Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe vennootsakp tussen die Sentrum vir Leertegnologieë en Hoërskool Gordon
Outeur: Dr Sonja Strydom
Gepubliseer: 06/03/2024
​SLT en sy personeellede erken die belangrike rol van sosiale bewustheid en verantwoordelikheid. As deel van ons praktiese bydrae buite die grense van die sentrum, is ons besig met 'n gesamentlike poging met Hoërskool Gordon in Somerset-Wes om van en met mekaar te leer. 

Die bestuur van beide die sentrum en die skool het 'n konstruktiese eerste vergadering gehad waar die gesamentlike verbintenisse in 2024 ondersoek is. Deelnemers van links is Mnr Noel Hendricks (Adjunkhoof GHS); Me Zainab Suliman (Adjunk Direkteur SLT); Dr Jan Petrus Bosman (Direkteur SLT); Me Lizette Visser (Hoof GHS); Me Desiree Titus (Adjunkhoof GHS); Dr Sonja Strydom (Adjunk Direkteur SLT); en Me Lucille Muller (Multimedia Adviseur). 

Hoёrskool Gordon het ontstaan in 1952. In daardie tyd was dit net binne `n kerksaal in Kerkstraat, Somerset-Wes. Die gebou het behoort aan Mnr. Eddie Gordon. Die skool is vernoem na Mnr. Gordon vir sy bydrae tot die bevordering van onderrig en leer in die Helderberg distrik. In 1953 is daar `n opslaangebou opgerig in Victoriastraat, Somerset-Wes, langs die “Garden Village" gemeenskap. 

In Augustus 1990 is besluit om `n nuwe skool te bou langs die N2 in De Beerslaan.  Dit was `n pragtige skoolgebou met 'n groot saal wat vandag bekend staan as die Arthur Dunn Saal. Mnr Arthur Dunn was `n uitmuntende opvoeder wat baie omgegee vir die gemeenskap en dus is die saal na hom vernoem. Vanjaar vier die skool sy 72ste bestaansjaar. 

Huidiglik is daar ongeveer 1300 leerders en 45 opvoeders met 6 nie-doserende lede. In die verlede het Gordon uitgestaan op akademiese, kulturele en sportgebied. Gordon se trompoppies het getoer en op provinsiale en nasionale vlak gekompeteer. Tans lewer ons steeds leerders op wat die Westelike Provinsie verteenwoordig in rugby sowel as atletiek. Ons senior rugbyspanne het al 4 internasionale toere aangepak en is van plan om Namibia in 2025 te besoek. 

Gordon het 'n trotse geskiedenis en baie van ons huidige leerders se ouers was ook in die skool.  Vele  oud-leerders wat afstudeer het, keer terug na Gordon en huidiglik is meer as 70% van die opvoeders oud-leerders van die skool. 

Deur die jare het Gordon baie mediese dokters, skoolhoofde, prokureurs en akademici opgelewer.  Van ons oud-leerders het ook diep spore getrap in die plaaslike gemeenskap en kerk.  Julian Jansen, joernalis by die Rapport, en Dr Alan Boesak is oud-leerders. 

Ons as 'n sentrum sien uit na baie interaksies waar ons gesamentlik ons kennis en begrip kan ontwikkel van die manier waarop ons onderwys vorentoe kan begelei.

(Outeur van die skoolgeskiedenis: Mnr Noel Hendricks)​