- Nuwe navorsingsartikel bevraagteken die idee van 'n stabiele withaaipopulasie.
- In die Wes-Kaap het die aantal withaaiwaarnemings tot minder as 10 per jaar gedaal.
- Bekommerde mariene bioloë doen 'n dringende beroep op owerhede om 'n voorkomende benadering te volg met inagneming van die afname in waarnemings van withaaie by hul historiese konsentrasiepunte.
'n Groep mariene bioloë wat spesialiseer in haai-ekologie, -genetika en visserye het die bevindings van 'n onlangse studie uitgedaag wat te kenne gee dat Suid-Afrika se withaai-populasiegetalle nie afgeneem het nie, maar slegs ooswaarts gevlug en herverspei het om te voorkom dat hul orka-kos word.
In September 2023 is die artikel getiteld: “Decline or shifting distribution? A first regional trend assessment for white sharks (Carcharodon carcharias) in South Africa" in die ooptoegangvaktydskrif Ecological Indicators gepubliseer. Twee artikels in die populêre media het gevolg – een in Nature getiteld: “Orcas blamed for missing great white sharks" en nog een in The Conversation Africa getiteld: “South Africa's great white sharks are changing locations – they need to be monitored for beach safety and conservation".
In 'n repliekartikel getiteld: “Uncertainty remains for white sharks in South Africa, as population stability and redistribution cannot be concluded by Bowlby et al (2023)", wat onlangs in dieselfde vaktydskrif gepubliseer is, belig die groep bekommerde mariene bioloë verskeie probleme met die metodes wat gebruik en die gevolgtrekkings wat in bogenoemde studie gemaak is. Hulle voer aan dat die data, soos wat dit tans geanaliseer en interpreteer word, nie die aansprake ondersteun wat tans oor populasiestabiliteit of herverspreiding van Suid-Afrika se withaaie gemaak word nie.
Dr Enrico Gennari, direkteur van die Oceans Research Institute en hoofouteur, sê hulle voel verplig om hierdie bekommernisse te opper gegewe die impak wat dit op bestuur het: “Indien die withaaipopulasie stabiel is, is daar geen rede tot kommer nie. Indien die afname in die aantal waarnemings van withaaie by plekke wat voorheen konsentrasiepunte was egter inderdaad verteenwoordigend van die populasie is, dán is bewaringsaksie dringend nodig."
Eerstens, met betrekking tot die bewering dat Suid-Afrika se withaaipopulasie ooswaarts migreer het, opper hulle twee besware. Die eerste beswaar het te make met die voorstelling van die twee datastelle in die 2023-studie, en dat jy nie tot die gevolgtrekking kan kom dat 'n toename in die getal haaiwaarnemings in een plek (in hierdie geval Algoabaai) direk vergelykbaar is met 'n afname in haaiwaarnemings in 'n ander plek (soos bv. Valsbaai) nie. “Om dit eenvoudig te stel: 'n afname van kom ons sê 80% van 100 individue by plek A, kan nie dieselfde wees as 'n 80% toename van 10 individue by plek B nie," verduidelik Gennari.
'n Noemenswaardige toename in die aantal haaiwaarnemings in een plek kan aan 'n verskeidenheid redes toegeskryf word, insluitend die gebruik van verbeterde tegnologie soos bv. hommeltuie. 'n 2022-studie het byvoorbeeld 'n 357% styging uitgewys in die gebruik van hommeltuie in die Suid-Afrikaanse ontspanningsvissery sedert 2016. Die vestiging van Mariene Beskermende Gebiede rondom Algoabaai sedert 2004, en die voltooiing van 'n nuwe hawe in 2006, is ander potensiële faktore wat ook tot 'n toename in die aantal withaaie in Algoabaai kon bydra.
Intussen het die aantal withaaiwaarnemings in die Wes-Kaap afgeneem tot minder as 10 per jaar.
“Indien die algehele populasie inderdaad streeksgewys stabiel is en dié wat waargeneem is slegs van Oos na Wes beweeg het, sou mens verwag dat die aantal withaaie in Algoabaai tienvoudig hoër moet wees," skryf hulle.
Tweedens, met betrekking tot die bewering dat die sogenaamde withaaiherverspreiding ooswaarts gedryf is deur haai-etende orkas, wys hulle daarop dat die aanvang van die afname in withaaigetalle in Valsbaai (2012/13), Gansbaai (2013/14) en Mosselbaai (2015), dateer vóór die eerste verskyning van daardie orkas in Valsbaai en Gansbaai in 2015, en in Mosselbaai eers in 2017. Met ander woorde: die beweerde oorsaak kan nie twee jaar láter as die effek daarvan verskyn nie.
“Alhoewel ons saamstem dat orkas waarskynlik 'n invloed op withaaigetalle en -gedrag gehad het, en minstens tydelik van hul historiese saamkomplekke verplaas het, dui die data soos wat dit tans voorgestel word nie daarop dat orkas die primêre drywer is van die afname in withaaigetalle wat in die Wes-Kaap waargeneem word nie," skryf hulle in die artikel.
Dr Sara Andreotti, 'n mariene bioloog in die Departement Plant- en Dierkunde by die Universiteit Stellenbosch en een van die mede-outeurs, sê hulle is bekommerd oor die effek van die narratief op bewaringspogings: “Daar is geen bewyse dat die honderde withaaie wat tien jaar gelede in Valsbaai, Gansbaai en Mosselbaai getel is nou elders aan die Suid-Afrikaanse kuslyn versamel nie. Ons bekommernis is dat ongegronde bewerings van populasiestabiliteit, dringend noodsaaklike bewaringsaksies vir withaaie in gevaarstel," waarsku sy.
Die groep van bekommerde mariene bioloë doen 'n dringende beroep op owerhede soos die Departement Bosbou, Visserye en die Omgewing om 'n voorkomende benadering te volg in die lig van die afname in waarnemings van withaaie by hul historiese konsentrasiepunte, die gevolglike negatiewe impak op Suid-Afrikaanse ekotoerisme-ekonomie, die afname in waarnemings van groot volwasse withaaie – beide in die Wes- en Oos-Kaap, die baie lae genetiese diversiteit van hierdie populasie, die historiese en teenswoordige onvolhoubare vlakke van withaaisterftes aan die hand van die dodelike haaibeheerprogram van die KwaZulu-Natal Haairaad, en die onlangs onthulde withaai-sterftes as gevolg van 'n kus-haai-langlyn-visserypraktyk in Suid-Afrika.
“Ons artikel beklemtoon die belangrikheid van robuuste, deursigtige wetenskaplike ondersoek om bewaringspogings te rig, terwyl dit 'n voorsorgbenadering volg. Dit dien ook as kritieke kontrolepunt wat ons dwing om ons verbintenis tot die bewaring van Suid-Afrika se haaipopulasie te herevalueer en te versterk, gegewe die kardinale rol wat hierdie top-roofdiere speel in mariene ekosisteme en in die ekonomie van Suid-Afrika," sluit hulle af.
- Die groep bekommerde mariene bioloë sluit Dr Enrico Gennari (Oceans Research Institute en die Department Igtiologie en Visserywetenskap by Rhodes Universiteit); Dr Sara Andreotti (Departement Plant- en Dierkunde by die Universiteit Stellenbosch); Dr Neil Hammerschlag (Atlantic Shark Expeditions, Kanada); Chris en Monique Fallows (Apex Shark Expeditions, Kaapstad); en Dr Matias Braccini (Centre for Sustainable Aquatic Ecosystems, Harry Butler Institute, Murdoch University, Australië).
Op die foto bo: Komende vanaf bekende fotograwe Chris en Monique Fallows (ook mede-outeurs van die nuwe artikel): “Hierdie foto is baie spesiaal vir ons omdat dit so 'n besonderse uitbeelding is van wat ons oor die afgelope twee dekades vroegoggend in Valsbaai waargeneem het – die oseaan se mees bekende toproofdier wat die mees skouspelagtige gedrag vertoon in die 60 miljoen jaar wat hulle hier op ons planeet woon. Ongelukkig is die waters van Valsbaai vandag leeg van hierdie ikone." @chrisfallowsphotography
NB: Hierdie foto mag net tesame met hierdie mediaverklaring gebruik word en vir geen ander doeleindes of argivering nie.
Media navrae
Dr Enrico Gennari - e.gennari@oceans-research.com
Dr Sara Andreotti - andreottisara@gmail.com