Gray, gesê.
In 'n verklaring het die SAMRC gesê dat hierdie toekennings daarop gemik is om erkenning te gee aan uitstaande bydraes tot gesondheidsnavorsing, om individue te erken wat uitsonderlike wetenskaplike insig getoon het of innoverende vordering gemaak het om openbare gesondheidsuitdagings aan te spreek, wat beleid beïnvloed en die welstand van die Suid-Afrikaanse bevolking verbeter.
Prof Mark Tomlinson was die ontvanger van 'n goue medalje, wat toegeken word aan bekwame senior wetenskaplikes wat belangrike bydraes gelewer het wat 'n diepgaande impak op die gesondheid van mense gehad het, veral diegene wat in ontwikkelende lande woon. Tomlinson is mede-direkteur van die Instituut vir Lewensloop Gesondheidsnavorsing in die Departement van Globale Gesondheid. Sy navorsing fokus op kinder- en adolessentontwikkeling, vroeë gemeenskapsgebaseerde gesondheidsintervensies, longitudinale intervensieproewe, kind en adolessent navorsingsprioriteitstelling en moederlike geestesgesondheid. Hy het belangrike kohortnavorsingstudies gelei wat die longitudinale impak evalueer van vroeë intervensies in Suid-Afrika, gemik op die verbetering van moeder- en kindergesondheid en kinderontwikkeling. Kyk hier na 'n video van Tomlinson: https://youtu.be/a8uJJH2ghic.
Prof Bob Mash het 'n silwer medalje ontvang, wat toegeken word aan wetenskaplikes wat belangrike wetenskaplike bydraes gelewer het binne 10 jaar vandat hulle hul PhD of Meestersgraad in Geneeskunde (MMed) verwerf het. Mash is die Uitvoerende Hoof van die Departement Huisarts- en Noodgeneeskunde, en sy navorsingsvelde en kundigheidsareas is in kliniese navorsing oor diabetes, opvoedkundige navorsing en gesondheidsdienstenavorsing op die gebied van huisartskunde en primêre gesondheidsorg.
Medeprofessor Shahida Moosa, dr Yoshan Moodley en medeprofessor Nelita Du Plessis is elk bekroon met bronsmedaljes, wat toegeken word aan wetenskaplikes wat onlangs die gesondheidsnavorsingsveld betree het, met nie minder nie as vyf jaar ervaring na hul PhD.
Moosa staan aan die hoof van die Afdeling Mensgenetika en bestuur die ongediagnoseerde siekteprogram in Afrika suid van die Sahara, waar sy die nuutste tegnologie na die genetika-klinieke bring om pasiënte en gesinne wat met seldsame siektes leef, te bevoordeel.
Moodley is 'n senior dosent, epidemioloog en openbare gesondheidsnavorser. Sy werk fokus op epidemiologie, gastroïntestinale kanker en chirurgiese onkologie. Oor die afgelope vyf jaar het Moodley sy prestasies in Europa gekonsolideer en 'n uitstaande reeks hoogs impakvolle navorsing in die veld van evolusionêre genetika opgelewer.
Du Plessis is 'n medeprofessor in immunologie in die Departement Biomediese Wetenskappe. Haar werk is gefokus op aangebore immuniteit en die begrip van die rol van regulatoriese myeloïede selle in gasheer vatbaarheid vir TB-siekte.
In kommentaar op die toekennings het die SAMRC-raadsvoorsitter, prof Johnny Mahlangu, trots en bewondering vir die wenners oorgedra.
“Ek is diep dankbaar en vervul met bewondering vir die merkwaardige prestasies wat ons by hierdie toekennings gesien het. Laat my toe om my hartlike dank aan elkeen van julle uit te spreek vir julle onwrikbare toewyding om die grense van wetenskap en medisyne te bevorder," het Mahlangu gesê.