Dr Ethel Phiri, ʼn dosent in die Volhoubare Landbouprogram in die Fakulteit AgriWetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch (US), kombineer wetenskaplike kundigheid met tradisionele kennis met die oog op voedselsekerheid en omgewingsvoordele. Phiri het met Engela Duvenage gesels oor hoe sy en haar span klimaatslim inheemse gewasse verbou.
My oggende begin tipies met ʼn wandeling deur ʼn kweekhuis by die Universiteit Stellenbosch. Ek en my studente gaan die sprinkelstelsel na wat ons Bambara-grondbone van voedingstofverrykte water voorsien.
Ons sʼn is een van die eerste eksperimentele kweekhuisgebaseerde aeroponika-stelsels in ʼn ontwikkelende land waar ʼn inheemse peulplant gekweek word deur ʼn generiese Internet van Dinge-platform in die nastrewing van klimaatslim landbou-opsies te gebruik. My PhD-student, Mosima Mabitsela, het die bewys-van-konsep vir die kweek van Bambara-grondbone in so ʼn stelsel verlede jaar in die Heliyon-vaktydskrif gepubliseer.
In die somerreënvalgebiede van Afrika suid van die Sahara is hierdie vinnig groeiende gewas bekend as tindlubu, ditloo, jugoboon of grondertjie. Dit is ʼn tipe ondergrondse gewas, aangesien die sade (of neute) ondergronds in peule ontwikkel.
Vir my smaak Bambara-grondbone soos ʼn kombinasie van kekerertjies, grondboontjies en gewone boontjies. My ouma, Nciphile Thewa Khumalo, kweek dit in haar tuin, saam met sorghum, patats en inheemse pampoene. Sy sal baie verbaas wees om te sien hoe hulle in ʼn kweekhuis floreer eerder as in iemand se huistuin of op ʼn stuk gemeenskaplike grond.
Ek wou al sedert die ouderdom van 12 ʼn wetenskaplike wees. Ek het in 2002 ʼn BSc-graad in natuur- en omgewingswetenskappe aan die Universiteit van Johannesburg voltooi, gevolg deur ʼn honneursgraad in plantkunde. ʼn PhD in dierkunde, oor varswaterkrappe, het aan die US gevolg.
Ek het sedertdien na my eerste liefde teruggekeer – plante en landbou. As ʼn dosent en navorser in die Volhoubare Landbou-program van die US se Fakulteit AgriWetenskappe bestudeer ek hoe om onderbenutte inheemse Afrika-gewasse (sommige noem dit weesgewasse) soos spinasieagtige imbuya-, tinhlumayo- en marama-bone, asook graansoorte soos imfe en amabele (sorghum) meer kommersieel lewensvatbaar en selfs meer modieus te maak. Ek kombineer wetenskaplike kennis met tradisionele wysheid om samewerking te bevorder en die welstand van mense en die omgewing te verbeter.
Ek glo ons kan die wêreld voed, selfs in ʼn al hoe warmer toekoms, deur meer van die geharde, plaagbestande en klimaatslim gewasse te verbou waarmee tipies in ontwikkelende lande geboer word. Dit sal ons help om na ʼn meer volhoubare, diverse en inklusiewe landboustelsel te beweeg wat plaaslike gemeenskappe en die samelewing bevoordeel.
Hierdie artikel is oorspronklik in Nature gepubliseer.
Foto: Dr Ethel Phiri in die aeroponika-kweekhuis waar sy sorghum verbou.