Die Suid-Afrikaanse Beleidsinnovasielaboratorium is onlangs by die Universiteit Stellenbosch (US) se Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke in die lewe geroep danksy 'n vennootskap met die Presidensie, die Duitse regering en die Bill & Melinda Gates-stigting.
Die Beleidsinnovasielab ondersoek maniere waarop die ontplooiing van datawetenskap- en kunsmatigeinteliigensie-instrumente en -benaderings beleidsvorming in Suid-Afrika kan verbeter ten einde die land se bereiking van die 17 volhoubare ontwikkelingsdoelwitte (VOD'e) te versnel, verduidelike prof Willem Fourie, projekleier van die inisiatief.
“Ons invalshoek tot die VOD'e is VOD 17*, veral hoe dit op die belangrikheid van beleidsamehang en beleidskoördinering fokus. Daarom fokus die lab se huidige projekte op die verbetering van koördinering en doeltreffendheid in Suid-Afrika se beleidsvorming en die vermindering van duplisering en beleidskonflik deur die toepassing van datawetenskap- en KI-instrumente en -benaderings."
Baie van die Beleidsinnovasielab se projekte word in samewerking met die afdeling vir Beleids- en Navorsingsdienste in die Presidensie – die lab se regeringsvennoot – uitgevoer. Ander projekte word deur sy lidmaatskap van die ARUA-Gilde se Kluster vir Navorsingsuitnemendheid oor die Politiek van Volhoubare Ontwikkeling bestuur.
Die Beleidsinnovasielab speel ook gasheer vir twee projekte wat sterk klem op sosiale impak plaas. Eerstens is die lab die kurator van die Suid-Afrikaanse netwerk van die Bill & Melinda Gates-stigting se “Goalkeepers"-inisiatief – 'n projek wat poog om stories oor die impak van volhoubare ontwikkelingsdoelwitte regoor Afrika te laat weerklink.
Tweedens ondersteun die Beleidsinnovasielab die opstel van Suid-Afrika se tweede VOD-verslag, wat ook as 'n Vrywillige Nasionale Oorsig (“Voluntary National Review") bekendstaan. Hierdie verslag sal in Julie 2024 by die Verenigde Nasies voorgelê word.
*VOD 17 het die volgende ten doel: Versterk die implementeringsmiddele en blaas nuwe lewe in die wêreldwye vennootskap vir volhoubare ontwikkeling.